Hoe op aarde raak mens verslaaf aan iets so algemeen en skadeloos soos pynpille? Oud-kollega Susan is een van 36 miljoen mense wêreldwyd wat in die slaggate van pynpil-afhanklikheid vasgeval het.
Hoe ek van pynpille afhanklik geraak het
“Dit gebeur stadig. As ek nou terugdink, glo ek dit het met stres begin. Ons het aan die begin van ons getroude lewe met min geld oor die weg moes kom. Ek het ekstra ure begin werk en ook met honde begin teel. Toe raak ek swanger en begin ek stres oor wat as ek ophou werk. En toe verloor ek die baba, wat my erg gevang het. Ek het gereeld begin om hoofpyne te kry. En daarvoor mag ek sekerlik ’n pynpil drink, het ek gereken. Kort voor lank het ek byna elke dag ’n hoofpyn gehad, en byna elke dag ’n hoofpynpil gedrink. Toe werk dit nie meer so goed nie en ek het soms twee pille begin drink. Soms, as ek baie moes konsentreer, wou ek die hoofpyn vinniger wegkry, dan het ek drie pille gedrink. Ek het ook met tye sleg geslaap, en dan raak ek verder agter met my werk. Ek móés hoofpynne voorkom.
So gebeur dit dat ek nooit sonder pynpille kan wees nie. Ek het begin sorg dat ek altyd twee pakkies pynpille by my het – een in my handsak en een by die werk. Die pille het al te gou opgeraak en so het ek begin pynpille koop elke keer wanneer ek verby ’n apteek stap. Later het ek elke keer as ek by die dokter was gevra dat hy tog vir my pynpille ook voorskryf omdat ek sukkel met hoofpyn voor menstruasie. So bekruip dit mens.”
As Susan se storie net sowel jou eie kan wees, is hier nuus vir jou: jy is waarskynlik verslaaf aan morfien … of sterk op pad soontoe.
Drugwise-konsultant vir die SA Farmaseutiese Vereniging, David Bayever, verduidelik dat kodeïen nét soos morfien en heroïen werk.
“Kodeïen, morfien en heroïen bind op presies dieselfde opoïed-pynreseptors in jou brein. Wanneer hulle beset is, stel jou liggaam dopamien vry wat die pyn stil. Maar dopamien laat jou ook energiek, ontspanne en eufories voel, wat nie te versmaai is terwyl jy olik is nie. Namate jy herstel, het jy nie meer die pynverdowende uitwerking nodig nie, maar jy mis dan die aangename, ontspanne gevoel. Jou brein “weet” hoe om dit terug te kry: dit smag na kodeïen.
Hoe maklik kan jy verslaaf raak?
Dit gebeur nie oornag nie, sê David. “Diegene wat verslaaf raak, gebruik pynpille lank aaneen – hulle is byvoorbeeld ná ’n operasie vir langer as drie weke op pynpille, wat lank genoeg is om die brein ’n voorkeur vir kodeïen te laat ontwikkel.
“Die probleem kom wanneer hulle ophou sodra die operasiepyn weg is. Pyn is toevallig een van die onttrekkingsimptome wat jy gaan ervaar as jy ophou om kodeïen te gebruik. Jou brein sê dus vir jou: jy het pyn, drink ’n pynpil. En drink jy die pynpil, sê jou brein: sjoe, dit werk goed. Kyk hoe lekker voel jy nou. En so begin die bose kringloop.”
Daar is nog ’n kwessie: jou gene. Sowat tien jaar gelede is vasgestel dat mense met baie CYP2D6-aktiwiteit kodeïen supervinnig verwerk en in reuse-hoeveelhede morfien omskakel. Vermoedelik raak hierdie mense makliker as ander aan kodeïen verslaaf. Tot 15% van Afrikane is supervinnige metaboliseerders, teenoor slegs 1% Chinese.
Is afhanklikheid van pynpille ’n regte verslawing?
Beslis, sê David. “Al verskil is dat jy kodeïen wettig by enige apteek kan koop.”
Dit is waar, sê Tertius Cronjé van SANCA (SA Nasionale Raad vir Alkoholisme en Afhanklikheid van Verdowingsmiddels). “Die WGO sê sowat 36 miljoen mense wêreldwyd is verslaaf aan kodeïenpynpille. In Suid-Afrika is een uit elke vyf mense op ons staat se dwelmrehabilitasieprogramme aan kodeïen verslaaf, meestal saam met ’n ander dwelm soos drank of heroïen.
