Is jy bang om veertig te word? Moenie wees nie! deur Ilse Salzwedel. Hierdie artikel het oorspronklik in Mei 2016 in rooi rose verskyn.
40: Fantasties of verskriklik?
Toe my oorlede ma veertig geword het, was ek maar ses jaar oud – te klein om te besef dat dit dalk vir haar ’n mylpaal-verjaarsdag was.
Was sy bang vir ouer word? Ek weet nie, en ongelukkig het ek nooit gevra voor sy dood is nie. Maar as ek terugdink aan haar, raai ek dat sy te besig was met die harde werk van oorleef. Daar was vier kinders om groot te maak, ’n huishouding om aan die gang te hou sonder hulp, ’n man om tevrede te stel en ’n lewe om uit te pluis aan die hand van die Bybel, die Huisgenoot en die radio, destyds die vernaamste bronne van inligting.
Met my eie veertigste verjaarsdag was ek ook te besig om te veel daaroor te tob. My lewe was wel anders as my ma s’n: ek was ’n geskeide enkelouer met ’n loopbaan, en as ek moet eerlik wees, was ek mateloos verlig dat ek dit in een stuk tot by veertig gemaak het. Boonop leef ons in ’n era waar ons deur hope inligting gebombardeer word: tydskrifte, televisie, Internet, sosiale media.
Ironies genoeg maak die baie inligting nie noodwendig ons lewe makliker nie, want nou is daar soveel meer kenners en menings om jou aan te steur. (En soveel meer bekendes en beroemdes wat fantasties lyk en wonderlike goed aanvang op vyftig, sestig en selfs sewentig!)
Nou is ek amper 47 en vyftig wink guitig om die hoek. My kinders is ouer, my lewe meer uitgepluis. Vrees ek vyftig? Nie so dat jy dit sal agterkom nie. Daar is bloot nie tyd om oor iets soos ouderdom te tob nie, en in jou veertigerjare leer jy gelukkig ’n klomp waardevolle lesse. Soos: Jy is baie sterker as wat jy kon dink! Dink mooi oor wat jy al alles oorleef het en daagliks moet trotseer. Of dit nou egskeiding, ernstige siekte, finansiële probleme of ’n geliefde se dood is, klop jouself op die skouer. Sou jy as twintig- of dertigjarige selfs net kon dink dat jy so iets sou kon verwerk en hanteer?
Jy is slimmer as wat jy gedink het! Of jy nou ’n beroepsvrou of ’n tuisblyma is, kyk ’n slag ernstig na dit wat jy al alles bemeester het. (En skilferkorsdeeg tel net soveel as om jou beleggingsporte-feulje te verstaan.) Elke dag leer jy iets by, en met elke jaar wat verbytik, word jy wyser. En ja, jy is beslis slimmer as wat jou tieners jou wil laat glo!
Jy het keuses, ook as dit by geluk kom. Wanneer ’n mens jonger is, voel jy dikwels vasgevang in jou lewe, werk of huwelik. In jou veertigs besef jy op ’n dag dat nét jy iets aan die situasie kan verander – niemand anders nie. Saam met die ouderdom kry jy gelukkig ook meer insig, moed en selfvertroue om dit te verander waaraan jy wel nog iets kan doen. (En hopelik ook die wysheid en die geduld om die res te aanvaar.)
Hoe ouer ek word, hoe meer besef ek jy ignoreer jou intuïsie op eie risiko
Jy mag nee sê, en jy mag sê wat jy dink. Niemand hou van ’n skeermestong nie. Maar in my veertigs het ek geleer dat die aarde nie van sy as af ruk as jy jou mening uitspreek of soms weier nie. Die liewe Heer het jou tog uniek gemaak, met ’n eie wil en ’n eie persoonlik-heid. Respekteer jouself genoeg om jou eie mens te wees en te doen wat jou werklik gelukkig maak, nie wat mense van jou verwag nie. Luister na jou instinkte. Wanneer jy jonger is, vertrou jy nie sommer jou binnestem nie. Wat as jy verkeerd of onregverdig is? Maar hoe ouer ek word, hoe meer besef ek dat ’n mens jou intuïsie op eie risiko ignoreer. Dalk is dit omdat ’n mens nou al ’n paar stelle afgetrap het en kosbare lesse geleer het, of dalk net omdat jy nie meer teen die waansinnige spoed van jou dertigs leef nie en soms wel vir ’n oomblik stilstaan en na jouself luister. Wat ook al die rede: leer om na jou hart te luister.
Almal om jou sukkel met iets, selfs al lyk hulle lewens perfek. Elkeen van ons beleef ’n stadium waarin ons kompeteer met ons vriende of kollegas. Ná genoeg stampe en stote besef jy hoe futiel en simpel dit is. In jou veertigs besef jy gelukkig ook dat mense om jou dikwels ’n perfekte prentjie probeer voorhou (dink maar aan hul facebook-status). Maar net soos jy, stry hulle teen onsekerhede en probleme wat soms dreig om hulle te oorweldig. Een van die waardevolste lesse wat my veertigs my geleer het, is om met sagter oë na die wêreld te kyk.
Leer om vir jouself te lag! Skat, jy gaan dit nodig kry! In jou veertigs begin goeters hang, en ek praat nie net van borste en boude nie. Jou brein “hang” ook soms, en jy drink een aand ingedagte die pil wat jy vir die jongste moes gee. Of een oggend kyk jy af na jou stewels en besef in jou haas het jy een donkerbruin en een swart een aangetrek. Jou oë raak slegter, en jou lyf swaarder, maar alles is meer hanteerbaar as jy jouself nie te ernstig opneem nie.
