Deur Ina Genade. Foto: pexels.com
Wat laat jóú tiek?
Dit is ’n vraag wat ek soms vir mense vra wanneer ek hulle leer ken. Wát is dit wat jou laat glimlag, jou ’n huppel in die stap gee en jou sommer net wil laat opstaan soggens?
So uiteenlopend soos die mense vir wie ek dit vra, so uiteenlopend is die antwoorde.
Een vriendin sê droogweg dat dít wat haar laat opstaan soggens nie altyd dít is wat haar laat tiek nie – al is sy baie lief vir haar kinders. Ek giggel simpatiek – ek vermoed ek tiek ook nie soggens weens die alarm wat wreed tiek-tiek… triengggg! om ’n nuwe skooldag aan te kondig nie. Die oggendjaagtog en nog slaapvars humeure sorg nie juis vir ’n gehuppel by die deur uit nie.
Die vriendin sê wel dat haar werk een van die dinge is wat haar beslis laat tiek. Sy is ’n sielkundige en die wete dat sy bes moontlik vandag ’n verskil in iemand se emosionele lewe kan maak, laat haar uitsien na die dag.
Is dit nie wonderlik as dít waaraan jy as beroepsmens die grootste deel van jou wakkerure spandeer, jou soveel vreugde verskaf nie?
’n Huisvriend van ons het destyds vir my gesê hy gaan ook soggens met ’n blye hart werk toe, want elke weeksoggend is ’n oggend nader aan Saterdag se rugby. Die vooruitsig van die rusbank, biltong en sy gunsteling sport op die kassie laat hom deur die week huppel.
Onlangs sit ek in my gunsteling koffiewinkel en wag vir ’n vriend. ’n Gesellige groepie van drie gryskopdames kom sit by die tafel langs my. Ek hoor hoe twee van hulle die ander een “Tannie” noem, so ek neem aan sy is ’n dekade of wat ouer – hoewel dit nie so lyk nie. Uit hulle vrolike gesels kom ek agter die twee jonger vriendinne het hulle ouer vriendin gebring om haar verjaardag te vier.
Die kelnerin neem hulle bestelling en die jongeres bestel albei “klein glasies pienk melk.” Die verjaardagnooi lag en sê: “Aikôna, ek het nie 95 kom staan en raak om ’n kiddies milkshake te drink nie…! Bring vir my jou héél grootste tjoklit ene!”
Ek het my verkneukel in dié lewenslustige beskouing en hoewel ek nie sommer vreemdelinge trompop loop en uitvra nie, het ek geweet ek moet na afloop van hulle ete vir die immergroen tannie vra wat haar steeds op 95 jaar laat tiek.
Haar tong-in-die-kies antwoord? “Solank die hart tiek en die kop en bene kan byhou, bly elke dag ’n avontuur. Jy weet nie of dit jou laaste avontuur is nie. Maak die meeste van elkeen!”
Op feitlik veertig-en-’n-half het hierdie woorde my nogal getref.
Ek het besef dat die lewe van ’n ma met skoolgaande kinders dikwels in die groef verval van skoolroosters en buitemuurse programme. “As ons net eers verby Woensdag se laat sportwedstryd kan kom, is dit darem afdraand naweek toe,” sê ons soms vir mekaar en ons kinders. Die kinders hoor dit en skep by hulself ook die kultuur van mik na Vrydag of Saterdag ná die sportwedstryd of Saterdagaand se partytjie of die skoolvakansie wat nog té veel weke ver in die vooruitsig lê… En so vergeet ons en ons kinders maklik om die meeste te maak van die oomblik, elke oomblik van elke dag.
Die afgelope paar jaar het ek dikwels onvergenoegd gewens dat ek net weer iets groots kan hê om na uit te sien. Die einde van ’n skoolkwartaal het my dikwels met ’n “Ai tog, wat maak ek en die kinders nou die vakansie?” gevul. Aan die einde van die skoolvakansie het ek dan weer gedink: “Ai tog, hier begin ’n besige kwartaal en ek voel nog geensins uitgerus óf gereed nie…”
Toe gebeur daar die groot ding waarna ek al soveel jare uitsien: ’n Onverwagse oorsese besoek. En skielik besef ek: Wees versigtig waarvoor jy wens, want elke avontuur bring ook bekommernisse mee – in hierdie geval was my grootste bekommernis die kinders en hulle vol skoolprogram en die toetsreeks kort na my terugkeer van oor die waters.
