In ander nuus … Kondensmelk teen die koue (en die klagtes) deur Ilse Salzwedel. Hooffoto: iStock/izhairguns
In ander nuus … Kondensmelk teen die koue (en die klagtes)
“Nou hoekom drink ons nog die hele tyd gewone tee as hier kondensmelk in die kas is?” vra my jongste verbaas.
En ook effens geskok, want wie sou nou kon dink dat kondensmelk ‘n altyd-honger-tiener se skerp oë kan ontsnap ten spyte van herhaalde besoeke aan die spenskas die afgelope twee weke.
So opgewonde is hy oor die ontdekking, dat hy glads aanbied om dadelik tee te maak. Wat nogal iets is, want in ons is huis is daar streng werksverdeling as dit by koffie en tee kom. Luc is eintlik die koffiemaker en Zoë sorg vir die tee.
Maar kondensmelk verander selfs die traagste teemaker in ‘n blitse vrywilliger.
Kondensmelk – watter wondersoete ding (met apologie aan D.F. Malherbe en sy ode aan slaap.)
Wie onthou ons kleintydse Saartjie en Trompie-boeke en al die middernagfeeste waarin ‘n blikkie kondensmelk altyd op die spyskaart was? En al was daar nie ‘n reuse verskeidenheid lekkergoed op die rakke in ons kleintyd nie, was daar Pikkies, sulke klein driehoek-boksies (amper soos vrugtesapboksies) met ‘n leksel kondensmelk in.
Om nie eers te praat van al die wonderlike koeke, terte en nagereg waarin ons ma’s kondensmelk gebruik het nie: lemon meringue, suurlemoenmaaskaastert, kaaskoek, tuisgemaakte roomys, ongebakte melktert…
(En ja, ons ons het skynbaar oornag in ons ma’s verander, want danksy COVID-19 bak en brou ons mos dat die meel spat! Ek voorspel reuse verliese vir Woolies …)
‘Nestlé’s condensed milk, the richest in cream.’ Vintage #Nestlé ad from 1905: https://t.co/i8YMxjgVdX #150Nestle pic.twitter.com/2YESZq4qGp
— Nestlé (@Nestle) February 17, 2016
Maar die woord kondensmelk sal my altyd herinner aan ‘n bitter koue aand in ‘n klein dorpie (wat liewers naamloos sal bly) iewers in die diep Vrystaat. Ek en die kinders (toe omtrent 8 en 11, as ek reg onthou) is op pad Karoo toe vir ‘n plaasvakansie, maar op pad wag daar eers ‘n dag se navorsing in die spesifieke dorpie vir ‘n boek waaraan ek gewerk het.
Ons vertrek so om en by 10h00 die Sondagoggend uit Johannesburg. Ons is mos met vakansie, so wat is die haas?
Dis Junie, maar tipies van die Hoëveld is dit ‘n verleidelike mooi dag met temperature wat my nie eers twee keer laat dink oor moontlike koue nie. My vriendin het gewaarsku dat die Karoo “baie koud” kan raak, maar koue is mos maar relatief, of hoe?
Vir een of ander vreemde rede pak ek daardie dag gebraaide wors en broodrolletjies vir padkos in – iets wat ek nooit eintlik doen nie, want as enkelma (en dus ook alleen-bestuurder) bied ‘n stilhou by ‘n Ultra City se eetplek die ontspan- en koffiedrink-kans wat ek nodig het vir die volgende paar honderd kilometer. (Deesdae is ek gelukkig as ek bestuurkans kry – daar is immers nou twee jongelinge in my huis wat mekaar omtrent platduik om eerste agter die stuurwiel te wees.)
In ‘n motor is die temperatuur mos relatief konstant, maar toe ons iewers die middag by Bloemfontein se Ultra City stop vir koffie, tref die koue ons soos ‘n emmer yswater.
Gelukkig het ons darem ‘n warm ding elk in die motor. Buitendien kry ek nie veel kans om te dink oor die koue nie, want die kinders wil summier al ons oorskiet padkos vir die garage-kat met haar norring kleintjies voer. (Ek en my kinders is al drie totale suckers vir enige iets met vier pote, veral as hy kan miaau of sy stert kan waai.)
Gelukkig onderskep ek twee stukkies wors en twee broodrolletjies ten spyte van my kinders se geskokte “sies Mamma!” koortjie, en ons ry verder.
En ons ry.
En ry.
En ry nog ‘n ent.
Die afdraaibordjie vir die dorpie waar daar ‘n heerlike aandete en ‘n warm bed op ons wag, is nêrens te sien nie.
Toe ons uiteindelik die dorp binne ry, is dit sterk skemer. (Reisles #1: ry vroeër. Baie vroeër.)
En ons tande klap opmekaar van die koue – dit voel of die wind wat oor die vlakte aangewaai kom, direk van een van die twee pole af waai!
Maar wat, ons gaan nou-nou lekker aandete eet en warm slaap.
Toe nou nie, want daar word ongelukkig glad nie meer aandete bedien nie, verduidelik die eienaar van die selfsorg-gastehuisie.
“Maar wat van die webwerf wat sê daar sal aandete beskikbaar wees?” vra ek oorbluf.
