Hoender-en-sampioen-bredie met sagte kluitjies
Hoender-en-sampioen-bredie met sagte kluitjies
Ingredients
- • 2 e (30 ml) olyfolie
- • 250 g repiesspek, in blokkies gesny
- • 80 ml (⅓ k) meel
- • sout en peper na smaak
- • 8 hoenderdytjies met die boudjie aan
- • 800 g gemengde sampioene
- • 1 ui, geskil en gekap
- • 6 knoffelhuisies, geskil en fyngekap
- • 180 ml (¾ k) witwyn
- • 2 lourierblare
- • 8 tiemietakkies
- • 4 k (1 liter) hoenderaftreksel
- Kluitjies
- • 250 ml (1 k) meel
- • 10 ml (2 t) bakpoeier
- • 2,5 ml (½ t) fyngerasperde neutmuskaat
- • 5 ml (1 t) sout
- • 60 ml (¼ k) gerasperde parmesaankaas
- • gerasperde skil van 1 suurlemoen
- • 2 eiers
- • 60 ml (¼ k) karringmelk
Instructions
1 Braai die spek oor matige hitte in ’n groot swaarboomkastrol tot bros, haal uit en hou eenkant.
2 Gooi die meel in ’n bak en geur die hoender na smaak met sout en peper. Bedek die hoender liggies met die meel en skud die oortollige meel af. Verhit die olie in dieselfde kastrol waarin jy die spek gebraai het en braai die hoender in sarsies daarin tot goudkleurig alkant. Haal uit en hou eenkant.
3 Braai die sampioene in dieselfde kastrol tot goudkleurig, skep uit en hou eenkant.
4 Braai die uie in dieselfde kastrol tot goudkleurig. Voeg die knoffel by en braai vir nog 3 min.
5 Gooi die wyn by en skraap al die gekaramelliseerde stukkies van die boom af. Kook tot al die alkohol afgekook is.
6 Sit die kruie, aftreksel, hoenderstukke en spek terug in die kastrol en laat prut vir 2 uur of tot die hoender sag is.
Maak intussen die kluitjies
7 Vul ’n middelslagkastrol met water en geur met sout, bring die water tot kookpunt.
8 Meng die meel, bakpoeier, neutmuskaat, sout, peper, parmesaan en suurlemoenskil in ’n middelslagbak. Klop die eiers en melk saam in ’n beker en roer dit deur die droë bestanddele.
9 Verlaag die temperatuur sodat die water net prut, gooi teelepelsvol van die beslag in die water en kook vir 5 min. of tot die kluitjies verdubbel het in grootte en gaar is. Lig met ’n gaatjieslepel uit en sit op ’n groot, plat bord.
10 Gooi die sampioene ná 2 uur by die bredie en kook vir nog 10 min. Geur na smaak. Skep die kluitjies versigtig op die bredie en laat prut liggies vir 5-7 min. tot dit deurwarm is en smul!
Lees ook:
Vinnige mikrogolfoond-beesvleisbredie