Dis al vir jare so. Min of meer hierdie tyd gebeur minder goeie goed met mense. As ek eerlik is, slegte goed. Slegter goed. Slegste goed. Hoe ouer ek word, hoe kleiner word daardie kringetjie. Hoe meer leer ek: trappe van vergelyking het ook maar net ’n begin, ’n middel en ’n einde. Vat jou net drie trappies ver. Die stellende trap. Die vergrotende trap. Die oortreffende trap. Die begin, die middel, en die einde.
Dan, skielik, is jou woorde op.
In een week word die donkerte van bipolêre depressie te veel vir ’n vriendin se seun. Op 19 gee hy oor, gun ek hom sy nuwe vlerke en sy ma, pa en broers ewige troos. ’n Familievriend se vrou word met die groot K gekonfronteer. Jonger as ek, haar oudste skaars tien. ’n Professor trek die sneller; ook hy wou weg. In dieselfde week treur die wêreld oor die driejarige Aylan Kurdi wat saam met my ma, boetie en talle ander verdrink op soek na ’n nuwe lewe. Die foto van sy klein lyfie in die branders aan die Turkse kusdorp Bodrum ’n noodkreet vir Europa, én die res van die wêreld.
Die begin, die middel, en die einde. Dan’s die woorde op.
Ons was sestien toe ek en Hein mekaar die eerste keer ontmoet het. Jonk. Lewenslustig. Stout. Hy was cooler as ek, wilder, slimmer, wyser, soms die wysste. Avontuurlustiger. Die avontuurlustigste. Word argitek, gaan Londen toe, bestuur van die wêreld se voorste restaurante. Ons verloor kontak. Twee jaar gelede tel ons die drade een-een op – steeds in Londen, getroud, pa van drie. Steeds cooler, wilder, slimmer, wyser, avontuurlustiger. Die avontuurlustigste.
Ek lees sy seun se opstelle, hy lees week-na-week my blog. Ons praat oor matriekmaats, ouderdom, boeke, Suid-Afrika, kinders grootmaak, goeie tye, slegte tye, kos en kuier. Die lewe se trappe van vergelyking.
Hein is stil, dink ek. My foon lui, iewers op ’n pad tussen Polokwane en Johannesburg. ’n Matriekmaat sê: Hein was in ’n ongeluk. ’n Motorfietsongeluk. Hy lewe. Hy’t seergekry. Baie seergekry. Sy been . . . Baie. Meer. Die meeste.
My woorde op.
’n Week later spoor ek hom op. Ver. Verder. Verste. Die heel verste, las ek by. “Ek’s ’n ongeluksvoël,” sê hy en vertel dan dat daar op die aand van die ongeluk ’n dokter, ’n verpleegkundige én ’n paramedikus in die motors om hom was. “Anders was ek dood.”
Die kringetjie kleiner.
Daar’s ’n lang pad voor, weet hy. Niks gaan ooit weer dieselfde wees nie. “Ek’t nog baie om voor te leef.” Baie. Meer. Die meeste. Die lewe is broos, broser, broosste. “Ek begin voor.” ’n Eerste tree. Die stellende trap.
Ek kry my woorde terug. Daar’s hoop. Meer hoop. Die meeste hoop. Vir Hein, vir almal soos hy. Vir ons.
Tot volgende week,
Marí
www.incontext.co.za