Volgens die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) is vyf gevalle van hondsdolheid sedert Desember 2017 in Suid-Afrika bevestig. Die gevalle is in Limpopo, Mpumalanga, KwaZulu Natal en die Oos-Kaap aangeteken.
Die Oos-Kaapse veearts, dr. Willie Delport, het reeds in 2015 gewaarsku dat Suid-Afrikaners hondsdolheid heeltemal onderskat. As die virus eers in jou bloed is, kan absoluut níks vir jou gedoen word nie. Hoewel geen syfers bekend is nie, is die vermoede dat heelwat kinders wat aan meningitis sterf in werklikheid weens hondsdolheid dood is.
Wat kan jy doen?
1 Laat jou eie hond jaarliks of minstens elke twee jaar inent. Dit is noodsaaklik as julle op die platteland, op ’n plaas, of in gebiede met baie rondloperhonde woon.
Wenk: Hou jou ore oop vir die gratis staatsgesubsidieerde inentingsprojekte, meestal in September elke jaar, en oral waar hondsdol diere aangeteken is.
2 As ’n hond jou kind byt, stel vas of die hond teen hondsdolheid ingeënt is. As die hond vreemd optree (soos om op mense af te storm, te byt, weg te hol en skuim om die bek het) gaan dadelik dokter toe.
Wenk: Gaan na ’n private dokter of hospitaal. Munisipale klinieke verskaf nie die nodige inentings nie. Die kind sal vier tot vyf voorkomende inentings ontvang, wat soms keer dat die virus die brein bereik.
3 Skrop die wond vir minstens vyf minute aggressief met ’n ontsmetmiddel soos Dettol of seepwater. Omdat tandmerke gewoonlik diep is, probeer tot onder in die wond skrop, al is dit bitter seer. Sit Dettol of jodium in ’n spuitbottel om tot onder in die wond te ontsmet. Dit kan help keer dat die virus die bloed binnegaan.
4 Help om die voorkoms van hondsdolheid in Suid-Afrika beter te monitor. As jy dooie diere sien, tel hulle in ’n swart sak op en laai hulle by jou veearts of staatsveearts af. Jy sal nie aansteek nie, aangesien die virus in die brein is. Hulle sal die dier vir hondsdolheid laat ondersoek.
5 Hoewel honde, jakkalse en graatjiemeerkatte die hoofdraers van hondsdolheid in ons land is, is dit al aangeteken onder katte, eekhorinkies, perde, donkies en skape, en selfs onder wildsbokke en bobbejane. Dus is enige dierebyt onder verdenking.
Die hondsdolheid-virus kom voor in die speeksel van ’n besmette dier en kan oorgedra word deur byt- of krapmerke en ander wonde op ’n mens se liggaam.
Vir meer inligting oor hondsdolheid, besoek die Nios se webblad hier