As die reisgogga byt deur Ina Genade
“Op die Metro het daar ’n spul mans opgeklim. Die een bleskop het my pa gestamp en toe sê hy iets in Frans met ’n Hollywood smile. Toe kom daar ’n ou en staan voor my. Hy het ’n swart baadjie gedra en was langer as die Eiffeltoring. Hy stamp my toe rond. Toe die trein stop, blits daar ’n ou uit en my pa se sak hang los en oop. Die wortelkop het wragtig my pa se beursie gesteel!”
Dit is drie dae sedert ons gesin van vier geland het na ’n heerlike wegbreek in Parys en Amsterdam. Ons en ongeveer vier ander gesinne se wasgoed. Dus, met sterre in my oë, maar OMO onder my vingernaels, kry ek nou eers tyd om te loer in my oudste se reisdagboek.
Ek glimlag oor sy vertelling van die een goor ding wat ons oorkant die water getref het. En is terselftertyd bly dat dit al negatiewe ding is wat hy oor die 11 aande in Europa kon neerpen.
Dit was nog altyd my grootste droom om te reis en die wêreld te sien. As jong getroude het ek ’n keer of wat die voorreg gehad. En toe ook weer laasjaar toe ek skielik genooi is op my man se sakereis Italië toe. Dit het my net weer laat besef hoe graag ek my kinders van my gunstelingplekke oorsee wil gaan wys.
Lees ook: Ina Genade: Oor-die-water-wense
Ina Genade: ’n Kort blik op la vita bella
Dieselfde reisgogga wat my en my man lank gelede gebyt het, het ook my skoonma dekades gelede gebyt. Ek ken niemand wat so welbelese en welberese is soos sy nie. Groot was my en die kinders se blydskap dus toe Ouma aanbied om hulle oorsee te stuur om ’n stukkie van die wêreld daar anderkant te gaan ervaar. Ouma se hoofdoel was om die kinders Disney Paris toe te stuur, maar ons sou Parys ons basis maak, die stad verken en vandaar af reis na plekke wat ons ook graag wil sien – en in die beperkte tyd kan inpas.
So ’n halfjaar gelede het ons begin beplan, maar in hierdie stadium het dit regtig nog meer na ’n veraf droom as ’n moontlikheid gevoel.
Met die hulp van ’n oulike reisagent kon ons die verskillende opsies oorweeg en ten spyte van asemophou-oomblikke met geboortesertifikate en reisdokumente, het ons saam met die kinders die maande, weke en toe dae begin aftel tot die groot avontuur.
Vir sowat twee maande het ek wintersklere vir die kinders gesoek en ook gemaklike stapskoene vir ons al vier. Die gastekamer se bed het spoedig soos ’n fabriekswinkel gelyk met sakkies en pakkies winskope wat die wêreld vol staan. Daar was honderde lysies in my kop – ek was so bang ek vergeet iets belangriks en dit moet in Euro aangeskaf word.
’n Les wat ek egter weer eens geleer het, is dat te veel bagasie ’n mens se spoed breek. Vir die kinders en hulle pa, was die las nie te swaar nie, maar ek het teenoor die ander tasse in die winkel, nooit besef presies hoe groot en lomp my nuwe pers reistas is nie. Die voordeel was dat daar plek vir álles was. Tot amper die wasmasjien. Die nadeel? Ek het my doodgesleep aan die ding en op die ou end danksy wasgeriewe oorkant die water, net die helfte van die klomp klere gedra. Eendag, hopelik met die volgende reis, sal ek die kuns van ekonomies én ligvoets pak bemeester.
Die vlug tussen die Kaap en Wene waar ons twee ure sou oorstaan, was lank en ongemaklik, veral omdat dit eers na middernag opgestyg het. Ons vier sardyne het maar min geslaap. Die korter vlug die volgende middag Parys toe was baie geselliger en ons was erg opgewonde toe die vliegtuig netjies op Charles de Gaulle-lughawe land.
Die kinders het grootoog agter langs hulle pa in die taxi gesit en na ’n paar minute het my meisiekind duidelik effe teleurgesteld gevra of Parys dan nou só gaan lyk terwyl sy beduie na die vervelige snelweg en nywerheidsgebied rondom die lughawe. Ek het self oë op skrefies getrek om te kyk of ek nie dalk al die bekende toring in die verte kan gewaar nie.
