Hoekom dit goed vir kinders is om meer te speel deur Anys Rossouw. Anys Rossouw is ’n opvoedkundige sielkundige in Menlopark, Pretoria.
Speel-speel
Kinders speel nie meer genoeg aktief buite en op hul eie nie. Ouers en opvoedingsinstellings is soms so obsessief ingestel op akademiese sukses en skoolgereedheidsvaardighede dat speeltyd agterweë bly. En die gevolg is dat die ontwikkeling van kinders se sensoriese, emosionele en sosiale vaardighede skade ly.
Soveel ouers hoor reeds in graad nul dat hul kinders se intellektuele vaardighede bogemiddeld toets, maar hulle sukkel om stil te sit en te konsentreer, hulle raak maklik gefrustreerd, oorgestimuleer of angstig en sukkel met motoriese en sosiale vaardighede. Dis kommerwekkend dat al meer kinders emosionele terapie en arbeidsterapie vir sensoriese en motoriese vaardighede nodig het.
Speel is kleintjies se eerste leerskool en die natuurlikste en noodsaaklikste deel van hul ontwikkeling. Dis hul oefening om volwassenes te wees. Hulle skep, leer en verken hul wêreld op ’n manier wat hulle kan hanteer, en hulle oorkom en hanteer hul frustrasies en vrese op die manier. So ontwikkel hulle noodsaaklike vaardighede en selfvertroue.
Lees ook: Maak ’n gelukkige kind groot
Speel is leer! En speel-speel leer is pret!
Die kleintjies van alle soogdiere speel as ’n manier om die vaardighede te leer en te oefen wat hulle nodig het om te kan oorleef. In teenstelling met passiewe tydverdrywe soos TV kyk of elektroniese speletjies, ontwikkel aktiewe spel gesonde en aktiewe liggame.
Waar is die dae toe skrape, kneusplekke en littekens statussimbole was? Deesdae beskerm ouers hul kinders van babadae af teen fisieke of emosionele ongemak, seerkry of frustrasie. Met babamonitors word verseker dat hulle tog net nie moet huil nie. Hulle word elke oomblik gemonitor en vermaak sodat hulle dit later nie self kan doen of kan waag nie. Hulle hoor gereeld: Moenie jou klere bemors nie, pasop, stadig, versigtig, jy gaan val! Dit doen meer skade as goed, want dit beperk hul waagmoed, selfvertroue en ander vaardighede wat hulle juis vir akademiese en lewensukses nodig het.
Lees ook: 5 ankers wat jou kind veilig laat voel
Wanneer kinders vandag aan speel dink, dink hulle ongelukkig dadelik aan speelgoed en nie meer soos dekades gelede aan aktiwiteite en sosiale interaksie nie.
As ouers werklik met kinders speel, versterk dit hul verhouding en kinders ervaar dat hulle ware aandag en liefde kry. In spel praat selfs minder verbale kinders makliker en gee uitdrukking aan hul emosies en ervarings. Hul ouers verstaan hulle beter en kan hulle in hul emosionele en sosiale ontwikkeling steun.
Speel is die deel van gelukkige kinderdae wat kinders onthou, nie wiskundeklasse nie. Maar al minder tyd word tuis, in kleuterskole en skole aan vrye en verkennende spel afgestaan.
Lees ook: Bou jy of breek jy jou kind se selfvertroue?
Redes waarom kinders al minder ongestruktureerd en verbeeldingryk sommer net speel
Ná skool neem kinders aan georganiseerde sport en ander aktiwiteite deel, of gaan na versorgingsentrums omdat albei ouers voldag werk.
- Dis deesdae gewoon onveilig vir kinders om sonder toesig buite of met maats in die omgewing te speel.
- Via die media en die hedendaagse gedrewe prestasiekultuur glo ouers dat goeie ouers elke vaardigheid, aanleg en belangstelling van die kind moet ontwikkel, anders gaan hulle nie mededingend en suksesvol wees nie.
- Die druk om eendag toegang tot behoortlike tersiêre opleiding en goeie werksmoontlikhede te kan kry bring mee dat selfs kleuters se tyd volgeprop word met allerlei verrykings- en ontwikkelingsaktiwiteite wat gewone speeltyd beperk.
