kategorieë: ReisOntspanning

Hunters Country House: huis met ’n warm hart

Toe siviele ingenieur Craig Hunter en sy vrou Jill in 1979 die landgoed ontdek het, was dit liefde met die eerste sienslag. Binne ’n paar maande het hulle hul besige lewens in Johannesburg opgepak en saam met hul vyf kinders die dapper skuif platteland toe gemaak. Elektrisiteit is aangelê, damme gebou en ’n reusagtige tuin is aangeplant. Nadat al vyf kinders die huis vir universiteit en werk verlaat het, het die Hunter-ouerpaar besluit om die pragtige plaas in ’n gesinshotel te omskep. Met hul gesamentlike talente en volop flair, het hulle die droom ’n werklikheid gemaak en Hunters Country House in ’n vyfster verblyfopsie omskep. Hulle het die 21 grasdakrondawels self ontwerp en al die meubels, skilderye, ornamente en eetgerei is met die hand uitgesoek deur Jill – ’n handelaar in antieke dekor. Elkeen van die vyf Hunter-kinders was in ’n stadium betrokke by die hotel: dogter Jacqui was bestuurder, seun Rob was in beheer van die bouwerk, Ian het die bemarking behartig, Cameron het die woudpaadjies uitgelê en dogter Mandy het as opgeleide sjef in die hotel gewerk.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Met dié huislike grondslag in gedagte (Craig Hunter noem dit “built out of love for family and a passion for creating wonderful experiences for our guests”) is dit te verstane dat dit een van die gesinsvriendelikste luukse hotelle denkbaar is. Kinders is ’n gróót woord by Hunters Country House. Vir kinders tussen 0-8 is daar die Cubs Corner: ’n spesiale speelplek met ’n klimraam en sandput en ’n Cubhouse waar hulle onder toesig kan verf en speel. Vir die ouer kinders is daar die Teen Scene met ’n loslit kuierkamer, veerpyltjies, snoekertafel, tafeltennis en ’n groot swembad by die lapa. Die hotel ondersteun beide Masizame– (Kom ons probeer) kinderhuis en Bonholethu– (Ons trots) kleuterskool in Plettenbergbaai.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Hunters Country House is al met die Suid-Afrikaanse toekenning van Hotel van die Jaar bekroon. As deel van die glansryke Relais & Chateaux-vereniging, geniet hulle internasionale erkenning vir uitstekende diens, fantastiese kos en die allerpragtigste tuine wat wemel van vlinders – ’n natuurlike heiligdom wat Jill oor ’n tydperk van drie dekades met baie liefde geskep het.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Die oorspronklike, grasieuse ou grasdak-plaashuis met sy kaggel, knus bibliotekie en muurpapier, laat jou voel asof jy deel is van ’n vorige era. My gunstelinggebou op die landgoed is die versteekte woudkapelletjie wat twintig jaar gelede opgerig is vir troues en aanbidding. Dis gebou op ’n krans met ’n uitsig oor die woud en omring deur blom-skaduplante. ’n Ander konstruksie wat my hart gesteel het, is die enorme glasvertrek in die tuin waar ontbyt bedien word. Dink omelet gevul met sampioen, camembert, gekapte kruie, krakerige spek en tamatie. Dink geroosterde croissant met gerookte salm. Dink mieliebrood, swartwoudham, seisoenvrugte-smoothies, chipolatas, boerewors en sterk koffie. Dink bessies, neute en kaas om van te kies en te keur. Dit alles bedien in ’n styl van gemaklike luuksheid en luukse gemak.

Daar is iets reddeloos romanties aan die grasdak-rondawel waar ons tuisgegaan het. Kaggelvure in die slaapkamers. Goue krane en kristalkandelare. Elegante, ouwêreldse meubels. Linne in dofgroen skakerings. Maar dis veral die warm verwelkoming wat mens bybly. ’n Gevoel van tuiskoms wat jy moeilik kan verklaar in ’n huis met ’n warm hart.

Reisraad

Hunters Country House is slegs 10 km vanaf Plettenbergbaai en 22 km vanaf Knysna langs die N2. Zinzi-restaurant is op dieselfde landgoed en deel van die groep. Moenie die Marokkaanse lamskenkels, gegeur met vyftien speserye, vye en geroosterde amandels by Zinzi misloop nie! Dié gereg is ’n ware weerspieëling van die restaurant se Afrika-sjiek tema. Dink Zanzibar-deure, klipmure, kaggelvuur, wyn en onweerstaanbare vanielje brûlée.

Terwyl jy in die omgewing is, verken die kusdorpe se strande en woude en snuffelwinkeltjies van Plettenbergbaai en Knysna. Binne 5 minute se ry vanaf die hotel, kan jy die volgende interessante plekke besoek:

  • Harkerville-plaasmark op ’n Saterdagoggend is vol kraakvars plaaslike produkte.
  • Dagdroom by Bosky Dell Farm & Rose Garden tussen die kleure en geure van 5 500 roosbome en eendedamme vol waterlelies. Dis ’n privaat plaas, maak eers op Facebook seker van besoektye.
  • Word weer kind tussen die bosreuse en boomvarings van die Tuin van Eden (044 532 7793). Die rolstoelvriendelike wandelroete is ’n woonplek vir veertig voëlspesies, bosbokke, blouape en (as jy tjoepstil wag) selfs ’n woudfeetjie of drie.

Bespreek verblyf vir Hunters Country House by 044 501 1111 of res@hunterhotels.com en besoek die webwerf: www.hunterhotels.com

Deel
Gepubliseer deur
Mariette Snyman

Onlangse plasings

Het jy wat dit vat vir ‘Die brug’ se tweede seisoen?

Iewers op ’n eiland met ’n toring staan nog ’n skatkis wat R1 miljoen kontant…

5 hours Gelede

Smelt-in-die-mond-koekies

Maak 30 koekies • 500 ml (2 k) koekmeel • 80 ml (1⁄3 k) kakao…

7 hours Gelede

Geurige tamatie-en-wors-gebak

Geurige tamatie-en-wors-gebak. Resep deur Vickie de Beer   Lees ook: Geurige worsies met sampioene en…

7 hours Gelede

Gebakte Carbonara

Vir hierdie heerlike gebakte Carbonara druk jy die blokkies mozzarella tussen die pennepasta in! Resep…

7 hours Gelede

Ribollita

Ribollita is ’n Toskaanse sopbredie. Dit word soos ’n sop gemaak maar is so lekker…

7 hours Gelede

Kaas-en-Marmite-mosbolletjiebrood

Kaas-en-Marmite-mosbolletjiebrood deur Vickie de Beer. Foto: Lindy Kriek  

8 hours Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.