Deur Ina Genade. Foto: JasonDoiy/istock images
“Dis nou tipies van iemand soos sy…”
“”Ja, ’n mens kan dit verwag van iemand soos hy…”
“Hy was dan só ’n oulike seun met die mooiste maniere…”
“As mens na haar Facebook-foto’s kyk, is dit duidelik dat sy daarvoor gesoek het…”
’n Mens kan maar net sosiale media oopmaak of ’n koerant se briewekolom lees om te sien dat stereotipes gedy. Breek ’n nuwe storie oor ’n tragedie, dan verander Jan Rap en sy maat meteens in leunstoelpsigoanaliste.
As ’n opspraakwekkende misdaad gepleeg word, oordeel ons baie vinnig en plaas die skuldige én slagoffer sommer gou in netjiese boksies.
Laat dit ons beter voel? Laat dit ons veiliger voel as ons deur ’n stereotipe die denkbeeldige lyn tussen húlle en óns trek?
Wie weet.
Al wat ek in my vier dekades op die ondermaanse agtergekom het, is dat daar net een veralgemening oor mense is wat redelik water hou. Dit is dat jy net drie soorte mense kry: die wat kan tel en die wat nie kan tel nie.
Wat die res van menslike karaktertrekke, optredes, dade en wandade betref, is daar nie ’n duidelike vorm waarin enigiemand gegiet kan word nie.
Elke mens is ’n komplekse mengsel van gene en geite, van intellektuele vermoëns, inhibisies en integriteit, van sosialisering en siel, van vorige ervarings, van huidige vreugdes en binne-oorloë en van toekomstige drome, aspirasies en hoop.
Soms veroorsaak net een van al hierdie talle faktore wat jou uniek maak, dat jy lynreg optree teen die algemene trekke van jou karakter of dit wat ander van “iemand soos jy” verwag. Hoe jy in ’n gegewe situasie optree, is soms só onvoorspelbaar, dat dit mense laat kopskud en óf verstom laat fluister dat hulle dit nou nooit sou kon dink nie, óf summier ’n ongenaakbare oordeel laat fel.
Ek vermoed dit is juis ons vrees vir die onvoorspelbaarheid van mense – en dalk onsself – wat ons laat gryp na veralgemenings of boksies.
Jy dink die kêrel met wie jy al jare uitgaan en op trou staan, sal nie ’n vlieg seermaak nie. Totdat iemand op ’n dag voor hom insny in die verkeer en lelike goed toesnou – en hy uitklim en daardie persoon met die vuis bydam. Is dit werkspanning? Is hy vir jare op skool geboelie? Is hy onvanpas aggressief? Dalk ’n vroueslaner…?
Die gelukkig getroude vrou besluit na 33 jaar om eenvoudig uit haar huwelik en huis te stap. Ly sy aan ’n middeljarekrisis? Het sy iemand anders ontmoet? Gee sy eenvoudig boedel oor? Of staan sy dalk die eerste keer in haar lewe op vir haarself en haar geluk en weier dat haar siel verder versmoor word?
Ons wil so graag dadelik ’n ander mens wie se optrede ons nie verstaan nie, duidelik definieer as ’n so-en-so sodat ons kan verstaan. Maar, meestal is daar nie ’n klinkklare karakterkleed wat ons ons medemens kan aantrek nie. En, ons behoort ook nie. So graag soos ons dit wil doen om ons eie wêreld makliker, veiliger en meer verstaanbaar te maak, is die oordeel eenvoudig nie ons s’n nie.
Ons almal ken die gesegde “Wat ’n ander ou van jou dink, het niks met jou te doen nie”. Dalk moet ons dit ook van toepassing maak op ander. Alvorens ons ’n oordeel oor iemand fel, moet ons ons dalk in die skoene van só ’n persoon se naaste plaas. Hoe sou ek gevoel het as dit my seun, dogter, ma, pa, broer, suster of beste vriend was?
Ek het al voorheen geskryf oor hoe dit die naastes raak van ’n persoon wat weens depressie sterf as daar gesê word “Hoe kon sy so selfsugtig wees?”, maar dalk moet ons teenoor álmal dieselfde genade betoon.
Lees ook: Hulle mamma is weg
Dit ís ’n stukkende wêreld met stukkende mense, ja. Maar, kom ons probeer om dit nie stukkender te stereotipeer en oordeel nie. Dink dat elkeen wat jy teëkom bes moontlik ’n binnegeveg het waarvan jy niks weet nie en deel dan deernis uit. Jou deernis is dalk deurslaggewend in die heelword van iemand wat die stukke probeer optel.
Boonop sal jy die swaar juk afgooi van jou eie veroordeling as jý dalk die dag oor ’n stereotipiese sonde struikel.