Jy mag maar vra as jy nie weet nie, en delegeer is nie ’n vloekwoord nie. Hoekom aansukkel met iets as iemand wat weet kan help? Ja, jy weet meer as twintig jaar gelede, maar jy weet nog nie alles nie, en jy kan jouself eindelose frustrasie en baie tyd spaar deur hulp of raad te vra. Gebruik die tyd en energie wat jy spaar vir iets lekkerder!
Minder is meer. Die meeste mense wat ek ken, begin iewers in hulle veertigs besef dat ons gans te veel goed om ons vergaar. Van aardse goed tot emosionele bagasie. Nes te veel goeters in jou huis, steel onsekerhede, vrese, wrokke, negatiewe mense en toksiese verhoudings kosbare plek en energie wat jy eerder kan gebruik vir iets of iemand wat jou lewe werklik verryk.
Elke mens stap sy eie paadjie op sy eie manier. Wanneer jy jonger is, is jy meer geneig om te dink jy doen iets verkeerd omdat jou lewe anders lyk en verloop as dié van mense om jou. Maar daar is genadiglik nie ’n handboek wat sê wanneer ons wat moet doen nie.
Die vrese en vrede van veertig
’n Vriendin wat onlangs veertig geword het, voel steeds 25. “Ek weet nie hoe jy veronderstel is om op veertig te voel nie. Ek wil elke dag met oorgawe leef, my man waardeer, my tuin geniet, lees en dankbaar wees vir genade. En my werk geniet en my MBA voltooi.”
Lyk sy vir haarself veertig? “Ek het geen idee nie. Wat is die maatstaf? Wanneer begin ’n mens plooie en grys hare tel?”
Sy voel tog anders oor haarself as toe sy jonger was.
“My ingesteldheid teenoor die lewe het verander. Ek het ’n groter besef van dankbaarheid, maar dalk het dit meer te doen met die feit dat ek my ma sien ouer word, as wat dit te doen het met my ouer word. Ek glo elke fase van die lewe bring sy eie hoogtepunte, en wie ek was in elkeen van daardie fases, het die mens help vorm wat ek nou is.”
Maar nie almal voel so oor veertig nie. Vir nog ’n vriendin is veertig taamlik intimiderend. “Dis die gróót verjaarsdag, groter as 21 of sestig. Dit dui die middelpunt van jou lewe aan. Dit dwing jou om te dink aan wat jy al vermag het en waarheen jy op pad is. Is wat jy doen, goed genoeg? Jy het net een lewe, doen jy daarmee wat jy veronderstel is om te doen?”
Sy gee toe dat haar siening van veertig dalk in ’n mate te doen het met die druk van ander mense se verwagtinge van hoe ’n lewe op veertig moet lyk, maar voel tog haar eie verwagtinge speel ook ’n groot rol.
Voel sy veertig? “Nee, fisiek of emosioneel voel ek nie veertig nie. Ek weet my pa, wat onlangs sewentig geword het, sê gereeld hy voel of hy nog jonk moet wees. Ek dink die meeste mense voel nie so oud soos as wat hulle werklik is nie. Ek sien wel fisieke veranderinge aan my lyf wat my daaraan herinner dat ek nie meer ’n tiener is nie.”
Die spieël herinner almal van ons gereeld daaraan dat ons nie meer tieners is nie, en sy ervaar dit ook. “My vel voel dunner as vyf jaar gelede, nie meer so lekker plomp en sag nie. Ek sit vinniger gewig aan en sukkel meer om dit te verloor. En ek het opgelet dat mans ’n mens nie meer raaksien ná 35 nie. Jy raak amper deursigtig.”
Maar die ouderdom bring tog wysheid en insig. “Ek dink ’n mens leer om vrede te maak met van die dinge waaroor jy vroeër dalk nie so gelukkig was nie. Jy besef dat sekere goed nie gaan verander nie – dis hoe jy is en basta.
“Ek het ook geleer om my minder te steur aan wat ander mense van my dink, en dis nogal bevrydend. Dis asof ’n mens se ambisie ook effens afneem, wat nie noodwendig sleg is nie. Daardie vreeslik gejaag na sukses wat jou in jou twintigs en dertigs nagte lank wakker gehou het, is aansienlik minder.”
Wat is vir haar die moeilikste van ouer word? “Ek dink ek is minder optimisties en raak nie so maklik opgewonde oor goed soos voorheen nie, wat jammer is. Ek dink jy raak gewoond aan hoe die lewe jou behandel en verval in ’n groef, en dit raak moeiliker om nuwe dinge te probeer of om goed te verander wat jou die nodige vars perspektief op ’n situasie kan gee.”
Is sestig die nuwe veertig?
As veertig nog jou keel laat toetrek van angs, verander jou perspektief. Volgens ’n groep Amerikaanse navorsers aan die Stony Brook-universiteit, is sestig eintlik die nuwe middeljarig. Nie vyftig nie en beslis nie veertig nie.
“Ouderdom kan gemeet word aan die tyd wat ons reeds geleef het, of ’n mens kan dink aan die tyd wat oor is om te leef. Tweehonderd jaar gelede is ’n sestigjarige gesien as baie oud,” meen Sergei Scherbov, hoofnavorser van die studie. Die rede is eenvoudig: weens allerhande peste, plae, hongersnood, oorloë en ander faktore, het bitter min mense twee eeue gelede ouer as veertig geword.
Danksy dinge soos gevorderde mediese kennis en tegnologie, genoeg kos en ’n hoër vlak van sosiale ontwikkeling, word die gemiddelde Amerikaner deesdae 78,8 jaar oud. Wat beteken die doelpale skuif as dit by die definisie van middeljarig én oud kom. Scherbov meen ons siening van oud sal in die toekoms nog meer verander omdat mense al hoe langer leef.