Die twyfelagtige voorreg van ’n huis in die mark sit het my en my man reeds sowat tien jaar gelede te beurt geval.
Die verkoop van jou eerste huis en die opruim en oppak van sowat ses jaar se bymekaarmaakgoed, kan nogal uitputtend wees. Maar, dit is nie naastenby so uitputtend soos die spesie wat ’n huis-in-die-mark onvermydelik lok nie: huiskykers.
Ek is seker maar te bang om op mense se tone te trap, maar die kere dat ék vergesel van ’n eiendomsagent iemand anders se lewensruimte betree het om te kyk of daardie lewensruimte die regte ruimte sal bied vir my om in te lewe, het ek dit so pynloos en vinnig moontlik probeer doen.
Mens groet die huiseienaar vriendelik en loop jou draaie deur die huis sonder om énige negatiewe kommentaar oor énigiets te lewer – maak nie saak of die pienk- en khakigroen novilon-badkamer jou summier ’n galaanval gee nie. Jy hóú jou pose.
Vrae wat jy oor die eiendom mag hê, stel jy so objektief en ordentlik as moontlik. En, sodra jy jou kyke gekyk het, bedank jy die huiseienaar hoflik en jy maak spore sodat die huis se mense kan voortgaan met hulle lewe.
Na sowat tien jaar se eerstehandse ervaring van die huiskykerspesie, is dit egter duidelik dat die minderheid van hulle dieselfde geskool is as dit kom by huiskyketiket.
Ons eerste huis was skaars in die mark, of die kykers het op ons begin toesak. Die meeste vergesel van eiendomsagente, maar ook hier en daar een wat “sommer verbygery en ’n kans gevat het” – al is dit kwart oor een op ’n Sondagmiddag.
Van hierdie voorgenome kopers was daar egter een gesin wat my nou nog in ’n koue angssweet laat uitslaan. Dié spannetjie was van ’n nywerheidsdorp neffens die Goudstad en moes noodgedwonge huis soek op ons Bolandse dorp weens die man se verplasing.
Die vrou het dit uit die staanspoor duidelik gemaak dat dit níé haar keuse is nie en dat dit haar dwars in die krop (haar woord vir krop was anatomies egter effe laer geleë) steek dat sy haar gerieflike, volgens haar “ultramoderne”, huis moes opgee vir “iets soos hierdie.”
Nou ja, ons doodgewone drieslaapkamerhuis met ruim leefvertrekke en groot erf was nou níé ultramodern nie, maar dit was geleë in een van die dorp se meer gesogte buurte.
Toe die man dus besluit dat “die ou plekkie maar sal doen” en hy met hulle negende besoek binne ’n halwe week aan ons “ou plekkie” begin afmetings doen vir waar sy sleeper-kroeg in die eetkamer kan inpas, het ek my bedenkinge gehad oor ultramoderne wonings.
Die kooptransaksie is met verskeie stampe en stote beklink en toe was die gort eers gaar: Sodra ek saans my sewe maande oue baba wil bad of voer, het die deurklokkie gelui en daar staan een, twee… of al vier lede van die gesin voor die deur om “net gou iets te kom kyk/meet/verander” aan “ons huis.”
Na ’n week van hierdie onbedagsaamheid, was daar heeltemal te veel onse in hierdie pond en ek het die eiendomsagent gevra om die boodskap diplomaties oor te dra dat hierdie mense nié sommer net 24 uur per dag welkom is nie.
Dit was natuurlik iets wat hulle glad nie kon verstaan nie en hulle het begin brom dat ons iets probeer wegsteek.
Ja! Wou ek uitroep. Ek probeer my nagklere en ou pantoffels wegsteek as julle sewe-uur op ’n Saterdagoggend “net gou die vensters wil kom meet vir gordyne!”
Na bykans twee maande se sielsversondigende, skaamtelose invalle deur die nuwe huiseienaars, was ons verlig om in ons volgende huis in te trek.
Ek kon egter nie help om te glimlag toe ek hoor dat die ultramoderne span na skaars ’n jaar weer sak-en-pak teruggetrek het na die nywerheidsdorp bo die Vaalrivier nie. Die pantoffelregering het slegs twaalf maande geneem om die nie-moderne staatsgreep tersyde te stel.
Die nuwe, weliswaar meer moderne huis wat ons gekoop het, het natuurlik sy probleme en onvoorsienighede opgelewer. Die eerste oggend is ons wakker gemaak deur ’n trop tarentale wat tussen die plafon en die skuinsdak van ons nuwe dubbelverdieping rondgeskrop het. Die dak moes dringend geseël word.
Die nuus van ’n nuwe babasussie wat haar opwagting gaan maak, het ons laat besluit om ons tweede huis in die mark te sit. Met twee kinders onder die ouderdom van twee jaar was die idee van ’n dubbelverdiepinghuis skielik baie minder romanties.
In hierdie tyd het die eiendomsagent heelwat mense deur die huis geneem en dalk was my “ou tante Viljoen”-beeld met ’n baba op die heup en een in die maag versagtende omstandighede, maar verskeie van hierdie huiskykers het mettertyd goeie vriende geword.
