Enige ma wat al ‘n goth in die huis gehad het, moes haar verhouding met swart herdefinieer. Swart was nie meer primêr verbind met haar sexyste rokkie nie, maar met sekere mense se hare, lippe en naels. Dis nogal lekker om te weet jy en jou kinders is heelhuids deur dáárdie tyd.
Tog kan ek my die wêreld kwalik sonder swart voorstel. By elegante geleenthede let ek altyd op hoeveel vroue swart dra. Dis so ‘n vanselfsprekende keuse dat ek verbaas was om te lees dat swart dit nie in elke geskiedkundige tydperk gemaak het nie. Dán was dit in, dán was dit uit.
As jy in antieke Rome geleef het, het jy net swart gedra as jy ‘n vakman was. Jy het die keiser (uitgedos in pers), die soldate (opvallend in rooi) en die priesters (in lelieblanke wit) tien teen een beny.
Gedurende die Middeleeue het die adel helder kleure verkies, waarskynlik omdat swart materiaalkleursel nog nie van ‘n hoë kwaliteit was nie. Toe dié tegnologie in die 14e eeu beskikbaar word, het die regeringsamptenare en ryk sakelui in ‘n ommesientjie ‘n voorkeur vir swart gewade ontwikkel. Die koninklikes het gou hierby ingeval.
In die jare vyftig het swart ‘n simbool van individualiteit, intellek en sosiale rebellie geword. Wie kan ooit vir James Dean in ‘n swart leerbaadjie vergeet?
En ‘n paar dekades tevore het Coco Chanel gesê: “’n Vrou het drie dinge nodig. ‘n Swart rokkie, ‘n swart truitjie, en ‘n man oor wie sy gek is aan haar sy.”
Natuurlik het ek gewonder of swart regtig ‘n kleur is. Dit is! Ek het dit op goeie gesag. Toe iemand die kunstenaar Auguste Renoir inlig dat swart nie ‘n kleur is nie, het hy gesê: “Wat laat jou so dink? Swart is die koningin van kleure.”
Hoe lyk dit met ‘n eksperiment? Ek gaan nou in my swart denim by die swarthouttafel sit en ‘n stukkie swartsjokolade saam met my swart koffie geniet. Swart is mos swart is mos swart, dan nie?
Nee wat; ek loop net gevaar om ‘n trotse kleur swart te smeer. Ek blaas liewer die aftog voor hier ‘n swart kat verbykom…