Is vrees jou vriend of vyand? deur Anet Schoeman
Vrees: Vriend of vyand?
Vrees is ’n noodsaaklike oorlewingsmeganisme wat ons voorsate uit die kloue van wilde diere gehou het. Nuwe uitdagings wat vrees inboesem, leer jou deursettingsvermoë en dapperheid – albei eienskappe wat ons nodig het om voluit te leef.
Tog kan vrees soms soos ’n wegholveldbrand voortstu en jou rasionele denke heeltemal uitwis. Dalk is dit iets soos ’n onskuldige reënspinnekop wat jou die stuipe gee, of daardie oomblik wanneer jou mond so droog soos die Kalahari word as jy ’n paar woorde voor mense moet sê. Die onrealistiese vrese vat kortpad verby jou gesonde verstand en jy voel nie in beheer van die situasie nie.
Dit gebeur ook dat ’n realistiese vrees handuit ruk. Dis aanvaarbaar om senuweeagtig te voel wanneer ’n vliegtuig deur onweerswolke bokspring, maar as jy nie jou kind se troue op ’n ander vasteland kan bywoon nie omdat jy bang is vir vlieg, perk dit jou lewe in.
Lees ook: Oorkom jou vliegvrees
Vrees kan jou aanspoor
“Gebruik vrees as aanmoediging om ’n probleem op te los eerder as ’n verskoning om die probleem te vermy,” sê dr. Lori Eddy van die Suid-Afrikaanse Depressie-en-angsgroep (SADAG).
Vrees is ontwerp om ons teen gevaar te beskerm en in noodsituasies vinniger, sterker en skerper te maak. Dink aan die adrenalienbelaaide veg-of-vlug-reaksie: bloed word na jou hart gestuur wat vinniger klop om meer suurstof by die brein en spiere te kry vir optimale besluitneming en krag. Jou pupille vergroot sodat jy jou aanvaller of ontsnaproete beter kan sien, en jou metabolisme versnel om vet af te breek vir glukose om jou ’n energieskop te gee.
Danksy die reaksies kan jy in noodsituasies vir ’n wilde dier weghardloop, oor heinings spring, of ’n besonder swaar voorwerp optel.
Wat van sport?
Clinton Gahwiler, ’n sportsielkundige by die Suid-Afrikaanse Instituut vir Sportwetenskap, sê vrees kan ’n atleet se prestasie benadeel. “Dis belangrik dat atlete ook hul gedagtes oefen om op die wedrendag die beste te wees. As jy visualiseer en oefen om positief oor ’n kompetisie te voel, sal jou brein ook gedurende die wedren ‘fiks’ wees. In sport is dit meestal die vrees vir mislukking eerder as ’n werklike vrees vir beserings wat atlete kniehalter.
“Probeer eerder op die proses as die uitkoms konsentreer. ’n Swemmer moet byvoor-beeld nie op sy posisie of tyd fokus nie, maar eerder op sy taktiek en die ervaring in die water.”
Dit help ook as jy die vrees “wegpraat”.
Sê vir jouself die skoenlappers in jou maag is vanweë opwinding eerder as senuweeagtigheid sodat jy jou gedagtes in ’n ander, positiewe rigting stuur. Die liggaam se reaksie kan dieselfde wees, maar jou brein interpreteer dit positief.
Vrees kan jou siek maak
Jou liggaam is nie ontwerp om voortdurend in ’n veg-of-vlug-toestand te wees nie, en dit kan op die lange duur gesondheidsprobleme veroorsaak.
Die streshormoon kortisol onderdruk ’n mens se immuunstelsel en verswak ook die senuweepaaie in die brein wat dit moeilik maak om nuwe geheue oor jou vrees te skep – dit spring telkens terug na die herinnering waar die vrees ontstaan het.
In ’n vreessituasie onderdruk die liggaam ook roetine-onderhoud waar kankerselle vernietig word en infeksies afgeweer word.
Dr. Lissa Rankin skryf in haar boek The Fear Cure dat sowat 80% van die pasiënte wat haar by die Sentrum vir Siektebeheer en -Voorkoming spreek, se simptome deur spanning veroorsaak word.