By die hotel gekom was ons aangenaam verras deur die selfsorgwoonstel met ’n klein balkonnetjie wat uitkyk oor tipiese Paryse geboue en dakke. Prentjiemooi.
Na ’n vinnige stort om wakker en vars te word, het ons die strate van Parys ingevaar.
Meer as ’n week het verloop sedert ek laas aan’t vertel was van ons avontuur in die verte. Dit is asof die roetine van alledaagse sleur die honderde ervarings in my kop woordeloos vasgehou het.
Toe kry ek gisteraand die eerste boodskap van vele dat ons eerste stop op ons eerste aand in Parys, die Notre Dame-katedraal, besig is om te brand. Vir ure en ure het ek na die internasionale nuusuitsendings gestaar met hartverskeurende tonele van daar waar ons maar skaars drie weke gelede nog in heilige verwondering gestaan het.
My kinders het baie traag en onrustig gaan slaap gisteraand. Noudat hulle dáár was en beleef het hoe dit voel om dáár te staan, was die “Hunchback” se kerk veel meer as bloot dit. Dit is ook ’n belewenis, iets magies wat mens deur foto’s probeer weergee, deur vertellinge probeer skets, maar nooit presies verwoord kry nie.
En nou is so ’n groot deel daarvan weg – eeue der eeue se geskiedenis.
Die dinge wat in ’n mens se kop afspeel… Presies drie weke gelede het ek en die kinders oorbluf buite Cité-metrostasie net om die draai van Notre Dame gestaan nadat my man se beursie gesteel is. Nadat die treindeure tussen ons en hom toegegaan het, en ons via die treinlyn weer terug moes sukkel en hom soek, het ek nog gedink ek hoop daai sakkeroller se vingers verbrand. Toe ons heelwat later herenig is met my man en ’n SMS kry dat die boef sowaar R337 se Indiese wegneemetes gekoop het met die gesteelde kredietkaart, het ek gehoop ’n meer ongemaklike plek as sy vingers brand.
Toe ons na 2.5 km se stap terugkom by ons hotel, het ek vir my man gesê: “Dat die goorste treinstasie nou so na aan die Notre Dame moet wees…”
Dat die verwoestende tragedie nou só na aan die hart van Parys, die ikoniese Notre Dame, moet wees.
As iets wat twee eeue geneem het om te bou en soveel eeue deel was van die mensdom en geskiedenis, binne ’n oogwink verwoes word, besef mens skielik meer van die verganklikheid van alles.
Dit alles laat my dankbaar vir die voorreg om die kinders ’n deeltjie van die geskiedenis te kon gaan wys.
Ek skud maar net my kop oor die kuberkrygers wat nou veldtogte loods teen diegene wat wel die waarde daarvan insien dat so ’n ryke nalatenskap herbou word. Onkunde is ’n gevaarlike, eng gedoente.
Op ons eerste oggend in Parys het ons die Eiffeltoring besoek, die tipiese toeristeselfies geneem en in ’n ellelange tou in die lenteson gestaan vir kaartjies om die toring tot heelbo te verken. Dertien jaar gelede was ek ook tot heelbo, maar steeds is my asem weggeslaan deur die uitsig oor die Arc de Triomphe, die Champs Élysées, Les Invalides waar Napoleon begrawe lê, die Sacré-Coeur in die verte en ook die Notre Dame se torings.
Na ons vier ’n heerlike Reine-pizza neffens die Eiffeltoring gedeel het (want… Euro’s), het ’n bootvaart op die Seine-rivier ons ’n goeie blik oor die belangrike bakens van die stad gegee.
In die dae wat volg het ons die Sacré-Coeur se honderde trappies geklim, Montmartre se kunstenaarsplein besoek waar opgeskote seuns met ’n “Mademoiselle, mademoiselle!” al blosende my tienjarige dogter se aandag probeer trek het. Daarna het sy summier vir haar ’n ligpers Franse beret aangeskaf!
Ons het een oggend vroeg opgestaan om die verwagte lang toue by die Louvre-museum vry te spring en was baie gelukkig om sommer gou voor die bekendste kunswerk, die Mona Lisa, te staan. Dié vyfeeueoue wêreldberoemde skildery van 77 cm by 53 cm word alleen teen ’n muur, stoksielalleen in ’n groot lokaal, agter ’n dik glaslaag beskerm.
