Wanneer dit kom by romanse is die meeste van ons nog ’n bietjie old school en glo ons aan “as dit moet gebeur, sal dit gebeur.” In vandag se dae, ongelukkig, is geleenthede om oulike mans te ontmoet wat jou voete onder jou kan uitslaan nie so volop nie.
Mense werk lang ure, bly in verskillende streke en party werksomstandighede en verantwoordelikhede bied nie enige sosiale tyd of geleenthede om nuwe mense te ontmoet nie.
My ma het altyd gesê: “Gaan soek jou man by die kerk my kind.” Wel, Ma … ek het vrae. Wat as al die mans in die kerk getroud is, wat as almal oud is en wat as niemand in my belangstel nie, hoeveel kerke sal ek moet besoek?
Die soektog na jou pot se deksel is nie ’n maklike een nie en gewoonlik is dit besaai met ’n paar paddas wat gesoen moet word voor jy jou prins ontmoet.
Tegnologie maak dinge vir ons baie maklik, ons doen aanlyn-inkopies, bestel klere en kos vir aflewering en bly in verbinding met vriende en familie regoor die wêreld.
Vir lank was daar ’n stigma gekoppel aan aanlynromanse. Dit was ’n vreemde verskynsel om deur e-posse en/of slegs oproepe met potentiële “prinse” te kommunikeer.
Deesdae is daar ’n wêreldbekende sagteware-program genaamd Tinder wat aanlynromanste ’n heel ander betekenis gee.
Die konsep werk so: jy registreer jouself, en automaties word foto’s en details vanaf jou persoonlike Facebook-profiel na jou Tinder-profiel getrek. Sodra jy geregistreer het, kan jy kies watter mans se profiele jy wil sien in terme van ouderdom en waar hulle bly.
Die soektog na jou pot se deksel is nie ’n maklike een nie en gewoonlik is dit besaai met ’n paar paddas wat gesoen moet word voor jy jou prins ontmoet
So maklik soos dit! As jy nie van iemand hou nie, swiep jy na links, as jy wel van iemand hou, swiep jy regs.
Dit eindig nie daar nie. Niemand sal weet jy het regs geswiep tensy hulle dit nie ook met jou profiel doen nie. Dit wil sê jy kan net met mense praat wat ook regs geswiep het. Alreeds is daar ’n gemeenskaplike iets wat julle in gemeen het, hy dink ook jy lyk oulik.
Alhoewel dit aan die begin nogal vreemd voel om met behulp van ’n foto ’n keuse te maak of jy iemand beter wil leer ken of nie, raak jy later gewoond daaraan en word dit pret.
Die lekkerte van Tinder is die feit dat jy kan gesels en deur almal kan sif tot daar iemand is wat uitstaan bo die res. Van daar kan julle altyd ’n afspraak reël om mekaar iewers vir ’n drankie of aandete te ontmoet.
Soos met enige ander geval is dit jou verantwoordelikheid om die tipe mans wat nie in jou smaak val nie te vermy en liewer nie te ontmoet nie. Vertrou jou sintuie en sê altyd vir iemand waarheen jy gaan en saam met wie indien jy wel besluit om op ’n eerste afspraak te gaan.
Verder is dit een van die lekkerste en effektiefste maniere om nuwe mense te ontmoet, en wie weet, dalk jou padda-prins te ontmoet.
Dames, vat beheer en geniet elke oomblik daarvan! Onthou dat 90% van mense op Tinder ook op soek is na iemand, na ’n konneksie, so daar is geen rede om skaam te wees nie.
Besoek Inspired Women se webblad hier of volg Shireen Louw en Sue Duminy se avonture op Facebook.