As jy daarby angstig is, is jy meer bewus van hoe jy voel en simptome kan erger word omdat jy heeltyd daarop fokus. As jou immuunstelsel pal onderdruk word, word jy makliker siek.
Spysverteringskanaalprobleme soos maagpyn, hartkloppings en kortasemheid kan simptome van vrees wees.
En as vrees buite beheer raak?
Iemand met ’n oorweldigende vrees vir honde is net so bang vir ’n skoothondjie soos ander mense dalk vir ’n aanstormende leeu is. Die hondjiegevaar is nie werklik nie, maar die vreesreaksie is dieselfde.
“Soms is hierdie vrees gesetel in ’n vorige ervaring wat telkens ’n oordrewe vreesreaksie sneller,” sê dr. Eddy.
“Vrees veroorsaak tonnelvisie sodat jy die bedreiging oorskat. Dit kan die begin van ’n bose kringloop wees waar jy situasies probeer vermy wat jou angstig maak, wat ongelukkig die vrees op die lange duur net groter maak. Mense wat angstig is oor vlieg, maak dit veel erger deur alternatiewe vir vlieg te soek. Die beste is om maniere te kry om die vreessiklus te breek en jou te desensiteer.”
Vrees systap jou kognitiewe brein en jy kan jouself nie oortuig dat dit ongegrond is nie. Vals vrees kan jou siek maak as jy nie weet hoe om dit op ’n gesonde manier te hanteer nie.
Wat kan jy doen?
Konsentreer daarop om stadig en diep asem te haal.
Ontleed die gevaar en besluit of dit werklik ’n bedreiging is.
Kry ’n plan van aksie.
Iets wat jy self of met ’n terapeut kan doen, is sistematiese desensitering. As jy bang is vir spinnekoppe, kan jy ’n vreesvlak identifiseer wat van een tot tien strek. Een vereis dat jy na ’n foto van ’n baie klein spinnekop kyk en tien dat jy ’n tarantula op jou hand hou.
As jy van vlak een na vlak tien probeer spring, gaan dit nooit werk nie. Die meeste mense kon wel hul vrees oorkom toe hulle dit geleidelik gedoen het. Jy sal dalk steeds nie gemaklik wees met die tarantula op jou hand nie, maar jy sal dit wel kan doen.
Dié metode, oftewel kognitiewe gedragsterapie, het goeie uitkomste. In sekere omstandighede sal medikasie bykomend nodig wees. Dr. Eddy sê kognitiewe gedragsterapie is net so doeltreffend soos medikasie en die kans is ook skraler dat jy lateraan gaan terugval.
Wanneer het jy hulp nodig?
Wanneer jou vreesaanvalle gereelder voorkom, baie intens is, die duurte toeneem, dit jou daaglikse lewe versteur en dit ’n vrees is wat jy nie direk aan ’n ding kan koppel nie, moet jy liefs kundige hulp soek.
Vrees bou stadig op
’n Angsaanval is soos ’n drukkoker wat stadig maar seker druk opbou totdat hy uitskiet en stoom afblaas. Mense raak gewoond daaraan om in konstante vrees en spanning te leef en die angs laai stadig op totdat een klein dingetjie – wat dalk nie eens verband hou met die situasie nie – jou oor die grens druk.
Jy verbind dan die situasie met die angsaanval en kan verkeerdelik glo dat dit die aanval gesneller het. Dit kan wees dat jy toevallig op ’n vliegtuig is as dit gebeur en daarna aanvaar dat vlieg die angsaanval veroorsaak het.
Die verskil tussen vrees en angs
Vrees en angs verskil, sê dr. Eddy.
“Vrees het ’n eksterne komponent waar jy vir ’n tasbare ding soos ’n hond bang is. Angs is ’n vae, swewende gevoel wat jy nie kan identifiseer nie, maar ’n eksterne sneller het. Dis moeiliker om jou angs alleen te beheer en dit sal goed wees om ’n terapeut te spreek.”