Vandaar is ons via die Place de la Concorde af in die bekende Champs Élysées met sy lanings gesnoeide bome en duur winkels aan weerskante van die 1.88 km lange straat. Neffens die Arc de Triomphe het ons in ’n straatkafeetjie gesmul aan pannekoeke gevul met lepels Nutella terwyl nutsmanne besig was om die groot glasruite rondom dié kafee te vervang. Die ruite is ’n paar dae tevore beskadig in die Geelbaadjiebetogings wat reeds maande lank Saterdae die middestad van Parys ontwrig.
Die vorige kere dat ek en my man in Parys was, het ons nie besef ’n mens kan binne-in die Arc de Triomphe opgaan tot heelbo nie. Ons en die kinders het in ’n lang tou gestaan en ek het hoopvol gewag op die hysbak wat ons na bo moes vervoer. Voor in die tou gekom, besef ek daar is slegs ’n nouerige spiraaltrap en óf dit my toe bors was waarvoor ek toe al twee weke antibiotika en kortisoon drink, óf net plein banggeit, weet ek nie, maar ek moes ’n keer of wat rug teen die muur gaan staan om asem te skep en balans te herwin. Van bo af is die 360 grade uitsig seker die moeite werd, maar ek was bewerig dankbaar toe ons weer na die 284 smal trappies op grondvlak staan. In die toekoms sal ek maar weer dié baken slegs van oorkant die pad bewonder.
Met al die tekens van vandalisme om ons, het ons besef dat ons eerder die komende Saterdag ’n dagtoer buite Parys moes onderneem en ons het ’n bustoer na Mont Saint Michel bespreek. Die Saterdagoggend toe die bus douvoordag verby die Arc de Triomphe ry, het daar reeds ’n magdom polisiewaens en onlusvoertuie gereed gestaan. Die vier en ’n half ure rit na die dorpie Mont Saint Michel waar ’n middeleeuse klooster op ’n eiland in die see gebou staan, was lank, maar beslis die moeite werd. ’n Asemrowende uitsig wag as mens die steil straatjies van die middeleeuse dorpie en 350 trappe tot binne die klooster geklim het.
Na ’n wegneemete van Franse broodjies en roomys, het ons dankbaar teruggeklim in die bus vir die vier en ’n half ure terug Parys toe. In Champs Élysées was die skade wat deur die dag deur die Geelbaadjies aangerig is, opvallend. Oral was restaurante se vensters gekraak of flenters en skoonmakers was reeds besig om bakstene, gebreekte vullisdromme en rommel langs die straat te verwyder.
Na ’n paar treinlyne terug hotel toe, het ons gou by die supermark net om die draai vir ons mikrogolfaandetes koop wat ek dankbaar met ’n heerlike winskoopwyn van €3.10 (so net oor die R50) per bottel afgesluk het terwyl ons die Saterdagnaglewe vanaf ons balkon bekyk. Ten spyte van die yskoue aandlug kan die Franse tieners vir jou omtrent ’n bohaai opskop. Tot laatnag het die groepie in die parkie oorkant ons hotel, gekattemaai.
Sondagoggend het ek gou wasgoed gewas in die hotel se waskamer – ’n winskoop teen €9 vir ’n groot bondel se was en tuimeldroog, waar ander hotelle maklik €9 vir ’n enkele langbroek vra. Daarna het my seunskind en sy pa koers gekies na die weermagmuseum, Les Invalides, om wapens te gaan kyk en Napoleon se graf te besoek. Ek en die “mademoiselle” het weer koers gekies na Montmartre waar ons ’n paar ure deur die souvenir-winkels kon drentel en die mooiste aandenkings aangeskaf het.
’n Paar treinritte verder, kry ons die manne voor die Notre Dame sodat ons in die tou kan val om die katedraal van binne te bekyk. Dit was my derde keer binne dié majesteuse kerk wat reeds 856 jaar een van die bekendste bakens van die stad langs die Seine is. Op ’n Sondag heers daar ’n ekstra gewydheid binne die kerk en ons kon ons verkyk aan die honderde kersies wat vir geliefdes brand, eeueoue kunswerke en tonele en biddende gemeentelede terwyl die flou lenteson deur die kleurvolle gebrandskilderde venters skyn. Ek onthou dat ek ’n paar keer gedink het: Wanneer kom ek weer hier…?
