Ons almal voel beter oor onsself én die lewe wanneer ons iemand help, maar navorsing het ook bewys dat dit goed is vir ons emosionele en liggaamlike gesondheid én dat vrywilligers langer leef. Aan die ander kant is dit belangrik dat jou vrywilligerswerk vir jóú iets moet beteken, en nie net vir die mens wat jy help nie, aldus Butler.
In Amerika is daar ’n bekroonde program (AARP Experience Corps) wat mense ouer as 50 by gemeenskappe se grootste behoeftes betrek. Meer as 2 000 AARP-vrywilligers tree as tutors en mentors in 19 Amerikaanse stede op. Hulle help met geletterdheidsprogramme, help kinders met huiswerk en tree op as rolmodelle wat sorg vir bestendige aandag in die lewe van kinders wat dit andersins sou moes ontbeer. Die gevolge vir sowel die vrywilligers as die gemeenskap is meetbaar: die ouer mense voel nuttig, en is daarom gesonder en gelukkiger as hul tydgenote. Die leerders presteer akademies en sosiaal baie beter. Dus, ’n wen-wen situasie.
Volgens AARP is daar ’n paar lewensfases waarin ’n mens voel jou lewe maak nie meer sin nie: wanneer jy jou werk verloor, iemand aan die dood afstaan, finansieel sukkel, sukkel op liefdesgebied, wanneer jy voel jy vorder nie in jou loopbaan nie en, natuurlik, wanneer jy aftree. Vrywilligers uit hierdie verskillende lewensfases wat by AARP betrokke is, rapporteer tog dat hulle gesondheid (fisiek sowel as emosioneel) baie verbeter het. Hulle sukkel minder met depressie, beweeglikheid en stamina, en kan selfs makliker buk en buig. Hulle geheue en kognitiewe prosesse het ook merkbaar verbeter sedert hulle as vrywilligers begin werk het.
Volgens Eric Kim, wie se doktorale studie fokus op die verband tussen sosiale verbondenheid en fisieke gesondheid, is daar verskeie redes daarvoor. Omdat vrywilligers voel hul lewe het weer sin, is hulle meer geneig om voorkomende toetse, soos mammogramme, prostaatondersoeke en kolonoskopies, te laat doen. Hulle sien in die algemeen beter na hul eie gesondheid om.
Met sy Blue Zones-navorsingsprojek in Okinawa, Japan, het Buettner besef dis niks vreemd om in hierdie gemeenskap ouer as honderd te word en boonop vir die grootste deel van jou lewe blakend gesond te wees nie. Maar wat was hulle geheim? Craig Willcox, ’n navorser aan die Okinawa Centenarian Study verduidelik dat die gemeenskap glo in “ikigai”, rofweg vertaal as “dit wat ’n mens se lewe die moeite werd maak om te lewe”, en dat dit beslis bydra tot die lang en gesonde lewe van die inwoners van die stad. Die ervaring dat hul lewe lewe sin het, verduidelik Wilcox, verlaag hul stresvlakke en voorkom toestande soos hoë bloeddruk. Baie behoort ook aan ’n tradisionele moai, ’n ondersteuningsnetwerk wat lewenslank finansiële, emosionele en sosiale bystand aan sy lede verleen.
Navorsing het bewys mense wat gereeld mediteer, is meer geneig om te voel hul lewe het ’n doel. Moenie aan mediteer as ’n new age-aktiwiteit dink nie – daaglikse stiltetyd of vyftien minute van doelbewuste stilte waarin jy net daarop fokus om diep asem te haal, sal beslis ook help.
TV-kyk en sosiale media gaan nie jou lewe sin gee nie. Lees eerder boeke wat jou verstandelik uitdaag. Behou kontak (en nie facebook-kontak nie!) met jou vriende en familie. Hoe meer jy in kontak is met geliefdes en hoe kalmer jy is (danksy iets soos meditasie), hoe duideliker gaan jou lewensdoel vir jou word.
*Jy kan ook deelneem aan Better SA se vrywilligersprogram waar jy op ’n Saterdag op ’n “Hop on, Hop off”-bus kan klim en as vrywilliger tyd spandeer saam met kinders in verskeie townships. Lees meer hieroor by www.bettersa.org