Aweregs en anders deur Ina Genade. Hooffoto: iStock/fotyma
Hulle sê mos dis as jy dink almal rondom jou het mal geword, dat dit dalk tyd raak vir ’n bietjie introspeksie.
Nou ja, ek doen al ’n dekade of vier ernstig introspeksie. Want, sien, ek dink oor ’n klomp goed anders as wat die norm, of “hulle”, voorskryf.
As almal sug oor die lang winter en hoe hulle wens dit raak nou somer, wil ek hulle met foto’s van my hygende motortermometer bombardeer en vra of hulle onthou hoe erg 40+ grade Celsius in die skoolverkeer voel? Is julle betotteld om te wens vir die versengende hitte en briesende bergwinde, of het julle net vergeet?
Lees ook: Dis heerlike … winter!
En, dan is daar Maandae. Toe ek nog ’n vry gees jong werkende was, het Maandae vir my so ’n bietjie soos ’n stok-in-die-speke gevoel. Want, na ’n naweek van partytjies en teater en vertonings en laatslaap, het vroegopstaan vir die w-woord wreed gevoel.
Maar, sedert ’n huishouding en kinders en alles wat daarmee gepaardgaan, my vry gees ingesluk het, moet ek erken dat Maandagoggende vir my dikwels soos ’n mikpunt voel.
Soms, na ’n naweek van op-en-af jaag agter kinderprogramme aan midde sibbe-oorloë en ’n totale gebrek aan ordelikheid, dobber ’n Maandagoggend vir my soos ’n vrolike baken van hoop op ’n post-stormsee.
Ek hou régtig baie van Maandagoggende. Na die sleepvoetende skoolkinders midde die slakkepas-skoolverkeer veilig by die skool besorg is, kom hang daar skielik ’n veerligte mantel om my skouers. Ek dink die mantel se naam is Stilte. Of Eietyd.
’n Maandagoggend is as’t ware my gunstelingtyd van die week. Sodra die huis reggeruk en die tweede bondel wasgoed in die masjien is, kan ek rustig aan ’n beker warm koffie teug terwyl ek deur my e-posse lees. Met salige stilte in my ore.
Lees ook: Wat laat jou tiek?
Aweregs en anders soos ek is, voel ek naastenby dieselfde oor Vrydagaande: Hoe stiller, hoe beter. In ons jong dae was Vrydagaande kuiertyd met vriende of stad toe ry om te gaan uiteet en fliek. Twee dekades later, verkies ek om so min as moontlik op my Vrydagaandprogram te hê. Rondom ons kuier en braai die bure, maar ek trek die blindings dig en verkies tweedimensionele vriende op die kassie as geselskap – grotendeels omdat hulle nie verwag ek moet terug gesels nie.
Lees ook: ’n Briefie aan my sterk kinderhart
Dit is seker maar ’n geval van hoe ouer ek word, hoe meer word ek myself. Introvert Ina herken haarself in elke meme met die strekking “Jy weet jy is ’n introvert as jy opgewonde raak as planne gekanselleer word” en “Jammer dat ek jou oproep gemis het – ek het met afgryse na die skerm gestaar en gewonder hoekom op dees aarde stuur jy nie eerder ’n teksboodskap nie”…
’n Gesellige aand uit saam met interessante mense so dan en wan is vir my lekker en nodig, maar die idee aan konstante kuiers bloot om nie alleen te wees nie, put my uit.
Ek hou régtig baie van Maandagoggende. Na die sleepvoetende skoolkinders midde die slakkepas-skoolverkeer veilig by die skool besorg is, kom hang daar skielik ’n veerligte mantel om my skouers. Ek dink die mantel se naam is Stilte. Of Eietyd.
Hans F. Hansen stel dit goed: “People inspire you, or they drain you – pick them wisely.”
In haar boek The Secret Lives of Introverts: Inside our Hidden World, skryf Jenn Granneman: “Introverts live in two worlds: We visit the world of people, but solitude and the inner world will always be our home.”
Lees ook: As die reisgogga byt …
Ek glo dit is hoekom stil Maandagoggende – en Vrydagaande – my gelukkige plek is. Vir jare het ek skuldig gevoel omdat mense dink ek hou my eenkant; omdat ek verskonings uitgedink het om groot kuiers met mense wat ek nie eers ken nie, te systap. Maar, soos ’n wyse ouer vriendin opgemerk het: “Veertig is bevrydend – skielik gee jy nie meer om wat ander dink nie. Jy begin lewe vir dit wat vir jóú saak maak.”
Die beste raad wat ek onlangs raak gelees het, sê juis dit: “Don’t think of introversion as something that needs to be cured… Spend your free time the way you like, not the way you think you’re supposed to.” (Susan Cain)
Vir my voel dit hoe meer ek binnetoe leef, hoe meer waardeer ek diegene wat dit die moeite werd maak om ook daarbuite te leef – vir my is dit die mense wat my belangstellings deel en eerder gedagtes oor ’n goeie boek, fliek, toneelstuk, emosies, idees en drome deel as die alewige skoolsportspanpolitiek of wie-nou-weer-wat-met-haar-hare-aangevang-het praatjies.
Lees ook: Stereotipes maak stukkend
Laurie Helgoe slaan die spyker op die kop: “When an introvert cares about someone, she also wants contact, not so much to keep up with the events of the other person’s life, but to keep up with what’s inside: the evolution of ideas, values, thoughts, and feelings.”
As jy hierdie blogplasing, Aweregs en Anders, geniet het, weet ons jy gaan gaande wees oor Ina se ander plasings! Loer hier om hulle te lees.