Die Latynse distrik, Quartier Latin, oorkant die Seine van die Notre Dame, se vrolike restaurante het gesorg vir ’n heerlike driegangmaaltyd teen ’n spotgoedkoop €10 per persoon – ongelukkig kos die drinkgoed amper net soveel per persoon!
Laatmiddag het ons die gebied rondom die Sorbonne-universiteit, asook die Panthéon en groot afdelingswinkel, Galeries Lafayette, besoek. By laasgenoemde het ons ’n gesellige anderhalfuur vertoef op die vloer wat die speelgoedwinkel en boekwinkel huisves.
Met die son wat reeds aan die sak was, het ons besluit om die treinlyn tot naby die Eiffeltoring te neem. Die staalstruktuur was pragtig afgeëets teen die skemerlug en ons was betyds om die liggies te sien aangaan. Tientalle foto’s is geneem en ons het omgestap na die anderkant vir nog selfies saam met die aandtoring. Weer is ons verras toe die liggies teen donkertyd skielik begin flikker. Ons het selfoonvideo’s geneem en ’n gawe Amerikaner het gevra of sy ’n gesinsfoto van ons voor die flikkerende ikoon kan neem.
Na kilometers se stap deur die dag, was ons dankbaar toe ons ’n paar treinstasies later by die hotel aankom. Tuisgemaakte bolognaise, kiwigeur Fanta en nog supermarkwyn het ’n perfekte dag afgesluit.
Die Maandagoggend het ons by die metrostasie die naaste aan die hotel gaan uitvind oor treinkaartjies na Versailles. Dertien jaar gelede het ek en my man dié paleis besoek, maar die tuine was deels toegemaak weens opgraderingswerk.
Na verskeie pogings om die vrou by die kaartjiekantoor in Frans te oortuig dat ons retoerkaartjies wil koop vir die buitelyn na Versailles, het ’n liggie skielik by haar opgegaan: “Ah, you go back… and then back!” Haar eerste “back” het in Versailles se koers beduie en die tweede “back” terug tot by dié stasie. “Oui!” het ons in ’n koor laat hoor waarna sy toe sommer die roete en verskillende stasies op ‘n kaart vir ons beduie het en gesê dat die treinkaartjie ook geldig is vir die “shuttle” wat ons van die treinstasie af na die kasteel sou neem. Die “back and then back” het summier ons gunstelingsêding vir die res van die toer geword.
In die dorpie Versailles aangekom, het ons by die toerismekantoor gevra waar ons die “shuttle” kan neem. Die man het egter verstaan “château” en ons om die draai en vyf minute pad af beduie. Groot opgewondenheid toe ons die Château de Versailles in die verte gewaar en boonop sien dat daar nie lang toue by die ingang is nie. Ons is deur sekuriteit en het die mense gevolg tot by die tuine. Die fonteine het soos die vorige keer nie gespuit nie, maar die reuse tuin se terrasse was pragtig.
Na ’n wandeling deur die tuin het ons die kaartjieskantoor gaan soek. By ’n deur waar mense in- en uitgaan, het ’n Franse dame ons ferm ingelig dat die paleis op ’n Maandag “ferme” is. Gesluit. Ons het meer as ’n uur en ’n half se treinrit onderneem om voor geslote deure te beland! En nie een enkele siel vir wie ons raad oor kaartjies, roetes, busse of enigiets gevra het, het gedink om ons te waarsku nie!
So leer ’n mens. Ons het uitgerus op die trein terug Parys toe en ’n paar plekke gaan opsoek wat ons nog graag wou sien, soos die Shakespeare & Company-boekwinkel. Daarna het die kinders verspot agter reuse borrels aangehardloop wat ’n vrou op die plein voor die Notre Dame geblaas het. Hier het ons Suid-Afrikaners raakgeloop wat sowaar ook van Worcester kom. Na ’n draai deur die duurder souvenir-winkels in die omgewing van die Notre Dame, is ons terug hotel toe vir nog ’n tuisgemaakte aandete terwyl ons “The Big Bang Theory” in Frans kyk.
Dinsdagoggend het ons vroeg treinkaartjies gaan koop vir ’n uitstappie na Provins. Dit is ’n middeleeuse dorpie 90 km suid-oos van Parys. Ons het die vorige aand ’n bietjie opgelees oor die dorpie, maar was aangenaam verras deur die pragtige argitektuur en ongelooflike uitsigte. Nadat ons die paar kilometer afgelê het om die ou stadsmuur te klim, het ons weer koers gekies terug stasie toe om vir oulaas deur Parys te gaan dwaal.
