Lizanne Barnard verskyn eersdaags by Aardklop in die produksie Landskap, waar vier sangers hul toonsettings van Suid-Afrikaanse digters se werke aanbied. Dit sluit in toonsettings van gedigte deur Ingrid Jonker, N.P. van Wyk Louw, Fanie Olivier, Eugène Marais en Griekwa-psalms, onder andere. Ons het ’n bietjie met haar hieroor gesels.
Lees ook meer oor rooi rose en Revlon SA se betrokkenheid by ‘Landskap’ hier
Vertel ons meer van Landskap.
Landskap het op ’n goeie tyd in my lewe gekom. Dis vir my ’n eer en ’n voorreg om die verhoog te deel met Anna Davel en die res van die span. Die show is ’n kunstige vermenging van uitstekende musikante, musiekskrywers en komplimenterende oudio-visuele materiaal. Liedjies is met die hand uitgekies en elke kunstenaar kry sy/haar beurt om ’n paar solo’s te sing met harmonieë en instrumentele ondersteuning. Mens kan amper sê die gehoor kry “die beste van die beste.”
Hoe ken jy die ander musikante in hierdie projek?
Ek en Laurinda Hofmeyr het jare terug saam musiek geswot op Tuks en was saam betrokke in Die Kind is nie Dood nie, ’n show oor Ingrid Jonker geskep deur Johann Rademan. Ek het geweldige groot respek vir Laurinda Hofmeyr se vermoë om te toonset. Daar is min mense wat haar skoene op hierdie gebied kan volstaan. Anna Davel en ek het mekaar gereeld op kunstefeeste raakgeloop en ge-chat en CD’s uitgeruil, maar mekaar nooit regtig leer ken nie. Anna is die regte-egte sangeres in Landskap en ook die een met die meeste ervaring. Om saam met haar te werk is net ’n plesier, want sy het absoluut geen chip op haar skouer nie en jy weet presies waar jy met haar staan. En sy is great met make-up!
Is daar ’n spesifieke toonsetting wat vir jou uitstaan?
ek sal sterf en na my vader gaan deur Breyten Breytenbach getoonset deur Laurinda is myns insiens ’n klein meesterwerk. Daar is geen melodie betrokke nie. Haar fyn nuansering van spraak-stemtoon en die woordritme in samewerking met baie slim klavierbegeleiding werk net ongelooflik goed.
Lees hier meer oor die produksie
Jy is besig met ’n produksie van Ingrid Jonker-toonsettings genaamd Poppemeester, en saam met jou vorige groep Marimba! het julle ’n album met toonsettings van Eugène N. Marais se gedigte (Uit die Bloute) opgeneem. Waarom is toonsettings so belangrik vir jou?
Vandat ek kan onthou was ek ’n musikant – ’n pianis. En ek het vertroue ontwikkel in my tegniese vaardigheid op ’n klavier. Nadat ek die eerste keer voor mense gesing het en tot die besef gekom het hulle hou actually daarvan, wou ek meer en meer sing. My eerste liedjies was almal in Engels. Dit was nie in my tienerdae enigsins cool om in Afrikaans te sing nie. En toe lees ek Die Groot Verlange (’n biografie van Eugène Marais deur Leon Rousseau) en ek raak verlore en selfs tydelik verlief, dink ek, op Eugène Marais en sy gedigte. Ek het 80 persent van die liedjies vir die verhoogstuk Uit die Bloute (wat bestaan het uit toonsettings van Eugène Marais se gedigte) in iets soos twee weke geskryf. Dit was suiwer inspirasie. Daarna het Ingrid Jonker aan die beurt gekom. Dit was ’n hele ontwakingsproses wat amper soos ’n liefdesverhouding was. Ek het my taal liefgekry. En ek wou in my taal sing. Toonsettings van gedigte was dus die logiese uitvloeisel.
Hoe benader jy toonsettings?
Deesdae maak ek minder staat op die klavier. Ek moet alleen wees en daar moet stilte wees. Dan lees ek die woorde. Dan begin ek dit hardop lees en ondersoek die ritmiese moontlikhede. Die melodie begin gewoonlik dan posvat. Ek weerhou myself om dadelik klavier toe te gaan tot ek teoreties ’n vorm het en meeste van die melodie het. Dan gaan ek klavier toe. Die keuse van die toonaard is baie belangrik vir die gevoel van die gedig se tema en ook vir my stemomvang. Daar is gewoonlik net een wat honderd present werk. Hierdie proses kan ’n paar uur neem of korter, maar ook heelwat langer. Deesdae maak ek baie gebruik van voice recordings per foon. Dis ’n lekker hulpmiddel om frases vas te vang wat jy nie wil vergeet in die proses nie.
