Oor die radio hoor ek die temalied van ’n fliek met die naam “Life as a house.” Ek het geen idee waaroor die fliek gaan nie, maar die titel gryp my onmiddellik.
Hoe sou dit voel om ‘n huis te wees? Ek wonder op watter stadium – vensterhoogte of wanneer manne in oorpakke die dakbalke vasslaan – ’n huis besef dat sy “is”. Ek twyfel nie daaraan dat my huisie, wat net voor of ná Wêreldoorlog II gebou is, ’n sy is nie. Sy vul haar binneruimte met koestering.
Voor my koms is daar 17 jaar lank Duits tussen hierdie mure gepraat. Die eienaars se robuuste, kreatiewe energie straal uit die eiesoortige verfkeuses en terrastuin met beeldjies wat ek nooit sou gekies het nie, maar wat perfek by die atmosfeer pas. Ek dink die huis het van hulle gehou.
Voor hulle, het my afgetrede buurman my vertel, het ’n gay paartjie hier gewoon. Melville/Westdene staan bekend as ’n buurt wat blind is vir ras, geslag, en seksvoorkeur, maar ek wonder of hulle volkome veilig was. Een man is aan kanker dood, en sy maat, hoor ek, het hom doodgetreur. Dalk verklaar dit die fyn verlange wat soms met my uit die staalplafonne praat.
Dis goed dat ’n huis bekend is met lewe en dood. Ook goed dat die mense wat voor my hier gewoon het, haar sagkens versorg het. Dalk is dit hoekom ek saans, wanneer ek die laaste lig afskakel, voel asof die huis stil-tevrede sug.
Ek wonder wat sy graag vir Kersfees sou wou hê. ’n Flonkerende string liggies om haar hals? Pienk en pers oordaad in die beddings aan haar voete? Die geur van kaneel in haar warm hart?
Ek hoop om aan haar die gawe van vrolikheid te bring. Sodat sy, wat al soveel beleef het, vanjaar haar herinneringe met ons lagbuie aanmekaar kan string.