En dit is hoeka hierna op die metro in spitsverkeer wat ons toe deel van die sakkerollerstatistiek word. Na die gesteelde kaarte danksy ’n restaurant se gratis wifi gekanselleer kon word, het my jongste eenvoudig geweier om terug te klim op enige trein. Die skrik en kwaad het nog te vlak gelê en ons vier het die amper drie kilometer terug hotel toe gestap.
Ons sou ’n toergroep vriende van Worcester die aand vir ete ontmoet, maar het afgespreek om hulle eerder die volgende dag op die stasie te ontmoet waar ons almal die RER-trein na Disney Paris sou neem vir ons laaste dag in Parys.
Disney was soos ek dit verwag het: Oorweldigend en groot en besig. As dit in die middel van ’n gewone week in Maart só lyk, wil ek eerder nie weet hoe stampvol dit in die Europese somervakansie is nie. By van die ritte was die wagtyd tot ’n uur lank.
Die nagemaakte dorpie waardeur mens tot by die pienk paleis stap, is propvol detail en mens verkyk jou. Maar, die Disney-deuntjie wat oor en oor kliphard deur die park weergalm sal ’n mens na ’n paar uur van jou trollie af hê. Ons seun was veral beïndruk met Marvel Studios en die StarWars 3D-pretrit waarop ons was. Vir my meisiekind was ritte op die kleurryke carousel en pragtige prinsesrokke en ander Disney-memorabilia die hoogtepunt. Vir my was die lekkerste deel van die uitstappie die heerlike pizza in Planet Hollywood en die geselsies met mede-Worcesteriete op die trein terug Parys toe.
Sal ek weer soveel Euro’s en tyd aan Disney Paris spandeer? Nie sommer nie.
Die aand het ons vir oulaas in ’n Paryse Italiaanse restaurant met ons vriende gekuier en na ’n taxirit deur ’n humeurige Fransman terug hotel toe, het ek gou ons tasse gaan uit- en oorpak vir ons volgende avontuur.
Ek het besef dat ons ’n plan sal moet maak met die drie sakke vuil klere wat weer eens opgehoop het. Die Donderdagoggend het ek dus blitsvinnig voor 08:00 munte vir die wasmasjien en tuimeldroër by die hotelontvangs gaan koop en uitgewerk dat 45 minute vir was en 45 minute vir droog, ons net mooi ’n ekstra halfuur sal gun voor die taxi ons kom oplaai.
Na die uur en ’n half, toe ons by die tuimeldroër kom, besef ek dat die nat jeans en sokkies net een ding beteken: Ek het ondanks die duidelike flikkerende instruksies in Frans, vergeet om die “Start”-knop te druk toe ek die munt in die tuimeldroër gedruk het. Hoe meer haas, hoe minder spoed! Die taxi is met 15 minute uitgestel en na nóg ’n driekwartier, was al die klere darem droog en in tasse geprop.
Die spoedtrein was vir die kinders nog ’n eerste belewenis. Ons het deur die platteland tussen Parys en België en later Nederland teen ongeveer 290 km per uur geblits. Ek het deur ons Amsterdam-boekie van dertien jaar gelede geblaai en notas gemaak van al die belangrikste plekke wat ons graag sal wil besoek. Ook danksy die gratis wifi op die trein, gekyk of daar enige dae is wat van die belangrikste plekke dalk gesluit is. Ons wou nie ’n Versailles-herhaling hê nie.
Op Schiphol-lughawe se treinstasie aangekom, was dit heelwat koeler as waaraan ons gewoond geraak het in Parys. ’n Ligte motreën het oor ons gesif terwyl ons vir die hotelbus wag.
Die hotelkamer vir vier was effe meer beknop en veel minder ingerig as die woonstel in Parys, maar ons tyd in Amsterdam was beperk en ons sou letterlik net saans hier stort en slaap.
Ons het warm baadjies aangetrek en weer die hotelbus terug lughawe toe geneem waarvandaan ons die trein sou neem na Amsterdam Centraal. Dit was opvallend hoeveel meer behulpsaam die Nederlanders by die kaartjiekantoor was as die Franse. Ook op die perron is die personeel vriendelik en baie meer paraat om reisigers veilig te hou. Die treine was moderner en skoner as dié in die Franse hoofstad en spoedig het ons uitgeklim by die hoofstasie in Amsterdam. Ek wou huppel toe ek weer die bekende Damrakstraat en geboue gewaar.