Maar – of dit nou die vars Europese lug of bloot vars perspektief was – my bekommernis het met my terugkoms omgeskakel in ’n geweldige dankbaarheid vir dit wat ek kon beleef terwyl my kinders veilig was. Ek het terug gedink aan hoeveel ek uit elke minuut oorsee kon put en gewonder hoekom die minute hier op eie bodem dan soms so ondraaglik stadig en vreeslik vervelig verbygaan?
Een oggend terwyl ek die huis stofsuig (my binneshuise terapiesessie) tref dit my: Ek het oorsee elke dag iets gehad om na uit te sien. Elke dag het nuwe plekke en ervarings ingehou en ek kon nie wag om elke geleentheid aan te gryp nie.
Dít is wat ek elke dag mis: Iets om na uit te sien.
Natuurlik is dit onmoontlik om te verwag dat ek kort-kort ’n oorsese kuier kan ervaar om my te inspireer. Hoewel ek vas van plan is om te sorg dat ek só ’n voorreg eendag weer kan beleef en eerder gouer as later – en hopelik ook saam met my kinders, want ek weet hoe graag ook hulle die wye wêreld wil verken.
Maar intussen weet ek dat dit van my afhang of elke dag net nóg ’n dag is om deur te spartel, sug en spoed – en of ek dalk minstens een ding per dag kan kry waarna ek régtig kan uitsien.
Dit help nie ek preek vir my kinders om die meeste van elke dag te maak en positief te bly as ék nie die voorbeeld stel nie.
Ek weet my persoonlikheid is ook heeltemal te hardekwas, sinies en realisties om elke dag as ’n sonstraaltjie op te staan en deur die dag te huppel terwyl ek kort-kort stop om die spreekwoordelike rose langs die pad te ruik.
Maar, ek dink tóg dit is moontlik om iets te eien wat die alledaagse elke dag kan opvrolik.
Dalk ’n klein verandering in die skoologgendroetine om nie drie goed tegelykertyd te probeer doen en dan viesig my lou koffie af te sluk nie. Dalk is die luukse minuut se sit en ’n koppie warm koffie waardeer nét die regte doepa om die dag mee af te skop.
Dalk kan ek smiddae as die moeë skoliere swaar boeksak en al in die motor neerplons, eers vir hulle vra wat lekker was van hulle dag en wat húlle laat glimlag het, voor ek begin uitvis watter toetse en take op die middagprogram is.
Dalk sal die blote feit dat ek weet ek ’n moeë grom bes moontlik as enigste antwoord van die amper-tiener kan verwag, ook sorg dat ek glimlag.
Nog iets wat my altyd laat glimlag, is humor en gedagtes uitruil met maats wat ewe veel hou van ’n potjie woordtennis. Daar is min dinge wat my so lewendig laat voel as ’n “goeie begrip, halwe woord”-gesprek met vlugdenkende vriende. Of dit nou oor ’n koppie koffie of in die kuberruim via teksboodskappe gebeur.
Dalk moet ek ook vir ’n rukkie net daardie mens wees wat myself soms irriteer en wat die lag in elke traan probeer raaksien. As dit nie heeltemal werk nie, kan galgehumor ook sorg vir ’n giggel. Dit is darem een ding waarmee Suid-Afrikaners goed is: Om die snaaks in die meeste situasies – lagwekkend, makaber of tragies – raak te sien. In my enigheid dink ek nogal dit is ons humorsin wat ons aan die gang hou as dinge minder sonnig is hier aan die Suidpunt van Afrika.
In kort gaan my Plan van Aksie (PVA) van nou af dít wees:
P – soek die positiewe in die oomblik en jaag dit na;
V– verander die dinge wat ek kan verander om elke dag te wíl opstaan (een van my gunsteling sêgoed is hoeka: as jy nie hou van iets nie, beweeg en verander dit – jy is nie ’n boom nie); en
A – maak van die alledaagse ’n avontuur; as jy jou knieë nerfaf val in die roetinegroef, plak Disney-pleisters op en wys jou kinders hoe klim jy uit die groef op soek na nuwe avonture.
’n Mens het nie altyd ’n vliegkaartjie nodig om weer na iets uit te sien nie. ’n Sonsopkoms is eintlik meer as genoeg. Want, onthou: Elke sonsopkoms beteken jy het alweer suksesvol een keer om die aarde se as gereis. Met ’n gemiddelde omwentelingspoed van 40,075 km per 23.93 uur (aldus www.universetoday.com), is dit geen geringe prestasie nie!