As jy baie reis, is daar min goed so belangrik soos goeie koffie, ’n skoon bed, wit linne, warm water, en skoon handdoeke (sag, en wit as dit enigsins kan). Sonder ’n televisie, haardroeër, WiFi en ’n bedliggie kan ek net-net klaarkom. Die goeie koffie ook. Maar sonder ’n skoon bed, wit linne, warm water en skoon handdoeke? Moeilik, baie moeilik. O ja, en wintertyd soek ek ekstra komberse in die kas. Vir koud kry alleen in ’n vreemde bed is ek nie gemaak nie.
So beland ek op ’n plek waarvan ek die naam liefs nie sal noem nie. Met die intrapslag weet ek: haal diep asem. Omdraaikans is min. Die stof lê dik op die sitkamerkas, daar’t al baie mense op dié eetkamerstoele gesit, die sitplekke hang byna op die grond. Op elke tafel staan ’n versameling souse – my oog wil-wil na die vervaldatums dwaal, maar verstar toe ek die ou taai om die bottelkoppe sien.
Die kombuisdeur swaai oop. “Drie of vier. Kies,” sê sy. Vriendelik, maar sonder te veel belangstelling in my óf my bagasie. Ek suiker gang-af en kies 4. Dis ’n ruim lêplek. Die voeringlose, blou gordyne mis hier en daar ’n hakie. Moedeloos. Die gordyne is moedeloos, dink ek.
In die middel van die vertrek staan die bruin bed met sy bruin deken, bruin kussings en bruin lakens. Twee verdwaalde blinkblou strooikussings-uit-gister-se-kas moet die prentjie met die gordyne maak werk. Aan die onderpunt van die bed lê twee bruin handdoeke, hard van ure se bak in die son.
Ek haal (weer) diep asem. Daar’s erger goed in die lewe, maak ek myself wys.
Slaaptyd staan die hare op my arms penorent. Dis snerpend koud, daar’s nie komberse in die kas nie, die stortwater is koud en my gasvrou het lank reeds na haar eie blyplek verkas. “Een nag, dis net een nag,” sê ek en trek my dagklere laag-op-laag oor my pajamas aan.
Ek kan nie slaap nie, verbeel my ek voel hoe onsigbare kreature onder al die lae op my vel krioel en wonder wie anders was in die kamer, in die kooi, in die stort en wie se lyf is met die harde, bruin handdoeke skoongevee. Waarvandaan kom hulle, wat soek hulle hier, wat het als agter hierdie toe deure gebeur?
Wéér weet ek: soms, net soms, moet jy in ’n vreemde se bed jou lê probeer kry. Ruil die wit lakens in jou kop vir bruines, weet dat komberse in die winter skaars kan wees, dat stortwater nie altyd warm is nie en dat ou taai aan die bopunt van sousbottels ’n eie storie vertel.
Ek staan op en begin die moedelose gordyne se hakies een vir een terugklik. So ja. En klim tevrede terug in die vreemde bed.
Tot volgende week,
Marí
www.incontext.co.za