Vrees is “aansteeklik”
Vrees is “aansteeklik” en gedragspatrone kan van ouers na kinders oorgedra word. Dit kom selfs by diere voor. As ’n hond byvoorbeeld bang is vir donderweer, kan die ander honde ook hierdie vrees aanleer. So kry jy families waar ’n vrees van die een geslag na die ander oorgedra word.
Maak gebalanseerde kinders groot
Kinders het gesonde vrees nodig om hulle teen werklike gevaar te beskerm, maar ouers kan maklik hul eie oordrewe vrese oordra. “Erken aan jou kind dat jy ’n vrees het en moenie dit probeer wegsteek of vermy nie. Praat met hom daaroor en sê hoe jy dit probeer beheer. Dis veral belangrik om jou vrese in die oë te kyk as jy wil seker maak jou kinders word daarsonder groot.”
Vrees by kinders
Jong kinders internaliseer hul vrese en dit kry uiting in maagpyn. Hulle sukkel gewoonlik met skeidingsangs, die donker, monsters, mislukking en verwerping.
Moenie kinders se vrese afmaak as onsin nie. Gesels met hulle daaroor en sê jy verstaan dat hulle bang kan voel. Verduidelik hoekom die vrees nie gegrond is nie en verseker hulle van die teendeel.
“Maar ouers moet daarteen waak om kinders se pad altyd gelyk te wil maak,” sê Lesley-Anne Pedlar, ’n sielkundige van Greenside, Johannesburg. “Studente kom spreek my as hulle letterlik in duie stort wanneer hulle op hul eie moet regkom omdat hulle nooit vrese en probleme te bowe moes kom toe hulle by die huis was nie. Ouers doen hul kinders geen guns deur hulle nie vir die lewe voor te berei nie. Kinders leer wanneer hulle uitdagings oorwin en mislukkings moet verwerk. Dit brei hulle vir die lewe en maak hulle sterk.”
Waar kry jy hulp?
Vra jou huisdokter oor sielkundiges in jou omgewing, of jy kan by die Suid-Afrikaanse Depressie-en-angsgroep (SADAG) aanklop. Besoek die webwerf by sadag.org
Bekendste vrese
Dr. Eddy sê die algemeenste vrese is dié vir vlieg en engtes.
“Engtevrees behels nie net die grootte van die ruimte waarin mense hul bevind nie, maar ook dat jy in die plek vasgevang is. Dis soos iemand wat daagliks agt verdiepings se trappe op- en afklim omdat hy nie die hyser wil gebruik nie.
Mense kan ook ’n vrees vir die beperkte ruimtes van openbare toilette hê.
“Die vrees vir vlieg kan ’n komplekse kombinasie van verskeie vrese wees,” verduidelik Dy Moonsammy, ’n sielkundige. “Eerstens is daar die vrees dat jy kan sterf. Dan moet jy maar beheer oorgee en jou vertroue in ’n mensgemaakte ding plaas, al voel dit nie logies dat ’n swaar vliegtuig in die lug kan bly nie. Boonop is jy in ’n beknopte ruimte vol kieme waaruit jy nie kan ontsnap nie.
“Hoewel die ruimte in ’n taxi kleiner as in ’n vliegtuig is, voel mense hulle kan stop en uitklim, maar in ’n vliegtuig is jy vasgevang.
“Kajuitpersoneel word spesifiek opgelei om bedag te wees op simptome vir vliegvrees. Mense gryp na alkohol om hul senuwees te kalmeer en later sit hulle met ’n aggressiewe passasier wat beheer verloor.”
Boonop is die hele proses wat ’n vlug voorafgaan spanningsvol. Die pakkery, jou werk wat moet klaar wees, die verkeer op pad lughawe toe, die gesukkel met parkering, dan moet jy by die regte plek aanmeld en deur sekuriteit gaan. Alles potensiële snellers vir paniek.
“Probeer jou reis goed beplan sodat jy kalm kan voel. Visualiseer dinge voor die tyd en gebruik logika om jou te oortuig dat vliegongelukke nie algemeen voorkom nie.”