Die sypaadjies was op hierdie Donderdaglaatmiddag ’n mengelmoes van pendelaars en toeriste. Oral was groot blombakke vol tulpe in die helderste skakerings van rooi, pienk en gemeng.
Ons eerste stop was met ’n draai langs die gragte, Anne Frank se huis om kaartjies te koop. Na etlike foto’s by die gragte met die tipiese regop, soms skewe, Amsterdamhuise in die agtergrond, het ons by Anne Frank se standbeeld gestop vir ’n foto en verneem dat die huis reeds toe is vir die aand. Eers later via Google sou ons uitvind dat ’n mens reeds weke vooruit aanlyn kaartjies moes bespreek – en dit is die enigste opsie. Reeds toe was daar ’n waglys van bykans 1 500 mense en ons sou reeds twee dae terug wees in Suid-Afrika voor ons sou plek kry. Ons kon darem ’n gesinsfoto laat neem voor die deur van die befaamde huis.
In die smaller stegies was die reuk van daggarook oorweldigend, veral buite die kroeë. ’n Mens se kop draai lateraan daarvan.
Argentynse restaurante is volop in die middestad en aangesien ons ’n bietjie uitgeëet was aan Franse brode, pasta en pizza, was ons dankbaar vir ’n heerlike biefstuk vir aandete.
Ons het via strate vol souvenir-winkels en plek-plek pleine en bome vol vrolike liggies in die koue aandlug teruggestap stasie toe om weer die trein en bus te haal hotel toe.
Die Vrydagoggendoggend het ons na ’n heerlike Engelse ontbyt teen ’n winskoop €4-95, by ’n toerismekantoor gaan uitvind oor dagtoere buite Amsterdam. Ons wou graag die kusdorpie Volendam besoek en moontlik ook windmeulens. Sommer gou kon ons vir dieselfde middag ’n toer bespreek na Zaanse Schans vir windmeule, Volendam (vir ’n kaasfabriekdemonstrasie) en ’n bootrit na Marken vir ’n besoek aan ’n klompemakery.
In die uur of drie tot ons beskikking voor die middagtoer, het ons die museumkwartier besoek – waar ons weer eens besef het dat kaartjies lank vooraf bespreek moes wees indien ons Rembrandt van Rijn of Van Gogh se werke van naderby wou bekyk. Ons het deur Vondelpark gestap en by Madame Tussauds, die wasmuseum, ingegaan waar ons kennis gemaak het met die effe stywe bolippe van bekende filmsterre, kunstenaars en koninklikes.
Die middagtoer se busrit het begin met ’n vrolike reus van ’n busdrywer wat ons op klawerbordspel trakteer het voor die bus vertrek het. Gedurende die rit is ons vermaak met kwinkslae en inligting oor die omgewing. Elke stop op die toer was ’n belewenis – van opklim met ’n leertjie tot bo op ’n windmeul, tot kaasproe en klompe aanpas. Ons was spyt toe die bus na skemer weer sy neus in die rigting van Amsterdam druk.
Terug op die lughawe vanaf Amsterdam Centraal, het ons gou ’n wegneemete gekoop en daarna is ons via die hotelbus terug om ons moeë bene te gaan rus.
Die Saterdagoggend het ons weer die ontbytwinskoop geëet en daarna op ’n bootvaart op die Amstelrivier meer geleer oor Amsterdam.
Toe het ons weer die strate ingevaar op soek na die kleinste huisie in die stad en ook Europa. Google Maps het ons in ’n straat af geneem en nadat ek in die verbydraf ’n piepklein koffiewinkel met ’n vrolike rooi voorkant bewonder, besef my man ons is skoon verby die klein monument. Het Kleinste Huis is geleë in Oude Hoogstraat 22 en is slegs 2.02 meter wyd en 5 meter diep. Met sy tuitgewel herinner dié huisie aan die tipiese kanaalhuise langs die gragte van Amsterdam. Deesdae word die huisie as ’n tee- en keramiekboetiekwinkel en koffiewinkel bedryf waar heerlike fyngebak geniet kan word – natuurlik ook teen ’n fyn prys.