- Weens hul oorvol programme, is kinders oormoeg en verval in passiewe vermaak soos om elektroniese speletjies te speel en televisie te kyk. Dis dikwels ook die voorbeeld van ont-spanning wat hulle tuis kry.
- Kinders verkies passiewe vermaak omdat dit minder insette van hulle verg en dikwels verslawend van aard is.
- Kinders kry van kleins af te veel en te spesifieke speelgoed wat bepaal presies wat en hoe jy daarmee speel. Te min word aan hul verbeelding oorgelaat en hulle kan nie meer speletjies uitdink nie. Hulle bou slegs van die model af en is verveeld tot hulle ’n nuwe een kry.
- Tegnologie, en hoe kinders grootgemaak word, laat hulle voel dat iets of iemand hulle heeltyd moet vermaak of besig hou. Hulle kla gou dat hulle verveeld is.
- Passiewe vermaak is ’n maklike manier om kinders besig te hou sodat ouers by hul eie oorvol skedules kan uitkom.
- Geslagte gelede het kinders met die minimum speelgoed speletjies geïmproviseer, hulself gereguleer en hul eie reëls vir hul speletjies uitgedink.
Lees ook: Is jou kind se sintuie oor- of ondersensitief?
Veranderinge in kinders se speelpatrone verander kinders!
Verskillende soorte spel, maar veral fantasie- en verbeeldingspel ontwikkel kinders se kognitiewe en emosionele vaardighede en is krities vir die ontwikkeling van selfregulering.
Kinders met goeie selfreguleringsvaardighede het beter selfdissipline, konsentreer beter, het beter sosiale vaardighede en meer emosionele en impulsbeheer. Sulke kinders leer dus makliker.
Selfregulering is ’n noodsaaklike vaardigheid vir doeltreffende funksionering op byna elke lewensterrein. Selfregulering hou verband met die ontwikkeling van ’n persoon se metakognitiewe vaardighede, om te kan dink oor jou eie denke en jou private, innerlike selfpraat of dialoog. In vrye verbeeldingspel doen kinders juis dit. Hulle praat met hulself oor wat hulle gaan doen, wat elke karakter dink. Die vaardighede help ’n mens om baie probleemsituasies rustig en deurdag te hanteer, hetsy dit werksgerig, kognitief, sosiaal of emosioneel is.
Die Amerikaanse sielkundige Elena Bodrova het bevind dat kinders se selfregulering in die afgelope dekades agteruitgegaan het. Hulle kan nie meer vir ’n rukkie stil wees of stil staan nie. Vandag se vyfjariges het soos driejariges gefunksioneer en sewejariges kon nie heeltemal op die vlak van die vyfjariges van sestig jaar gelede funksioneer nie.
Aktiwiteite soos ekstra akademiese lesse, georganiseerde sport, televisie of elektroniese speletjies, wat die meeste van kinders se tyd opslurp, bevorder nie selfregulering of vrye verbeeldingspel nie. Die meeste speelgoed inhibeer ook vrye verbeeldingspel, want dit laat hulle minder dink wat om te doen. Kinders wat voortdurend iemand of iets soos televisie of videospeletjies nodig het om hulle besig of gestimuleer te hou, sukkel as volwassenes om die verantwoordelikheid vir hul eie welstand en geluk te aanvaar.
Lees ook: Kinders met outisme moet speel
Peter Gray, ’n sielkundige en navorsingsprofessor aan die Boston College, sê geestestoestande soos depressie, angsversteurings en selfdood het toegeneem namate kinders se vrye speeltyd minder geword het. Vlakke van empatie het gedaal en narcissisme het toegeneem. Sosiale vaardighede soos empatie word beter in speelsituasies as in die skool geleer. Die skool is ’n outoritatiewe omgewing, wat ongelukkig meer op kompetisie as op samewerking gerig is, en al meer fokus op nog meer klasse, onderrig en assesserings en al minder op vrye speeltyd.
