Deur Ilse Salzwedel. Foto: Peter Whitfield.
Hulp in aksie: Dr Imtiaz Sooliman
Met die verwoestende tifoon in 2013 en 2014 in die Filippyne waarin duisende dood is, was die Suid-Afrikaanse reddingsorganisasie Gift of the Givers van die eerstes wat daar hulp verleen het. Ilse Salzwedel het met die stigter, dr. Imtiaz Sooliman, gesels*.
Hoe werk dit as daar iewers, soos in die Filippyne, ’n ramp is?
Ons kan blitsvinnig gereed wees met hulp. Ons stuur mediese dokters, mediese voorrade en toerusting, noodvoorraad soos kos en water, reddingswerkers en gespesialiseerde reddingstoerusting.
Ons het ’n masjien wat hulle ’n life locator noem waarmee jy tot tien meter onder rommel kan vasstel of iemand nog leef. Ons het onlangs in Sirië binne negentig dae selfs ’n volledig toegeruste hospitaal ingerig. ’n Suid-Afrikaanse matrone het kom help, en ons het vrywilligers opgelei om dit te beman. So kon ons ’n hospitaal met 103 personeellede agtergelaat. Ons betaal vir alles met die hulp van donateurs.
Waaraan skryf jy julle sukses toe?
Aan massa-ondersteuning. Van groot maatskappye, maar veral van gewone mense wat gee, al is dit ook net R50.
Ons kry al ons skenkings net uit Suid-Afrika. Ek glo as jy opreg en uit die hart gee, sal God jou bydrae seën. Ons werk in enige gebied, ongeag politiek, kultuur of geloof, en ons spanne word oral met ope arms ontvang. Hulle is ware ambassadeurs vir Suid-Afrika.
Wat het hierdie werk jou geleer?
Dankbaarheid. Almal wat al op ons reddingsmissies was, stem saam. Suid-Afrika is ’n wonderlike land. Ons mag nooit kla nie en moet God dank vir alles wat ons het.
Wat sal jy nooit vergeet nie?
Haïti ná die aardbewing in Januarie 2010. Ons mediese spanne moes die mure en vloere van ’n kerk op hul knieë was voordat ons pasiënte kon begin behandel. Ons moes honderde amputasies weer ’n keer doen, baie daarvan op kinders. Die mense wat dit voor ons gedoen het, het dit nie reg gedoen nie – dit was hartverskeurend. Die reuk van die dood het oral gehang – daar was duisende ontbindende liggame, baie nog vasgekeer onder die rommel, en geen infrastruktuur nie. Die wete dat jy ’n kind se lewe red, maar dat hy nie ’n huis of enige familie het om na terug te keer nie, het my hart gebreek.
“Ons is almal mense, en ons ervaar almal pyn.”
Wie is Dr Imtiaz Sooliman?
Dr. Imtiaz Sooliman (55) het sy mediese graad aan die Universiteit van KwaZulu-Natal behaal. “Ek is op Potchefstroom gebore, en ons huisdokter daar, dr. Ismael Haffejee, was my inspirasie. Hy het sy medemens gedien en was toegewy aan sy werk en ook aan sy geloof.” Dr. Sooliman het sy eerste praktyk in 1986 in Pietermaritzburg begin.
’n Soefisjeik (’n geestelike leier) het op 6 Augustus 1992 by ’n byeenkoms in Istanbul vir hom die opdrag gegee om Gift of the Givers te stig. “Duisende mense uit alle wêrelddele en van verskillende gelowe het daar saamgetrek. Ons het die afgelope 21 jaar R1 miljard se hulp aan duisende mense in 41 lande gegee en miljoene mense gehelp.”
Hy het in 1994 sy praktyk gesluit om hom voltyds op die organisasie toe te spits. “Dis nie sommer ’n terloopse projek nie. Ons moet vinnig en georganiseerd wees, en is altyd van die eerste reddingspanne wat by ’n ramp opdaag.”
“Ons wil brûe tussen verskillende kulture en gelowe bou. Welwillendheid, verdraagsaamheid, wedersydse respek en om in harmonie met mekaar te leef, is ’n Goddelike opdrag.”
“Moet niks in ruil verwag nie.”
“Ek onthou steeds die soefisjeik se presiese woorde: “Jy sal ’n organisasie stig wat alle mense onvoorwaardelik sal dien. Mense van alle gelowe, politieke oortuigings en geografiese gebiede. Moet niks in ruil daarvoor verwag nie. Nie eens ’n dankie nie. Mense se waardigheid behoort voorop gestel te word en onthou dat jy net ’n instrument sal wees waardeur alles gedoen sal word.”
En dis presies wat Gift of the Givers onder Dr Sooliman se aanvoering doen. Benewens reuse-reddingsaksies in rampgebiede werk die Givers ook plaaslik. “Ek skat dat 99% van ons werk in Suid-Afrika onder nie-Moslems is. Ons help selfs in arm Afrikaanse gemeenskappe en baie van ons spanlede is Afrikaans. Nood en armoede ken nie kleur nie. Ons is almal mense, en ons ervaar almal pyn.”
*Hierdie artikel het oorspronklik as ’n rooistoel-onderhoud in die Februarie 2014-uitgawe van rooi rose verskyn.