Ons het sommer ’n klomp foto’s van hierdie pragtige, unieke huisie met sy rooi voorkant geneem. My dogtertjie skryf in haar reisdagboek: “Terwyl my ma ’n foto geneem het van die kleinste huisie, stap daar ’n Franse man verby en sê in Frans vir sy vriende: ‘Hulle neem ook foto’s van alles!’ My ma sê toe vir hom in Frans: ‘Jy is baie snaaks!”
Ons het lekker gelag oor sy gesigsuitdrukking – en darem nie ook ’n foto daarvan geneem nie.
Die middag het ons die blommemark besoek en ons verkyk aan die veelkleurige tulpe en snuisterye wat te koop is. Ongelukkig is die laaste egte blommeverkoper by dié mark van voornemens om binnekort sy stalletjie te verkoop. Volgens ’n artikel wat ek gelees het, voel hy dat hy nie meer langer wil meeding teen die tipiese toeristegeöriënteerde neiging van geen vars blomme nie, maar sade en souvenirs, wat die bekende mark oorgeneem het nie.
Die Leidseplein is ’n mengelmoes van studente en toeriste op ’n Saterdagmiddag en ons het in ’n netjiese kroeg eg Nederlandse krokkette en “bitterballen” geëet terwyl die plaaslike mense sokker en ander sport luidrugtig op televisieskerms dophou.
Ons het met ’n ompad beland in die rooiligdistrik en maar baie vinnig weer ons pad uit Die Walletjies probeer vind tussen die winkels met vreemde voorwerpe in hulle vensters en plek-plek ’n lewendige, skamel geklede dame wat haar bates agter glas ten toon stel.
Ons het gereeld groepe jongmense teëgekom wat duidelik henne- en haneparty hou in die strate. Amsterdam is steeds ’n gewilde naweekkuierplek vir Europeërs.
Nadat ons ingeloer het in De Bijenkorf, die reuse winkelsentrum met ekslusiewe winkels van regoor Europa, het ons deur die aandenkingswinkels van Damrakstraat gedwaal en by ’n Italiaanse restaurant in ’n systraatjie gaan eet.
Met koffieroomyse vir nagereg, het ons vir oulaas die liggies in die strate wat weerkaats op die Amstelrivier bewonder en koers gekies hotel toe.
Ons het gewik en weeg of ons dit die volgende oggend moet waag om die trein Delft toe te neem, maar aangesien ons reeds weer drieuur moes terug wees in Amsterdam om gereed te maak vir ons vlug via Frankfurt Kaapstad toe, het ons die Sondagoggend maar eerder weer deur die middestad gestap tot by die blommemark, ’n paar laaste aandenkings en eg Hollandse kaas gekoop, en gaan regmaak vir ons lang vlug terug.
Die selfoontoepassing wat daagliks my treë tel, het dan ook bevestig dat hierdie oggend se vinnige heen-en-weer deur Amsterdam se hoofstraat, die kortste roete was wat ons in ons hele toer gestap het: 9.42 km. Die dag wat ons die verste gestap het, was die dag in Parys toe ons paaie met die sakkeroller gekruis het: 16.64 km.
Sal ek weer met my kinders oorsee wil gaan? Beslis en vanselfsprekend. Was dit stresvol en uitputtend? Natuurlik. Maar, ten spyte van treine wat op en af jaag, treindeure wat kan toegaan terwyl iemand nog buite staan, sakkerollers en die stewige Euro, was ’n gesinsvakansie op ’n stywe begroting steeds veel lekkerder as ’n sakereis terwyl jy jou maar heeltyd oor die kinders by die huis, duisende kilometer verder, bekommer.
Al was ons gereeld in mekaar se hare en ruimte. Soos ’n vriendin opgemerk het: By die huis is ’n mens ook maar in mekaar se hare en jy beleef veel minder avonture.
So, ja, die reisgogga het die jongspan nou ook behoorlik gebyt. In hulle oë is die liggies aangesteek dat daar ’n groot, wye wêreld met uiteenlopende kulture is om te beleef.
Al is hulle pretieners, verstaan hulle nou bietjie meer van die geskiedenis en hoe belangrik dit is om daaroor te lees, maar dit ook te beleef.
Hulle kyk met nuwe begrip na die yskasmagneet wat hulle ouma reeds lank gelede vir my present gegee het: “At reise er at leve!” (Hans Christian Andersen)
Om te reis is om te lewe.