In ’n eksperimentele projek, Der Spielzeugfreie Kindergarten, het ’n kleuterskool in München alle speelgoed vir drie maande weggeneem. Die kinders het geen struktuur gekry oor wat hulle moet of mag doen nie en slegs tafels, stoele en komberse gehad. Aanvanklik was die kinders gedisoriënteerd, gefrustreerd, onseker en verveeld. Die eerste twee weke was chaoties en lawaaierig en toe het hulle kreatief speletjies begin uitdink, gelag, gespeel en gewaag. Ná die projek was die kinders meer kreatief, hulle kon beter konsentreer en kommunikeer, beter in groepe saamwerk en kon frustrasie beter hanteer.
In navorsing waar jong rotte en ape verhinder is om te speel maar wel sosiale kontak met ander rotte en ape gehad het, was hulle as jong volwassenes bevrees en angstig in nuwe situasies. Wanneer hulle vreemde rotte of ape teëgekom het, was hulle angstig en aggressief.
Tantrums mag werk met ouers, maar dit werk nie met maats nie. Kinders het meer sosiale speelaktiwiteite as net spansport nodig vir goeie sosiale ontwikkeling. In georganiseerde spansport gaan dit oor wen en die kind se sportvaardighede. Die opponente en spanmaats mag nie loop as jy dominerend of ongeskik is nie. In sosiale speelaktiwiteite gaan dit oor saamspeel en pret. Kinders leer dat ander nie meer wil speel as hulle dominerend is en nie kompromieë aangaan nie. Hulle moet sensitief en empaties selfgeldend reëls onderhandel, ander respekteer en ander se behoeftes met hul eie balanseer. Ek moet my maatjie met swakker vaardighede ’n kans gee en nie elke keer met die eerste bal uithaal nie, anders gaan hy loop. Dit ontwikkel ook ander se vaardighede, samewerking en empatie wat eendag in enige loopbaan noodsaaklike vaardighede is.
Ouers moet ’n balans kry tussen kinders se aktiwiteite en ruimte vir hedendaagse speelgoed en behoort tyd te maak vir goeie ou gewone sosiale speelaktiwiteite. Dit leer hulle die belangrikste lewenslesse, wat hulle moeilik elders gaan leer.
Gee jou kind gelukkige kinderjare en herinneringe én die nodige vaardighede vir die toekoms met outydse speelgoed en baie meer speeltyd.
Lees ook: Maak ’n kreatiewe kind groot
Tipes speel wat noodsaaklik vir kinders se ontwikkeling is
Fisiek aktiewe en motoriese speel
Fisiek aktiewe en motoriese speel soos klim, klouter, kruip en hardloop. Dis groot pret maar ontwikkel en versterk boonop hul spiere en liggaam en integreer ook hul senuwee- en breinontwikkeling.
Kinders wat nie aktief speel nie, is lomp en het ’n onderontwikkelde neurologiese, vestibulêre balansstelsel. Dit lei daartoe dat hul liggaamsbewustheid en visueel-ruimtelike oriëntasie verswak terwyl dit krities belangrik vir lees, skryf en later vir sekere wiskundige en wetenskaplike vaardighede is.
Lees ook: Betrokke ouerskap is goed vir pa’s en kinders
Konstruktiewe speel
Konstruktiewe speel met materiale soos blokkies, lap, karton, papier, sand, hout en stokkies waarmee hulle dinge skep of bou. Kinders leer oorsaak en gevolg deur te probeer, en ontwikkel fyn motoriese vaardighede.
Dit gee hulle die bevrediging dat hulle iets regkry en verhoog hul selfvertroue, selfbeeld en waagmoed.
Lees ook: Kies so die regte kleuterskool vir jou kind
Sosiale speel
Sosiale speel met ander kinders ontwikkel sosiale vaardighede. Hulle leer bedagsaamheid, om te deel, te onderhandel, te wag, beurte te maak, in groepsverband saam te werk, konflik en kritiek te hanteer, asook emosionele selfregulering.
