Is jy regtig gereed om te trou? deur Mariette Snyman. Hooffoto: Pexels
Tyd om te trou?
Waarom trou mense?
Wat motiveer dié wat gereed is, en waarom skram ander weg?
En wat kan paartjies doen om struikelblokke vir huweliksgeluk uit die weg te ruim?
“Ek wil dit sommer dadelik duidelik stel: elke paartjie is uniek. Jy kan mense nie in ’n boks druk nie. Elkeen het ’n eie geskiedenis, ervarings en behoeftes.” Só sê Judy Stuart, voorhuwelikse en huweliksverrykingberader wat by die Family Life Centre in Johannesburg betrokke is.
“As ek terugkyk na vriende wat nes ek en my man sowat vyftig jaar gelede getroud is, sien ek hoe onvoorspelbaar huweliksukses is. Sommiges was oortuig daarvan dat hulle vir ewig gelukkig sou wees, en hulle was nie. Ander het weer vir ander onversoenbaar gelyk maar hulle is steeds saam. Teorieë oor wat werk, is lank nie ‘evangelie’ nie.”
Sedert ons grootjies se tyd het die wêreld ingrypend verander. Waar die huwelik voorheen in talle gemeenskappe as die enigste langtermynverhoudingsopsie gesien is, woon al meer mense deesdae saam.
“Mense verwag nie dat verhoudings soos vriendskappe vir ewig sal duur nie. ’n Huwelik is ’n ander saak – dit verbind die partye wetlik aan mekaar. Oor die algemeen geld die openbare verklaring wat ’n paartjie maak om die res van hul lewe met hul maat te deel, steeds as die ultimate level of commitment.
“Kyk maar hoe verskil mense se reaksie wanneer ’n paartjie sê hulle woon twee jaar saam, en wanneer ’n paartjie twee jaar lank getroud is; of wanneer jy iemand voorstel as ‘my vrou’ teenoor ‘my vriendin’. Dis wel ’n geval van sielkundige etikettering, maar dit wys hoeveel gewig die huwelikseremonie dra. Dis vir talle mense belangrik om te weet die ander een voel sterk genoeg oor ’n gesamentlike toekoms dat hulle bereid is om met mekaar te trou. En in ’n godsdienstige konteks gaan dit om die maak van ’n belofte voor God.
“Aan die ander kant glo baie mense eerlikwaar nie meer aan die huwelik nie. Hulle kan dalk diepgewortelde waardes hê, maar is spiritueel eerder as godsdienstig ingestel, of heg minder waarde aan kultuurtradisies.”
Lees ook: 5 dinge wat niemand jou vertel voordat jy trou nie
Kom ons trou!
“Mense wat wil trou, word gewoonlik deur positiewe verwagtings aangevuur. Daar is dikwels ’n onwrikbare oortuiging dat die huwelik iets is wat hulle begeer en dat dit sal werk. Hulle beskou dit as ’n stewige basis om die oppe en awwe van die lewe die hoof te bied, op gesamentlike ideale te fokus en moontlik kinders groot te maak.
“Troulustiges glo hulle het die regte maat gekies. Hulle het volle vertroue in die verhouding en kan klaar sien hoe hulle saam ouer word. Hulle vertrou dat hul maat kameraadskap en versorging sal bied, en die kans sal verminder dat hulle alleen oud gaan word.
“Praktiese oorwegings, soos dat lewenskoste gedeel word, kan ’n rol speel. Dalk wil hulle ’n kind hê, emigreer, of is daar loopbaan-, kulturele of wetlike redes. Hulle kan ook deur persoonlike vrese gemotiveer word. Soms is daar onsekerheid oor hul eiewaarde of oor die verhouding. Hulle is bang as hulle nie trou nie, verloor hulle hul maat. Hulle reken die ‘algehele verbintenis’ sal hul maat dwing om struikelblokke met wilskrag te oorkom. Hulle kan so gefokus wees op ’n huweliksverbintenis dat hulle vir hul maat ’n slagyster stel, soos om swanger te raak.
“Eie onsekerhede kan iemand blind maak vir rooi ligte in ’n verhouding, soos hul maat se alkoholmisbruik.”
Lees ook: “Hoekom is jy nog nie getroud nie?” – en ander vrae waarmee enkellopendes moet worstel
Wag eers …
“Ek sien dikwels dat die een druk op die ander plaas om te trou, terwyl die ander een wal gooi.
