“Wie sou kon dink dat ’n stem soos myne ooit gehoor sal word? Waar sal so ’n klank in elk geval vandaan kom?” Só begin die outobiografiese roman van Ryk Hattingh – sy eerste boek ná 19 jaar.
Dit is ’n verweefde teks wat hom afspeel tussen die hier van Nieu-Seeland en die verlede van Ryk se kinderjare in die jare sestig aan die Oos-Rand. Wie wás die kind op die stoep saam met sy ma en pa en ouma en boeties en Outa Toon? En wie was Outa Toon? Die man wat vir Ryk gesê het, “Jy is mos die een met die hart?” Die man wat vra: “Wie sou ooit kon dink dat ’n stem soos myne gehoor sal word … ”
Huilboek is ’n kragtoer. In een opsig is dit ’n voortsetting van Ignatius Brand en Witskrif, en andersyds is dit ’n losstaande herinneringsroman wat uiteindelik sê – hier is ek. En dís die mens wat ek geword het. Aangrypend.