Die kinders het groter geraak en die hoë, styl trap is nie meer so ’n groot kopseer nie, maar ons het so ’n jaar of wat gelede weer besluit om die huis aktief te laat bemark sodat ons dalk meer sentraal en nader aan die skool kan nesskrop.
So, ’n nuwe sarsie huiskykers het die laaste maande op ons toegesak.
Die span wat vroeër vandeesweek kom inloer het, is ook van die verre Noorde van die land. Reeds met die intrapslag kon ek sien dat Mevrou nou nie juis borrel van opwinding oor hulle voorgenome, verpligte skuif nie.
Ek het verskoning gemaak dat die huis nie silwerskoon is nie, aangesien ons die vorige aand teruggekeer het van ’n langnaweek by die see. Maar, ek het heimlik geweet dat die huis heelwat netjieser is as die meeste ander.
Mevrou het natuurlik nie op haar laat wag om te vertel in watter haglike toestande die ander huise was wat hulle reeds die oggend besigtig het nie.
“Die een huis se beddens was nie eers opgemaak nie!” het sy afkeurend meegedeel. Ek wou haar tergend troos dat sy dan maar net moet sorg dat daardie onopgemaakte bed saam met die treklorrie verkas, maar ek was nie seker of sy die grappie sou waardeer nie.
Na ’n bepeinsende deurkyksessie deur die slaapkamers en leefvertrekke, het sy tot stilstand gekom in my kombuis – ’n kombuis waarop ons nogal trots is, want dit het danksy ons eie meet-en-pas regrukpoging ’n jaar of twee gelede in ’n toonaangewende dekortydskrif verskyn.
Sy het teatraal haar hande in die lug gegooi en ge-uiter: “Wag… wág!”
Haar gesigsuitdrukking het gelyk asof sy sopas die katte se sandbak in die middel van die kombuistoonbankblad raakgesien het… Maar, daar was geen katbak nie. Bloot ons enkelwasbak.
“Wil jy tog nie vir my sê dat dit ál is wat jy het om jou skottelgoed in te was nie?” het sy met afgryse verneem.
Ek het gestotter dat ons “darem ook ’n skottelgoedwasser” het, maar eintlik moes ek vir haar gevra het of dit lyk asof dit ’n probleem is, want 15 minute na ontbyt staan daar nie ’n enkele stukkie ongewasde skottelgoed rond nie – kan sy dieselfde sê van haar huis?
Op pad uit tuin toe, het Teatrale Tantrum Twee gevolg: “Wáár háng jy jou wásgoed?” het sy in stygende toonhoogtes gevra asof sy eerder verneem waar begrawe ek die lyke van wasvroue aangesien daar nie ’n draad is waarop ek hulle kan hang nie.
My oog het die eiendomsagent se effe moedelose blik gevang en ek het effens minder tegemoetkomend geantwoord dat ek nie ’n huishulp het nie en dus elke dag sorg vir my eie wasgoed. Ek het bygevoeg dat sy meer as welkom is om ’n wasgoeddraad in die warrelwindhoek van die tuin op te rig as sy kans sien vir ons dorp se berugte wind.
Met een laaste afkeurende blik na ons wasgoeddraadlose-katbak woning, is sy en haar stilswyende man vort saam met die agent.
Wat my weer herinner het aan die insident wat my en die kinders nou nog laat giggel.
’n Vreeslike fênsie man en sy vrou het so ’n jaar gelede in hulle vreeslike fênsie fôr-baai-fôr voor ons deur gestop. Dit was onmiddellik duidelik dat hierdie huis “heeltemal te klein en verkeerd gebou is” volgens die meneer.
Die ingeboude binnebraai “kan seker skaars ’n hoenderboudjie braai so klein is dit”, die “stoep behoort eintlik toegebou te wees” en “die kaggel se kolom moet afgebreek word”.
Ek en die kinders het grootoog die kritiek vanuit die kombuis staan en afluister. Die fênsie man en sy bedeesde vrou is saam met die eiendomsagent na die boonste verdieping en daar is ook heelwat kritiek rondgeslinger.
Of daar egter een van my meisiekind se sowat sestig sagte speelgoedhasies die fênsie man aan die maermêrrie gebyt het, weet ek nie, maar, met die afkom met die trap, was Meneer meteens so mak soos ’n lammetjie.
“Mevroutjie,” seg hy, “ek kuier nou so lekker hier in jou huis, ek voel my só tuis, dat ek sommer gou die James gaan besoek!”
En met dié stap Meneer met sy fênsie gepunte leerskoene gang af na die James.
Die agent vra dat ek gou solank vir die vrou foto’s van die woonstel op ons erf op my rekenaar gaan wys en ons moet gangaf verby die James stap.
Waar ek terselftertyd wip soos ek skrik en my dogtertjie se kop wegpluk sodat sy nie sien hoe die fênsie Meneer oop en bloot die James besoek nie!
Daarna het die die fênsie man en sy vrou doodluiters gegroet en hulle is hier weg.
My seuntjie, toe agt jaar oud, het die vreeslike fênsie fôr-baai-fôr ewe kopskuddend agterna gekyk en gesê: “Ja-nee. Dié oom het baie planne met ons huis. Plaas hy maak ’n plan om die badkamerdeur toe te maak as hy piepie!”
* Geen huiskykers is in enige episode beseer nie. Nóg nie.