Lees ook: Van speelskool na grootskool – 5 dinge wat alle ouers moet weet
Fantasie of verbeeldingspel
Fantasie of verbeeldingspel vind plaas wanneer kinders voorgee hulle is die ma of pa, die juffrou of brandweerman. Kinders gebruik hul verbeelding en dink scenario’s uit, oefen dit, of maak planne en ontwikkel kreatiewe denke en probleemoplossing. Dis dikwels ook ’n manier om moeilike dinge in hul lewe speel-speel te kan verwerk.
Kinders leer in elke soort spel om te kan dink, probleme op te los, te probeer en besluite te neem. Dit maak hulle leergierig en meer gereed vir die eise wat skool op alle vlakke aan hulle stel.
Lees ook: Hoe gedrukte foto’s jou kind se eiewaarde kan verbeter
Bevorder weer ongestruktureerde speel
- Laat jou kind kaalvoet buite in grond, sand en tussen bosse of plante en in die son speel. Volgens navorsingsbevindings verhoog die son jou vitamien D–vlakke wat beengesondheid, sterker immuunstelsels en emosionele gesondheid bevorder. Die kontak met grond en om dit selfs te eet versterk ook kinders se immuunstelsel en verminder moontlike allergieë. Organismes
in grond het ook ’n positiewe uitwerking op ’n mens se emosionele welstand. - Laat hulle klim, klouter, rol, tol, swaai, gly, hang, hulle op takke en muurtjies balanseer – dit ontwikkel hul sensoriese sisteme.
- Laat jou kind meer sonder volwasse toesig met maats speel. Waar volwassenes in beheer is, maak hulle die reëls, neem die besluite en los die probleme op. Dit maak kinders swak, weerloos en slagoffers wat afhanklik van ander is om vir hulle op te staan.
- Beperk speelgoed wat ’n battery nodig het. Sulke speelgoed speel meestal self, maak die geluide, die bewegings, bepaal die reëls en inhoud van wat moontlik is en hoe daar gespeel word. Dit beperk hul aktiwiteit, kreatiwiteit en verbeeldingspel.
- Beperk hul skermtyd. Selfs in opvoedkundige programme ervaar hulle iemand anders se idees en geskepte wêreld en skep nie hul eie nie. Kleuters word veral baie beïnvloed deur advertensies, want hulle kan nog nie tussen advertensies en die werklike program onderskei nie.
- Leer hulle om op hul eie langer as 40 minute per dag ongestruktureerd te speel. Selfs ’n baba van ses maande behoort hom vir 15 tot 20 minute te kan besig hou. Dit bevorder emosionele selfregulering, selfspraak, kreatiwiteit, kritiese denke, selfvertroue en onafhanklikheid as hulle hulself rustig, kalm en besig hou. Anders is dit later vir hulle moeilik om te konsentreer, probleme kreatief op te los en alleen hul huiswerk te doen. Ouers en kinders kry boonop eie tyd om te dink en te ontspan.
- Moedig hulle aan om met hulself te praat. Die selfpraat leer hulle om hul emosies en gedrag te rig en te bestuur.
- Moenie toegee en vir jou kinders sê wat om te doen as hulle kla hulle is verveeld nie.
- Kies outydse speelgoed soos ’n sandput, klei, blokkies, springtoue, fietse, pick up sticks …
- Gee vir hulle ’n towerboks met dinge wat hulle kan gebruik in verbeeldingspel of om goed mee te maak: grond, water, papier, kartonne, ou komberse (waarmee hul huise kan bou), stokke, strooitjies, leë blikke of houers, toue, lappe, ou klere, hoede, skoene … sodat hul prinsesse kan raak, of vlerke kan kry en vlieg.
- Lees vir en saam met hulle, dan skep hulle vir hulself die werklikheid in prentjies. Dit bevorder ook hul selfregulasie, luistervaardighede, taalvaardighede, geheue, algemene kennis en belangstelling in boeke. Baie kinderboeke se inhoud ontwikkel selfregulasie en emosionele vaardighede. Vra vrae: Wat gaan volgende gebeur? Laat hulle die storie weer vir jou vertel.
- Laat hulle toe om te eksperimenteer en met grond, water of vingerverf te mors.
Lees ook: Die maklikste resep vir speelklei wat jy self kan maak