Nooit te jonk om te leer nie
Terwyl die tienjarige Liné van der Merwe se maatjies op Jacobsbaai in die Wes-Kaap met Barbie-poppe gespeel het, het sy al aan haar loopbaan gewerk. Sy het moeg geword om vir haar pa se eindelose stroom kliënte koffie te maak en het besluit om hulle vir die koffie te laat betaal. Sy het gou ’n winsgewende “koffiewinkel” gehad.
Sy en haar broer het ook ’n afleweringsdiens “bedryf ”. Hulle het brood en melk op hul fietse afgelewer en toe die blaffende en happende honde te veel raak, het hulle ’n vierwielfiets gekoop. Danksy dié gewoeker het sy in 1998 die ABSA Junior Entrepreneur-prys gewen. Maar Liné het nie net ’n kop vir besigheid nie, sy is ook met ’n kunstalent geseën. Dié kombinasie van talente het haar in 2008 vir twee kursusse laat inskryf: ’n kursus in ontwerp aan die Stellenbosch Akademie vir Ontwerp en Fotografie, sowel as ’n kursus aan die Besigheidskool van die Universiteit van Stellenbosch.
Boonop het sy as student as ’n bladuitlegkunstenaar by ’n plaaslike koerant gewerk en was ’n illustreerder by ’n ontwerp-ateljee. Die ABSA-geldprys en winste uit haar koffiewinkel het sy in aandele belê en ook later ’n eiendom gekoop.
Ná sy haar B.A.-graad in toegepaste ontwerp (cum laude) en ’n diploma in besigheidsbestuur verwerf het, het sy die beleggings verkoop en in 2009 haar eie ontwerp-ateljee, Life is Awesome, begin. Op 28 is sy die trotse eienaar van ’n gevestigde onderneming wat as een van die toonaangewende ontwerp- en drukker-ateljees in Kaapstad bestempel word.
Moenie moed opgee nie
Rushana Charles moes haar rieme dun sny en haar selfs op kompetisies verlaat om genoeg geld te kry om haar droom van ’n swemskool in Mitchells Plain te verwesenlik. Sy het op haar leerlingswemmers in ’n gegoede deel van Kaapstad gewag toe dit tot haar deurdring dat daar nie so ’n geleentheid vir kinders in haar eie woonbuurt, Strandfontein langs Mitchells Plain, is nie.
Sy het so by haar familie geneul dat haar ma later onderneem het om ’n swembad op haar erf te bou en die helfte van die geld voor te skiet. Rushana het ’n verband op haar en haar man se huis uitgeneem, maar steeds was daar nie genoeg geld vir haar droom nie.
“Ek was so gefokus dat ek selfs later vir enige kompetisie ingeskryf het in die hoop om iets te wen.” En daar gebeur dit wraggies in 2011! Sy het ’n bakkie gewen wat sy vir R80 000 verkoop het en die geld in haar onderneming gestoot.
Haar toewyding het vrugte afgewerp, want binne drie jaar het haar swemskool, Little Mermaids, van 35 leerlinge tot 443 gegroei. Maar dryfkrag en geluk is nie al wat jy nodig het vir sukses nie. Rushana is een van 19 kandidate van Mitchells Plain en Khayelitsha wat die ontwikkelings-program van die Kleinsake-akademie (KSA) volg.
Dié inisiatief van die Universiteit van Stellenbosch se Bestuurskool is geskep sodat kleinsake-ondernemings in die townships volhoubaar bedryf kan word. Tussen twee kinders grootmaak en haar swemlesse deur het sy ook tyd gemaak vir die nege maande lange geborgde ontwikkelingsprogram.
Sy moes lesings by die besigheidskool in Bellville bywoon en werksopdragte ingee. Sy het die kursus met lof geslaag. Nou is daar geen keer aan Rushana nie en sy hoop om aan die einde van die dekade die grootste watersentrum in Mitchells Plain te bedryf.
Harde werk bring roem
Alma Grobler het vroeg een van die belangrikste besigheidslesse geleer: klante is die enjin van enige onderneming. Dié waardevolle les het sy geleer toe sy op skool in haar vrye tyd in haar oom se klein kruidenierswinkel gewerk het.
“My oom het my geleer dat jy kliënte moet respekteer, en dié beginsel pas ek vandag nog toe.”
Haar oog vir detail is ’n ander geheime wapen. Sy kan nou by ’n Wimpy instap en baie gou sien of daar aan standaarde voldoen word deur op klein dingetjies te let. “Ek kan ook ruik as hulle nie die braaiplaat behoorlik skoongemaak het nie,” skerts sy.
Alma het haar loopbaan as ’n mediese tegnoloog in Pretoria begin. Ná sy getroud is, het hulle verhuis en moes sy haar beroep tydelik staak. Sy het later weer as tegnoloog begin werk, maar ’n vriend het haar man oortuig dat dit ’n uitstekende belegging is om ’n Wimpy te koop – wat Alma sou bestuur.
Dit was nie ’n maklike begin nie, want dit was ’n stryd om genoeg geld bymekaar te kry. Haar ouers het in 1999 ingestem om hul spaargeld in twee Wimpy-restaurante te belê. Alma en haar man het die restaurante saam met vennote gekoop.
“Ek was baie senuweeagtig, want ek was nogal onafhanklik en dit was moeilik om geld te vra.” As ma van twee kinders moes sy bontstaan en ook later die dood van haar eggenoot verwerk. Maar vandag, op 52, is sy al 15 jaar aan die stuur van verskeie Wimpy-kettingrestaurante.