“Trouweerstandiges beskou nie ’n huwelik as noodsaaklik nie, veral omdat dit nie meer ’n voorwaarde vir ’n seksuele verhouding is nie. Hul sosiale kring aanvaar dalk saamwoonverhoudings. Dis vir hulle onnodig om met ’n huweliksertifikaat te ‘bewys’ dat die verhouding gaan hou. Hulle is tevrede met die toedrag van sake en voel in beheer.
“Die onwilligheid om te trou, veral wanneer die ander een daarop aandring, spruit baie keer uit vrees – veral die vrees vir mislukking. Daar is onsekerheid oor die vermoë om hul lewenslank te verbind en met so ’n intense verhouding te cope, selfs wanneer hul eie ouers gelukkig getroud was. Daar word soveel van ’n eggenoot verwag: kameraadskap, versorging, intimiteit op verskillende vlakke, advies en die deel van take en geldsake. Die blote gedagte aan ouerskap is vir baie mense angswekkend – wanneer jy trou, betree jy werklik die volwasse wêreld.
“Daar kan kommer wees oor persoonlikheidsverskille of verskille rakende finansiële bestuur, vryetydsbesteding, belangstellings, spirituele oortuigings, kulturele beskouings en meer.
“Mense wat vasskop teen troukoors het meestal ’n slegte ervaring in hul gesin van herkoms of met iemand anders gehad. Dalk het hulle ook ’n bitter egskeiding beleef en besluit om dit ‘nooit weer aan hulself te doen nie’.
Vir baie mense kleef daar nie soveel stigma aan ’n gebroke verhouding as ’n egskeiding nie.
Nog ’n faktor is die vrees dat ’n huwelik hul vryheid sal inperk. ’n Stap in die rigting van die eg is één stap te veel.”
Lees ook: 10 dinge waaroor elke paartjie moet praat vir ’n gesonder verhouding
Die werklikheidstoets
Sowat 360 paartjies het Judy die afgelope 17 jaar vir voorhuwelikse berading gespreek.
“Elkeen is anders en ek leer ongelooflik baie. Maar my ervaring is dat paartjies letterlik die werklikheid ingesleep moet word om van die spreekwoordelike rooskleurige bril ontslae te raak. Hulle moet kennis neem van die uitdagings wat waarskynlik op hulle wag, soos werk, skoonfamilie en babas.
“Hoewel die beradingsproses nie ’n waarborg is dat mense getroud sal bly nie, lê dit wel ’n stewige basis vir die huwelik. Die paartjies leer meer oor hul onderskeie agtergronde en ondersoek kwessies soos kommunikasiestyle, konflikhanteringspatrone, geldbestuur, die hantering van digitale kommunikasie, godsdiensbeskouings en meer. Dit skep ’n sterk gevoel van beheer oor hul verhouding en die toekoms.
“My benadering is regtig prakties – dis nie ‘hoe voel jy?’-terapie nie. Baie mans is aanvanklik ongemaklik omdat dit ’n vrou is wat hulle hierheen gesleep het! Ek vra dat hulle my een sessie gun en dan kyk of hulle wil voortgaan.
“Dis wonderlik om te beleef dat mense actually oor hulself praat. Respek skep die ruimte vir die ontwikkeling van vertroue. Voorhuwelikse berading sorg ook vir ’n basis vir huweliksterapie indien dit later nodig sou word. Die vrees vir blootstelling verdwyn.
“Ons praat byvoorbeeld oor hoe om verskille tussen maats te bestuur. Dis baie keer waar dat teenoorgesteldes mekaar aantrek, maar in ’n stadium word die ‘oulike andersheid’ frustrerend. Gestel die man is ’n introvert en die vrou uitgaande, kan sy aanvanklik gek wees na sy stil bedagsaamheid terwyl hy haar sosiale gemaklikheid geniet. Kort voor lank wil sy weet of hy niks het om te sê nie, terwyl hy wonder of sy eenvoudig nooit stilbly nie! Die verskille moet net in perspektief gestel word sodat hulle verstaan dis ’n gawe pleks van ’n vloek. Die voorhuwelikse program leer hulle hoe.
Die program is ingestel op paartjies met kinders, sonder kinders, tweede huwelike, mense bo vyftig, paartjies met onopgeloste kwessies, of mense wat net hul verhouding wil verryk – ’n hele verskeidenheid.
“’n Belangrike aspek is dat verhoudingsmaats moet onthou om mekaar te geniet en baie te lag. Pret is noodsaaklik! Boonop is die beste geskenk vir ’n toekomstige kroos ’n geborge tuiste en ’n betrokke, gelukkige pa en ma.
“Dis nie my rol om aan te dui of ’n paartjie gereed is om te trou of nie. As daar groot kwessies is, beveel ek aan dat hulle met die troue wag en dan werk ons daaraan.
