Design team
Design Team word gedryf deur die bevrediging wat kom met die skepping van onvergeetlike tekstiele. Hulle is volksbesit en pryk in wonings landwyd. Hulle word geïnspireer deur die kleure, natuur, mense en die vinnig veranderende dinamika van ons land. Hulle geniet dit om tradisionele tekstiel-elemente met plaaslike ikonografie te kombineer. Die resultaat is ’n nuwe styl met ’n internasionale kwaliteit sonder om die plaaslike wortels en sentiment te verloor. Al Design Team se materiale word met die hand gedruk.
Skinny laMinx
Heather Moore se suksesvolle storie het in 2007 in haar piepklein tuis-ateljee begin. Hier het sy met papier en skermdruk geëksperimenteer en aanlyn verkoop. Teen 2012 het haar besigheid so gegroei dat sy ’n winkel in Kaapstad oopgemaak het.
Skinny laMinx konsentreer op midcentury-styl. Die tekstiele word geïnspireer deur Skandinawië, Japanese patrone, kleur en ’n stewige dosis Afrika-sjiek.
Mitat
Eenvoud en individualiteit is die sleutel-elemente van hierdie winkel wat hul tekstiele gesog gemaak het. Daar word fokus geplaas op uitsonderlike ontwerpe en skermdruk sowel as handgedrukte materiale.
Of jy ’n voorliefde het vir botanies, Frans of selfs inspirerende fantasie-ontwerpe verkies, is Mitat die plek om te besoek.
Fabricnation
Fabricnation vervaardig ’n tekstielversameling wat agtien ontwerpe insluit en onderskeidelik deur Jann Cheifitz en Jane Solomon ontwerp is. Hulle word geïnspireer deur die Afrika tekstiel-tradisie met ’n skeut moderne stedelike invloede om Suid-Afrika inheems in te kleur.
Alle tekstiele word plaaslik gedruk en die lap is eg Suid-Afrikaans.