Deur Mariette Snyman
Hoe het die pandemie onderwysers beïnvloed? Watter uitdagings ervaar hulle op die oomblik? Bewustheid, veral onder ouers, kan tot ’n gesonder omgewing lei.
Menige ouer wat tydens grendeltyd die rol van ’n onderwyser moes aanneem, het skertsenderwys gesê die skole beter heropen voor hulle iets onverantwoordeliks aanvang. Gelukkig lê daardie dae in die verlede, maar die vraag is of alles met ons onderwysers wel is.
“Ek sien by talle geleenthede waar ek onderwysers oplei hoe die afgelope paar jaar letsels veroorsaak het,” sê dr Melodie de Jager, ’n ontwikkelingspesialis van Johannesburg. “Baie is op die rand van uitbranding of ervaar dit reeds, nie net weens die ontwrigting van die pandemie nie, maar as gevolg van groter uitdagings in die klaskamer, boeliegedrag, omgee-uitputting en ’n gebrek aan ondersteuning en erkenning.
“Elke ouer wat die beste vir hul kind begeer, het ’n besliste belang by die welsyn van sy of haar onderwysers. Die funksie van spieëlneurone bevestig dié stelling. Wanneer iemand met wie ons gesels spontaan gaap, gaap ons baie keer self kort daarna. Ons is gerat om mekaar se onderbewuste te lees, en as ‘kuddediere’ volg ons die leier in ons onmiddellike omgewing na.
“In die klaskamer is dit gewoonlik die onderwyser. Wanneer hy of sy goed voel en genoeg energie het om die nodige take te verrig, kry ons kinders se geluk én vordering daagliks ’n hupstoot. Dis presies wat ons wil hê.
“Hoewel alle onderwysers deur die pandemie geraak is en steeds voor reuse-uitdagings staan, wil ek die grondslagfase gebruik om te illustreer wat skoolhou van onderwysers vereis. Ouers mag hul eie ervaring in die beskrywing van dié uiteenlopende verantwoordelikhede eien!
“Grondslagfase-onderwysers werk met kinders van graad R tot en met die einde van graad 3. Hulle moet jillende, woelige, entoesiastiese kleintjies binne drie jaar help omskep in kinders wat kan stilsit, luister, lees en skryf. Om te kan vorder, moet kinders leergereed wees –gereed vir ervarings, take en vaardighede wat by hul ouderdom pas. Hulle moet ook skoolgereed wees: gereed vir abstrakte, simboliese leer. Leer behels nie net die brein nie, maar die hele liggaam. Beweging speel ’n deurslaggewende rol en word dikwels onderskat,” sê sy.
Dr Melodie sê ten opsigte van leer- en skoolgereedheid en ook op ander gebiede, soos sosiale ontwikkeling, het die pandemie ernstige agterstande veroorsaak wat dit beduidend moeiliker maak om leeruitkomstes te bereik.
“Wanneer kinders outomaties na ’n volgende graad bevorder word, het dit nie net ’n ingrypende invloed op die betrokke kinders se skoolprestasie nie, maar lei dit tot veel groter uitdagings in die klaskamer.
“Jong kinders vereis baie meer as slegs akademiese begeleiding. Grondslagfase-onderwysers bring dikwels meer tyd met ’n kind deur as die kind se ouers, en moet die energie hê om daglank verstandig, geduldig en met empatie op te tree.
“Hulle moet oplet na uitvalle soos probleme met spraak, gehoor en sig asook leer- en emosionele probleme en agterstande in motoriese ontwikkelings. Word ’n kind siek of beseer, moet hulle besluit wat om te doen. Hulle rig sport af, bedink en hanteer fondsinsamelings en hou konsert, wat alles van toneelafrigting tot die verf van agtergronddoeke kan behels.
“Ongelukkig ervaar onderwysers boeliegedrag uit verskeie oorde. Die onderwysdepartement vereis dat die kurrikulum gedek word, ten spyte van die ernstige ontwrigting en verlies aan onderrigtyd wat die pandemie veroorsaak het. Baie leerders het hul geroetineerdheid, leerfiksheid of motivering verloor en is rebels of traak-my-nieagtig. Druk word uitgeoefen deur beheerliggame wat moet toesien dat daar aan departementele vereistes voldoen word. Ouers voel hulle betaal skoolfonds en verwag by tye dat onderwysers die onmoontlike moet vermag. Die pandemie het die verhouding tussen onderwyser en kind geskaad en daar is gevalle van kinders van so jonk as vyf jaar wat onderwysers probeer intimideer.”
Omgee-uitputting en ’n gebrek aan erkenning
Dr Melodie vertel dat passievolle onderwysers omgee-uitputting of compassion fatigue beleef wanneer ’n kind in hul klas swaarkry.
“Hulle gee om vir kinders en word geraak as hulle sukkel om die mas akademies of sosiaal op te kom, geboelie word of angstig of depressief is. Dit geld ook vir siekte, dood, verhoudingsprobleme, middelmisbruik of finansiële nood in die ouerhuis. Spieëlneurone werk in twee rigtings.
“Ten spyte van dié uitdagings word daar van onderwysers verwag om hul werk deeglik en met ’n glimlag te doen. Vir vermoeidheid, apatie, hopeloosheid en ander tekens van uitbranding is daar nie plek nie,” verduidelik sy.
“Daar is min begrip vir kwessies soos onderwysers wat in twee geskeur is omdat hulle voel wanneer hulle slegs die vakinhoud onderrig, verloor hulle die kinders, en wanneer hulle tyd afstaan aan kwessies wat die kinders persoonlik raak, bly daar te min tyd oor om die vakinhoud te dek.”
Dr Melodie voel voorts dat onderwysers oneindig baie van hulself gee.
“Nes elkeen van ons moet hulle ontvang om te kan gee. As ons in ag neem dat swak vordering op skool ’n kind se eiewaarde, waagmoed, verhoudings, toekomstige werksgeleenthede en ander fasette lewenslank kan benadeel, is dit noodsaaklik om onderwysers se arms te versterk sodat hulle die kinders in hul sorg volledig kan ondersteun.
“Erkenning – ’n eenvoudige ‘dankie’ – kan ’n geweldige verskil maak. Nie net aan die einde van die jaar nie, maar gereeld! Ouers kan ook moeite doen om respek en waardering vir onderwysers by hul kinders aan te wakker,” vertel sy.
“Ons het (nóg) nie hologramonderwysers in die klas nie – dis mense van vlees en bloed. Ons moet maniere vind om uitbranding te voorkom en onderwysers wat reeds daaraan ly, te help herstel – ter wille van ons kinders, maar ook ter wille van dié mense wat hul beroepslewe aan geslagte van kinders toewy.”
Dr Melodie de Jager is die stigter van onder meer die Mind Moves Institute: www.mindmoves.co.za
Wat is omgee-uitputting?
“Uitbranding en compassion fatigue verskil,” sê dr Etienne van der Walt. “Omgee-uitputting hou spesifiek verband met die konteks waarin jy werk. Individue wat met mense werk – veral dié wat gereeld na mense omsien wat swaarkry – kan omgeevoosheid ontwikkel. Hulle raak onder meer vermoeid, emosioneel verwyder van die mense en kwessies waarmee hulle werk, en lewer verminderde uitsette. Gelukkig kan hulle vinniger herstel as mense wat aan uitbranding ly.”
Lees ook: Is jy dalk uitgebrand? Toets jouself