“Vir baie is kodeïen die intreedwelm, waarna hulle oorskakel na sy ouboetdwelm, heroïen, wat byna dieselfde ding is”
Dit is skokkend om te dink dat gewone mense soos ek en jy ons breine ontvankliker vir heroïen maak deur doodeenvoudig ’n paar pynpille vir iets soos spanningshoofpyn te drink. En so onskuldig en onbepland dwelmslawe kan raak.
Hoekom dan nie maar pynpille met kodeïen heeltemal verbied nie?
David verduidelik: “Mense verbeel hulle nie net dat kodeïen pyn verlig nie. Dit ís uitstekend – die beste middel op die mark vir pyn, koors en selfs vir die verligting van die simptome van ernstige siektes, soos vigs.
“Kodeïen is ook goedkoop. Ons is ’n armer, ontwikkelende land. Daarom wil jy dit juis vir mense bekostigbaar maak om na hulself te kan omsien. As ons alle pynpille met kodeïen net op voorskrif kan kry, moet mense deur ’n dokter werk. Dan raak dit duur vir gewone mense om gewone pyne en skete self te hanteer.
Dus: ter wille van toeganklikheid moet ons die prys laag hou. Maar so word dit ook ’n goedkoop dwelm. Die kwessie moet goed bestuur word sodat pynlyers hulp het en potensieel verslaafdes terselfdertyd beskerm word.
“Kodeïen is net soos drank: goed en reg op sy tyd. Dis immers net sommige mense wat verslaaf raak. Ons hoef nie pynpille ter wille van die minderheid te verbied nie, maar ons kan ook nie hul belange ignoreer nie.”
Watter skade doen pynpille met kodeïen?
Iets wat so veilig is dat jy dit sonder voorskrif kan kry, en jou boonop kan help ontspan en beter laat slaap, klink so onskadelik soos ’n glasie wyn met aandete. Van die jare tagtig af is kodeïen as veilig beskou en het dokters dit al hoe makliker vir al hoe langer voorgeskryf – tot daar opgemerk is dat sterftes weens kodeïen toegeneem tot 20 000 mense elke jaar – net in die VSA.
Die publiek en selfs dokters onderskat hoe ernstig die verskuilde risiko’s is, verduidelik David.
“Soos jy al dieper in afhanklikheid inbeweeg, gebruik jy al meer – en te veel daarvan onderdruk jou asemhalingstelsel. Dit is juis hoekom dit ’n uitstekende hoesonderdrukker is. Iewers gebruik jy net-net te veel en hou jy op met asemhaal.”
Kodeïen doen ook ander skades soos:
- Kognitiewe skade. Jy raak onsamehangend, vergeet, voel vaag en konsentreer moeilik
- Lae seksdrang of libido
- Hardlywigheid
Die grootste probleem is egter dat hoe langer jy kodeïen gebruik, hoe minder help dit vir pynbeheer, se David. “Boonop raak gebruikers hipergevoelig vir pyn. Hoe langer jy kodeïen gebruik, hoe meer pyn het jy.”
Hoewel korttermyngebruik pyn baie goed verlig, is daar min bewyse dat dit op die lang termyn help – en baie bewyse dat dit jou skade doen.
Wat as jy reeds verslaaf is?
Gestel jy klou reeds sterk vas aan jou pynpille? Dan is dit tyd om te stop, sê Tertius.
Jy kan geleidelik stop of doodstop. Hoe langer en hoe groter die hoeveelhede wat jy gebruik het, hoe intenser is die onttrekkingsimptome. Jy kan ook jou dokter vra om iets voor te skryf om jou oor die ergste onttrekkingsimptome te help.
Lees ook: Verslaaf op jou oudag
“Die onttrekking is nie lekker nie. Jy kan enige van die volgende verwag: bewerigheid, sweterigheid, diarree, maagkrampe, naarheid, spierpyn, gapery, ’n loopneus, ’n toe neus, kwyling, vinnige asemhaling en/of hoendervleis. Die angs, geïrriteerdheid, algemene verwardheid en ’n smagting na jou gewone pynpilverligting vang die meeste mense die ergste.
“Hou net uit. Dit gáán verby. En as jy regtig vasbrand, help ons by SANCA graag,” sê hy.
Kry hulp
Lees ook: Vyf stappe vir ’n gesonder leefstyl