Hoe verskil toonsetting daarvan om jou eie lirieke te skryf?
Eers toe ek ’n bietjie ouer was het ek met selfvertroue my eie lirieke begin skryf. As mens ’n paar lewenslesse geleer het en ’n paar moeilike dinge moes deurwerk raak dit makliker om met outoriteit daaroor te skryf en te sing. Al my liedjies is ’n refleksie van wat ek in die lewe meestal op emosionele vlak ervaar. My huldeblyk aan Ingrid Jonker, Poppemeester, se titelliedjie vertel ’n baie persoonlike verhaal en so ook die lirieke van 90% van die materiaal wat op my debuut solo-album Mis voor die Son voorkom. Om iemand anders se woorde te toonset verg groot verantwoordelikheid en integriteit. Om jou eie lirieke en musiek voor mense uit te voer is ’n baie groot emosionele blootstelling en wanneer die gehoor wys dat hulle daarvan hou is die gevoel van dankbaarheid en genoegdoening nog dieper as in ander gevalle.
Wie is jou gunsteling- Afrikaanse digter? En het jy ’n gunsteling-gedig of versreël?
Lidi de Waal (ek glo nie sy noem haarself ’n digter nie), maar haar skryfwyse resoneer met my asof sy elkeen spesiaal net vir my geskryf het. Haar werk is eerlik en totaal informeel, maar die hartswaarde daarin is enorm en tref diep. Ek het nou pas my twaalfde toonsetting van haar goed voltooi en dit sal dan ook my volgende album wees. Ek was baie, baie lanklaas so gefokus en passievol oor ’n projek soos ek nou is oor Lidi se goed.
Ek hou so baie van derduisende verse en frases en gedigte, maar vir een of ander rede staan Ingrid Jonker se Ek het gedink en haar verwysing na die “sagte nag” vir my uit. Daardie wakkerword en weer onthou iemand wat na aan jou was is nie meer daar nie …
Jy was vir lank deel van die duet Marimba! en julle het beide plaaslike en oorsese (veral in Nederland en België) sukses behaal. Vertel ons meer van hierdie groep en die ervarings wat jy daarby meegemaak het.
As lid van Marimba! het ek vir die eerste keer die kollig-belewenis ervaar. Dit is baie opwindend om vir die eerste keer onderhoude en fotosessies te doen en in koerante, tydskrifte, op televisie en radio te wees. Ek het baie geleer, want ons het iets reg gedoen, maar ook baie foute gemaak. Ek en my destydse eggenoot was ongelukkig ook veggenote wat die hele Marimba!-ding gekompliseer het. Maar wat ek geleer het is om iets met jou musiek en jou image te doen wat uitstaan. Die idee om ’n Afrika-marimba in stede van ’n baskitaar te gebruik was een van Abraham (Helberg) se unieke idees en dit het gewerk. Selfs die volstruise se koppe op Oudtshoorn het gedraai as ons met daardie kasarm op die kar se dak verbygery het. En natuurlik was die politieke klimaat reg vir so iets. Mandela was pas vrygestel en hier sing twee Afrikaners Eugène Marais-gedigte saam met ’n swart perkussiespeler. Die mense en die media het van die aardse-esoteriese klank gehou, maar ook van die prentjie. Ons eerste foto was van my en Abraham en Daniel Masilelea met die yslike marimba en ’n koedoe-horing voor die Uniegebou.
Jy het ook vroeër vanjaar saam met jou suster opgetree in die produksie Totally Twins. Vertel ons meer daarvan en hoe dit voel om saam met jou suster musiek te maak.
Ek en Annemarie is ’n tweeling. My ma het altyd vertel dat as ek my bottel leeggedrink het, het ek eenvoudig hare gevat en opgedrink. Ons het as jong meisies verskriklik baklei en nou is ons beste vriendinne. Ek werk verskriklik lekker saam met haar omdat ons mekaar so goed ken. Sy verstaan my nukke. Ek wil-wil soms perfeksionisties raak en sy bly net kalm. Ek dink omdat ons so na aan mekaar is, deel ons iets wat onsigbaar is wat die musikale interaksie tussen ons interessant maak.
Hoe en hoekom het jy ’n musikant geword?