“Ons het almal uiteindelik dieselfde begeertes – of ons getroud is, wil trou, of ’n ander verhoudingsopsie kies – ons wil liefgehê en begryp word, veilig in die verhouding voel en weet dat die ander een ons nodig het.”
Judy Stuart: www.marriageprep.co.za
Bel die Family Life Centre by 011 788 4784 vir verwysings na FAMSA-beraders landwyd
Vir nog goeie verhoudingsraad, loer hier.
Een paartjie vertel: Ná dertien jaar
Deon* moes sweet om Letitia* sover te kry om te trou, maar as jy die twee saam sien, weet jy hulle is al twintig jaar lank besonder gelukkig getroud. Hulle het mekaar op universiteit ontmoet toe Letitia ’n honneursstudent was en Deon, drie jaar jonger, voorgraads. Een aand in die kerk het Letitia Deon se oog gevang “in haar rooi pakkie langs haar ma. Toe ek weer sien, skuif ek langs haar in”.
“En my ma gooi vir my hierdie oë,” lag Letitia.
Deon was maar skaam en het sy verliefdheid vir homself gehou, maar gou was hulle onafskeidbaar. “Letitia het die lewe probeer uitfigure en dit het my gefassineer.”
Letitia het met groot lewensvrae geworstel: “Een van my vriendinne het verongeluk, ’n ander het haar lewe geneem. Ek wou nie eens dink aan trou voor ek van alles kon sin maak nie. Ek het buitendien gesteier voor die verantwoordelikheid daarvan.”
Letitia het vroeg al gesê Deon moenie deure vir haar oopmaak nie – sy wou sy gelyke wees. “En van soentjies of handjies vashou was daar geen sprake nie.”
Toe Deon besig was met honneurs en Letitia met haar meestersgraad, het hy op ’n aand wat hy ’n ander geselligheid wou ontglip, voorgestel dat hulle kamtig verloof raak. “Dit was my eerste poging om haar my girlfriend te maak, maar sy het dit as ’n grap gesien en toe kon ek nie erken ek was ernstig nie!”
Deon is weermag toe en Letitia wou steeds nie ’n verhouding hê nie, “maar sy eerste brief was so vrek snaaks dat ek nie kon help om dadelik terug te skryf nie. Wanneer hy pas gekry het, het hy kom kuier.”
Ná Deon se weermagopleiding het hulle saam in Letitia se meenthuis ingetrek. Sy het skoolgehou en aan haar doktorsgraad gewerk; Deon het begin werk en was besig met ’n MBA. Deon sê hy “het wel bymotiewe met die saamblyery gehad, maar daar was steeds geen fisieke verhouding nie. Agterna het ek gehoor die blyery onder een dak het my ma geleer om intensief te bid! Letitia se ouers het geweet dis net ’n kameraadskaplike verhouding.”
In ’n stadium het Deon gevoel hy wou ’n lewensmaat hê en nie net vriendskap nie. “En ek het net een model aanvaar – om in die kerk te trou. Ek het uitgetrek, maar binne drie weke het ons weer gekuier. ’n Jaar later het ek teruggetrek en die jaar daarop het ons saam huis gekoop. Ons wou die res van ons lewe saam wees. Dit was steeds net ’n emosionele verhouding maar ek wou dit nie prysgee nie.”
Een aand het Deon in ’n meningsverskil Letitia daarop gewys dat hy haar belange nog altyd voorop gestel het. ’n Lig het vir haar opgegaan. “Teen daardie tyd het ek geweet wie ek is en waarvoor ek staan. Ek was eindelik gereed. Ek het Deon gevra of sy huweliksaanbod nog staan. Dit het hom soos ’n weerligstraal getref!”
Drie weke later is hulle in die huis getroud waar Letitia se pa terminaal siek was. “Daar was nie ’n enkele droë oog nie.”
Deon en Letitia glo daaraan om “die finansiële aflosstokkie aan te gee”: Deon het die fort gehou terwyl Letitia ’n private praktyk op die been gebring het, en toe hulle ’n ruk oorsee gewoon het, was Letitia die een met die stabiele inkomste. Hul huwelik het siektes, familiekrisisse en ’n rits ander uitdagings oorleef.
“Ek is so bly Deon het begrip gehad vir die jare wat dit geneem het om myself te vind,” sê Letitia. “En toe kry ek ’n volledig onafhanklike partner, nie ’n pakkie met ’n apie op my rug nie,” skerts Deon. Dis duidelik dat die lang wag vir dié twee die moeite werd was.
*skuilname