Versorg deur Mariette Snyman. Foto: Unsplash
Sensoriese ervaring is noodsaaklik
Die woord “sensories” is afgelei van “sintuie” en is verbind aan die woord “sensitief”. Die sintuie is die poort tot die brein. Dit maak die brein nuuskierig, wat weer die spiere aanmoedig om te ontwikkel en jou baba en peuter motiveer om sy omgewing te ondersoek. Dis nodig vir ’n baba om “sensories” te wees voordat hy sy liggaam, emosies en taal kan ontwikkel.
Die teenoorgestelde is waar wanneer babas of peuters beroof word van sensoriese stimulasie. Hierdie kleintjies is geneig om ontwikkelingsagterstande te ondervind selfs al het hulle die regte toerusting – slim, ontvanklike breine – want hulle kom die basiese bestanddeel vir breinontwikkeling kort: sensoriese stimulasie.
Om sensories te wees is voordelig, want dit maak babas en peuters sensitief vir die twee elemente wat nodig is om te floreer: sensiwiteit vir sy eie liggaam en sensitiwiteit vir sy omgewing
By geboorte is babas se “sensoriese filters” wawyd oop en nie in staat om te fokus of te kies waaraan hulle wil aandag gee nie. Hulle moet nog leer hoe om op sekere goed te fokus en ander te ignoreer. Vir die eerste paar maande van hul lewe het babas hul ouers en versorgers nodig om stimulasie vir hulle te kies. Wanneer te veel inligting na hul brein gestuur word, skep dit ’n “verkeersknoop” en hulle reageer “te sensories”. Hierdie aaklige gevoel gaan gepaard met die intense behoefte om te onttrek: hulle maak hul kop of ore toe, draai of hardloop weg, kruip weg, of klou huilend vas aan ’n volwassene. Hulle kan ook ophou eet, vat of interaksie hê. Ons noem dit sensoriese vermyding.
Ek is ’n uitsoekerige eter
As die sintuie te sensitief is, mag ’n kind sekere van die volgende gedragspatrone openbaar wat jou smeek om te verstaan: Ek is nie stout of moeilik nie, ek het jou hulp nodig!
“Te sensories”: voorbeelde
- Ek hou nie daarvan as iemand aan my hare vat, of dit was of sny nie
- Om my naels te knip, is seer
- Ek hou nie daarvan as my hande vuil is of van die gevoel van gras, sand of vingerverf nie
- Ek is meestal angstig of bang
- Ek skrik as die telefoon lui of die grassnyer aangeskakel word
- Ek is ’n uitsoekerige eter
- Ek ruik altyd aan goed voordat ek dit eet
- Ek het allerlei allergieë
- Ek “vra hulp” deur maklik te huil
- Ek dra graag dieselfde klere; bekendheid kalmeer my
- Etikette en nuwe klere maak so seer soos dorings
- Ek hou nie daarvan om naby mense te staan nie
- Helder ligte en die son maak my oë seer
- Ek loop dikwels op my tone
- Die TV is altyd te hard
- Ek hou nie van kos met stukkies daarin nie
- Ek haat dit om gekielie te word
- Ek wil nie gaan swem of op ’n klimraam speel nie
Ek haat dit om gekielie te word
Te min sintuiglike inligting
Wanneer ’n baba of peuter “te min sensories” is, is die sensoriese filters te klein en te min inligting word deur die sintuie opgetel. Dis asof die sintuie luierig is en baie sterk stimulasie nodig het voor die inligting registreer en die brein opgewonde maak. “Luierige” sintuie laat ’n baba of peuter verveeld, alleen en geïsoleerd voel. Hieronder is gedragspatrone wat jou smeek om te verstaan.
“Te min sensories”: voorbeelde
- Ek maak mense en diere seer sonder dat ek dit bedoel
- Ek voel nie sommer pyn nie
- Ek is dikwels oortrek met kneusplekke
- Ek sit goed te hard neer
- Ek speel rowwer as die meeste kinders
- Ek is hartseer, want mense dink ek is ’n boelie
- Dit lyk asof ek nie omgee nie
- My drukkies is te hard
- Ek is vir niks bang nie
- Ek reageer die beste op ’n geskree
- Ek breek dikwels goed sonder dat ek dit bedoel
- Ek het nie ’n stop-knoppie nie
- Ek eet te veel van alles – soet, suur, sout
- Ek raak nie aan iets nie – ek gryp, stoot of trek
- Ek kan nie ontspan en lekker diep slaap nie
- Ek het heeltyd stimulasie nodig
Ek maak mense en diere seer sonder dat ek dit bedoel
Sensoriese integrasie
Sensoriese integrasie is wanneer die sensoriese filters goed werk en die sensasies van al die sintuie bymekaar kom en egalig deur die brein vloei. Babas en peuters voel dan veilig, weet waar hulle hul in ’n ruimte bevind, en konsentreer op wat belangrik is. Hulle ignoreer wat irrelevant is en word deur aanraking getroos. Sensoriese integrasie gee emosionele ontwikkeling en konsentrasie ’n hupstoot.
Wat jy kan doen
Druk jou baba of peuter dikwels. Hy of sy het jou nodig. As hy dinge anders kon doen, sou hy!
Sal hy sensoriewe uitdagings spontaan ontgroei? Dis onwaarskynlik. As hy “te sensitief” is, het hy jou nodig om stimulasie vir hom te beperk, hom te kalmeer en sy senustelsel te help ontwikkel totdat sy sintuie hom leer om nie aan alles aandag te gee nie en onnodige stimulasie te ignoreer.
As hy “nie sensitief genoeg” is nie, het hy jou nodig om kwaliteittyd met hom te spandeer om sy sintuie stelselmatig wakker te maak.
Hierdie uittreksel kom uit die Johannesburgse neuro-ontwikkelingskenner Dr Melodie de Jager se praktiese gids Speel-speel slim: geboorte tot 3.
Lees ook: Maak nuuskierige kinders groot!