As jy haar passie hoor, verstaan jy hoekom die Kaapstadse Ballet onder haar leiding as uitvoerende voorsitter oorleef het toe die organisasie in 1997 volle staatshulp verloor het en ná vyf jaar op eie bene moes staan. Toe Elizabeth in 1963 op ’n loopbaan moes besluit, was daar nog nie ’n graadkursus in ballet nie en het sy op aandrang van haar pa eers ’n B.Sc.-graad in wiskunde voltooi, want “jy het iets nodig om op terug te val”.
Sy was nooit spyt nie. “Die kunsteraad in Kaapstad het toe net begin en ’n loopbaan in ballet was ’n onseker pad.”
Ná sy haar graad aan die Universiteit van Kaapstad behaal het, het sy in 1967 as hoofdanser by die destydse KRUIK-balletgeselskap aangesluit. “Wiskunde en musiek berus albei op patrone en ritmes en het baie raakpunte. Boonop doen ek die maatskappy se finansies en is dit belangrik dat ek weet dat twee en twee vier maak!”
Hoewel sy nie aan ’n balletskool studeer het nie, het sy private lesse geneem en is ballet al die afgelope 48 jaar byna voltyds deel van haar lewe. En ballet is ’n gulsige loopbaan wat baie verg. “Ons verwag baie van ’n ballerina en dit is moeilik om jou private lewe en ’n ballet-loopbaan te versoen.”
Elizabeth was 22 jaar lank getroud en erken laggend dat sy ’n baie goeie skut is as dit moet, omdat sy en haar man ’n plaas naby Barrydale gehad het. En hierdie ballerina is ook nie bang om haar moue op te rol nie. Buiten haar amptelike werk, help sy ook om tuisgemaakte etes vir die geselskap se snoepwinkel te voorsien sodat die dansers ’n gesonde bord kos teen ’n bekostigbare prys kan kry.
Op skool in Hyde Park High in Johannesburg was sy ’n uitblinker en in matriek ook die Victrix Ludorum. Sy lag lekker oor haar 100 jaart naellooprekord wat vandag nog staan. “Die volgende jaar is atletiek gemetriseer en dus staan die rekord steeds!”
Sy is in die wieg gelê om mense te leer om saam te dans. “Dis ongelooflik bevredigend om ’n balletdanser se rou talent te neem en iets besonders daarmee te verrig. Tog gaan ballet nie net oor talent nie. Dit het ook baie te doen met jou geestelike ingesteldheid en hoe vasberade jy is om bo uit te kom. Dis ’n kopding.”
Sy het in 1990 as danser afgetree, maar die passie het gebly.
“Ballet bly magic en ek mis dit vreeslik om op te tree. Ballet is hard op jou lyf as jy nie van nature soepel is nie. En ek was nooit van nature soepel nie, maar niks ewenaar die vreugde van dans nie.”
En dis hierdie toewyding wat haar gedryf het om die balletgeselskap te laat oorleef toe staatsbefondsing gestaak is. “Dit was ’n swaar slag, want voor die tyd het ons op geen vlak tekortgeskiet nie. Nou moet ons seker maak dat ons soveel moontlik optree, want 66% van ons geld kom van kaartjieverkope.
“Waar ons voorheen nuwe dekorstelle en kostuums vir elke opvoering kon kry, moet ons nou alles weer gebruik. Ons gebruik steeds die oorspronklike stelle en kostuums van 1971 se Swanemeer. Gelukkig was toentertyd se materiale van gehalte en dit hou lank.”
Op 67 is prof. Triegaardt se toewyding en energie ’n inspirasie vir almal wat met haar te doen kry. Ná 26 jaar se diens as lektor by die UCT School of Dance het sy in Desember 2011 afgetree. Boonop bied sy sedert 1996 elke Sondagaand haar program Invitation to the Dance op Fine Music Radio aan. Selfs borskanker, met ’n dubbele mastektomie en chemo, kry haar nie onder nie. “Gelukkig is dit nou baie min moeite om my hare te doen,” skerts sy oor die pruik wat sy dra.