Jammer, die webwerf is stokoud en hulle het vergeet om dit op te dateer, verduidelik hy vriendelik. (Reisles #2: maak dood-dood-DOODseker waarna jy kan uitsien by jou bestemming. Vra as jy onseker is, en onthou daardie gesegde van “assumption” wat die moeder is van alle boggerops.)
Nou ja, sug ek, dan maar gou na die Spar toe jaag voor toemaaktyd.
Die Spar?
Ek kan sien ons gasheer is geamuseerd. Nee, jammer, daar is nie ‘n Spar op die dorp nie – maar as ek vinnig maak, sal ek dalk nog die kafee oop vang. Hulle sluit oor tien minute.
Met die instap in die kafee met sy swak beligting en leë rakke is dit duidelik dat ek en my twee stadsmuise nie die kafee se teikenmark is nie.
Nêrens op die rakke was daar iets wat ek sommer net in die mikrogolf kon warm maak nie, behalwe vir die pienk polonie en ‘n paar gaar Russians wat gelyk het of hulle al beter dae geken het.
Buitendien was aandete maak die laaste ding waarvoor ek nou kans gesien het – om nie eers te praat van al die goed wat ek sou nodig hê om so ‘n haas uit ‘n hoed te ruk nie – met goed wat in elk geval NIE in die kafee te koop was nie. (Reisles #3: lees vooraf oor die dorpie waarheen jy mik. Of as jy nie wil lees nie, pak in elk geval kos in. Net vir ingeval.)
Gelukkig het ons mos darem nog die stukkies wors en die twee broodrolletjies wat ek as’t ware uit die honger katjies se bekkies gesteel het. ‘n Blik Pringles tjips en onbytgraan sou die gaatjies moes vul wat die oorskiet padkos nie kon vul nie.
En kondensmelk, vir kondensmelktee – tee was die enigste ding waarvoor ek lus was na al die opslagballe wat die dag opgelewer het.
Maar eind goed, alles goed. Almal het iets gekry om te eet (en nee, Pringles en pap vir aandete veroorsaak nie skeurbuik nie, al sê die kenners ook wat) en onder die dik verekomberse kon ons uiteindelik ontdooi. (Reisles #4: as die mense van die Karoo of die Vrystaat vir jou sê dit gaan koud word, gaan dit KOUD word. Pak alles in wat jy besit wat warm is.)
Maar die eintlike ding wat ons almal steeds bybly van daardie twee dae, is die kondensmelktee. En die sneeu wat soos ‘n wit kombers oor alles gelê het toe ons die tweede oggend wakker word.
Nou nog, as ons kondensmelktee drink, dink ons aan die gejaag om betyds oor die Lootsbergpas te kom voor dit gesluit word weens die swaar sneeuval (ons was letterlik die laaste motor wat deurgelaat is), die sneeu op turksvyblare en windpomplemme en grensdrade oral langs die pad, en die sneeu-engele wat die kinders gemaak het toe ons anderkant Lootsberg kon stop vir foto’s.
(Reisles #5: moenie bo-op ‘n glad-gesneeude bergpas stop om vir die kinders te wys hoe mooi alles doer ver onder lyk nie – veral nie as jy net ‘n gewone motor ry nie. Gelukkig het ‘n besorgde vragmotorbestuurder my gewaarsku om nie heeltemal dood te stop nie, so ek kon spin-spin en gly-gly weer aan die ry kom.)
Maar kondensmelk laat my ook aan iets anders dink wat dalk baie gepas is vir die tyd waarin ons ons nou bevind: die kampdagboek van ‘n oorlewende van die Anglo-Boereoorlog (ek kan ongelukkig nie die skrywer se naam onthou nie) waarin sy skryf sy oor die vreugde wat ‘n blikkie kondensmelk in die andersins droewe kamp kon bring.
Kondensmelk is uitgedeel toe vars melk nie meer beskikbaar was nie. Maar nie vir iets lekker soos kondensmelktee nie – eerder om kinders aan die lewe te probeer hou te midde van haglike lewensomstandighede in tente, aansteeklike siektes wat baie sterftes veroorsaak het, verhongering en ‘n skynbaar eindelose inperking deur die vyand. Dit was ‘n kosbare kleinood in ‘n tyd van bittere lyding wat diep emosionele letsels en verskriklike armoede veroorsaak het.
Hoe anders is ons eie grendeltyd nie. Ons kan dit deurbring in die gerief van ons eie huise, met lopende water, elektrisiteit, ‘n toegeruste kombuis, televisie, sosiale media, slimfone – en, belangrikste van alles, met ons hartsmense by ons (of ten minste net ‘n oproep ver). Winkels is steeds oop, en die meeste van ons het darem nog ‘n inkomste.
Wat my net weer laat besef: as daardie vroue en kinders van destyds met hulle koppe hoog gehou anderkant ‘n oorlog kon uitkom, wie is ons om te kla oor nog drie weke in lockdown in ‘n wêreldwye oorlog teen ‘n dodelike virus.
Veral as jy – anders as omtrent 75% van ons land se mense – jou grendeltyd in ‘n gerieflike blyplek kan deurbring.
Vasbyt, en sit sommer nou kondensmelk op jou inkopielysie vir die volgende keer wat jy dit in die winkels waag!
Lees ook Ilse se eerste bloginskrywing vir ons: In ander nuus … deur Ilse Salzwedel
Loer hier vir nog lekker inspirerende stories en pitkos