Ina Genade se blog: ’n Briefie aan my sterk kinderhart deur Ina Genade. Hooffoto: Violetastock/istock image
Hierdie brief gaan nie oor of aan die bullebakke en “jocks” daarbuite nie. Hulle kry reeds te veel lugtyd. Hierdie brief dra ek op aan elke sagte kinderhart wat ten spyte van slegte ervarings en vernederings, steeds sterk staan en nie verhard word deur wreedheid nie.
’n Briefie aan my sterk kinderhart
Ek onthou die eerste keer toe jy met vraende ogies kom vertel het dat jou maatjie sê jy is vet. En dom.
Vét. En dóm.
My mammakop het soos ’n ou koppelaar vasgeslaan en ek kon nie mooi sin maak hoe om van rat te verander nie.
Ek onthou dat ek vir jou gesê het dat die maatjie seker ’n slegte dag gehad het en dit onnodig op jou uitgehaal het.
Hy bedoel dit nie.
Maar, in my hart het ek gewonder wáár kom die maatjie se wrede woorde vandaan.
’n Jaar later en die beledigings het al leliker geraak. Jy moes pousetye gereeld hoor jy is té dit of dat, te “loser” om saam te speel.
Jy het gehoor jy “sal nie eendag beroemd wees nie, want jy suck met sport”.
Komende van “’n maatjie” kon ek my indink hoe seer dit moes maak.
Nie omdat jy enigsins bekommerd was oor beroemd raak of uitblink in sport nie, maar omdat die maatjie jou so klokslag byt met woorde en verneder voor jou ander maats.
Jy sou dalk graag vinniger wou hardloop. Of dalk nie…? Wat help vinnig hardloop tog as mens weghardloop van menswees en omgee vir ander?
Maar, jy was beslis nie lus vir dié meedoënlose spottery nie.
Na ’n graad 5-kamp het jy blinkoog vertel van al die avonture. Maar, ek kon sien dat die terloopse vertelling van die maat se lelike gespot onder andere omdat jy met jou lae spiertonus gesukkel het om tou te klim, tog dieper as die “Ag wat…” gaan lê.
Hier moes ek nou al behoorlik fyn trap en tande kners om myself te keer om uit te blaker: “Sê hom sy opmerkings wys dat hy lae spiertonus tussen die ore het!”
’n Mahart kan ook net soveel seer namens haar kind probeer absorbeer. Maar, ek het ook geweet die belangrikste les wat jy uit hierdie onaangenaamheid kan leer, is om nie jou beginsels prys te gee nie. Jy hoef nie te daal tot op bullebakvlak nie.
Jy moes ook leer dat jy nie hoef toe te laat dat enigiemand jou vreugde steel nie. Al probeer so iemand hóé hard en knaend.
’n Paar maande later het die boeliery-met-beledigings in fisieke magsvertoning ontaard.
Nog het ons jou probeer leer dat die een wat jou só seer probeer maak, eintlik self seer het.
Maar, in my hart het ek geweet dat jy altyd sal moet oopoë, maar veral oopkop, bly.
Nog ’n jaar later hoor ek by ander ouers hoe hulle kinders ook afgekraak en gespot word oor hulle liggaamsbou, sportiewe vermoëns en sommer lukrake dinge.
Uit net meer as vier dekades ervaring weet ek ook dat jy en jou maats moontlik weer en weer diegene sal teëkom wat julle sal probeer afkraak en verneder om beter te voel oor hulself.
Soos prof. Hans du Plessis skryf: “Disse flippen stukkende wêreld dié, my ou.”
Maar, sleg en frustrerend soos dit is, weet ek dat sulke voorvalle jou skaaf om sterker te wees.
Ek is reeds só trots op jou dat jy nie terugval op die maklike tegniek van terugspot nie. So dankbaar dat jy besef dat rughandslaan oor akademiese vermoëns jou dalk ’n oomblik sal laat beter voel – dalk ook nie – maar, dis nie wie jý is nie.
Jy hoef nie iemand te vertrap om die lewe se leer te klim nie.
Ja, daar sal altyd mense wees wat jou jy-wees probeer afmaak omdat dit nie inpas in die raamwerk waarin hulle lewe nie.
Dis nou maar eenmaal die lewe.
Solank jy vashou aan wie jý is en altyd sal onthou dat mense jou eerstens onthou vir hoe jy hulle behandel en laat voel.
Sprei jou vlerke, maar hou jou voete stewig op die aarde en jou woorde en dade vol deernis.
En, wees gerus in die wete: Jy is genoeg.
Liefde
Jou trotse mamma