My pa was een van nege kinders en almal was baie musikaal met geen formele lesse of instrumente nie. Ek en my sussie het op 5-jarige ouderdom begin met klavierlesse, tweekeer ’n week. My ouers het besef dat ons talent het en hulle het ons aangemoedig. Ek het van baie vroeg af geweet ek wil ’n musikant wees. Niks anders nie.
Watter instrumente bespeel jy?
Ek het my B.Mus onder leiding van Marian Friedman voltooi in klavier. Dwarsfluit was my tweede instrument. Ek het formeel begin sing nadat ek ATKV Crescendo gewen het in 1993.
Wie is jou gunteling-komponis en musikant?
Ek is versot op Rachmaninof.
My gunsteling-musikant is my seun (soos in regtig).
Is daar ander projekte waarmee jy op die oomblik besig is?
Die vier projekte waaraan ek op die oomblik werk, is die verwerking en opname van my album met Lidi de Waal-toonsettings. Die plan is om dit as ’n verhoogproduksie met Elize Cawood in die rolle van die ouma en die kind wat regdeur Lidi se verhaaltjies verskyn, aan te bied. Lidi skilder ook en ek wil haar live laat skilder as deel van die produksie.
Die tweede projek wat reeds loop is my huldeblyk aan Ingrid Jonker, Poppemeester. Dit is ’n multi-media-produksie waarin die digter in haar eie stem gesels oor haar werk en lewe, toebelig met toonsettings deur myself, en choreograaf-danseres Iefke Worst en marionettemaker en manipuleerder Reinette Fourie se werk wat verwerk is vir die skerm deur Wayne Raath.
Die derde projek is Pyjama Shark & The Lady waarin die musiek van my seun Adam Helberg oftewel Pyjama Shark tentoongestel word. Hy is ’n perfekte samestelling van sy musikale ouers met ’n goeie skoot van sy eie uniekheid daarby. Sy lirieke en vars musikale komposisies en sang is in hierdie stadium van my grootste inspirasies. Genre: “juxta-rock”. Dromspeler Thys van Deventer werk saam.
Laaste en baie opwindend is die herlewing van die bekroonde verhoogstuk Uit die Bloute wat destyds saam met Anna-Mart van der Merwe en Gys de Villiers en Marimba! gebeur het. Dit word vervaardig deur my produksiehuis Word Stil en Luister in samewerking met Giep van Zyl. Ons open volgende jaar by Innibos maar die keer met nuwe akteurs en Henriëtta Greyfenberg in die skoene van regisseur. Musikante: Leon Ecroignard, weer Jahn Beukes en ek.
Jy het in 1993 die ATKV Crescendo-toekenning ontvang en het daarna ook vele toekennings verower. Hoe belangrik is sulke toekennings, veral as mens dink aan die Suid-Afrikaanse musieklandskap en musikante wat dalk nie noodwendig hoofstroom of kommersiële musiek maak nie?
Ja, jy lees die situasie heeltemal reg. Ons musikante en musiekskrywers wat onsself op die fringe bevind gaan waarskynlik nooit die blootstelling kry wat die kommersiële ouens geniet nie, maar ek kan net skep wat ek skep. Ek sterf liewer voor ek my naam koppel aan, of my tyd mors met, ’n minderwaardige produk vir watter rede ookal. Ons is ’n “familie” op ons eie wat mekaar ondersteun en aanmoedig. Daarom is dit baie lekker om erkenning te kry. Mense neem jou ook net ernstiger op as jy Woordtrofee of Crescendowenner op jou CV kan skryf. It’s just the way it is.
Wat was tot dusver hoogtepunte in jou loopbaan?
Om as Crescendowenner aangewys te word was ’n baie groot lekkerte en ’n groot baken. Ek het dit glad nie verwag nie, want ek het eintlik gedink ek kan nie regtig sing nie. Dit was ’n wonderlike verrassing. Die lootsingskonsert van my debuut solo-album Mis voor die Son in 2014 by die Centurionteater waarvoor daar byna 200 mense opgedaag het en soos een man opgestaan het vir ’n staande ovasie, was vir my ’n groot oomblik. Om na 22 jaar as lid van ’n duet jou eie ding te begin doen is nogal scary en daardie aand was vir my ’n wonderlike aansporing.
Wie of wat is vir jou belangrik?
My man en my kind. My verhouding met God (hoe rampspoedig ookal met tye). Dit het my lank gevat om uit te kom by ’n punt waar ek myself goed leer ken en werklik leer liefkry het. Dit is vir my belangrik om getrou aan myself te wees.
Wat is jou gunsteling-landskap?
Daar waar die woestyn en die see bymekaarkom.