Hoe om jou kind empatie te leer deur Mariette Snyman Hooffoto: Lordn/iStock
Kan jy jou kind empatie leer?
Kinders moet besef ons het die vermoë om ander mense beter of slegter te laat voel, en dat dit altyd beter is om mense beter te laat voel. Empatie bewerkstellig vrede en omgee.” Só sê dr. Ronél le Roux, emosionele intelligensiespesialis en terapeut van Centurion.
“Maar empatie kom nie vanself nie. Dis ’n vaardigheid wat aangeleer kan word, en in dié verband kan ouers en ander volwassenes ’n reuse-bydrae lewer.”
Hoe kry ons dit reg?
“Dis makliker wanneer ons empatie kan definieer en verstaan hoe dit van simpatie verskil. Empatie is die bewuswording en herkenning van gevoelens in ander, hetsy positief of negatief. Jy veroordeel nie die gevoel nie, maar laat die persoon toe om dit te ervaar. Jy probeer nie die situasie regmaak nie, jy gee nie ongevraagde raad nie, jy vra nie onnodige vrae nie. Jy reageer byvoorbeeld deur te sê: ‘Ek sien jy voel hartseer/omgekrap/opgewonde’ en hanteer die situasie met kalmte en deernis.
“Simpatie lyk anders. Dit beteken jy ervaar die gevoel sáám met die persoon. Jy raak saam kwaad, hartseer of omgekrap. Jy neem dalk op die plek beheer van die situasie en begin oplossings bedink waarvoor die persoon nie gevra het nie.
“Een voorbeeld is ’n negejarige wat by die huis kom en kla omdat hy sleg gespeel het in ’n krieketwedstryd. Sy ma kan met empatie reageer: ‘Ek sien jy voel hartseer omdat jy nie goed gespeel het nie. Ek kan my indink hoe sleg dit vir jou was.’
“Of die ma kan met simpatie reageer: ‘Ek dink ek moet met jou afrigter gaan praat. Hy weet niks van afrigting nie!’ In hierdie geval wens die seun dalk hy het dit nooit genoem nie, want nou word die situasie uit sy hande geneem en namens hom bestuur.
“’n Ander reaksie wat ons dikwels onwillekeurig toon, is niebekragtiging. Dit beteken ons maak iemand se gevoel af as niks, of ignoreer dit. Dit laat die persoon voel daar is fout met hom of haar.
“In hierdie voorbeeld sou ’n ma se reaksie van niebekragtiging so kon klink: ‘Jy neem dit te ernstig op, dis net ’n spel’ of ‘Ag wat jong, volgende keer sal dit beter gaan.’
“Wanneer ’n kind wat sterk emosies ervaar, weggestuur word om te gaan TV kyk of te gaan speel, is dit ’n vorm van niebekragtiging – ook wanneer ’n ouer die kind se aandag met eet- of drinkgoed probeer aftrek: ‘Kom ons gaan eet iets by die Spur, dan vergeet ons van die wedstryd.’ Hierdie soort ‘troos’ kan ’n voorloper wees van ’n emosionele eetpatroon; die kind leer as hy ongelukkig is, kan hy iets eet om beter te voel.
“Ons maak ons maklik aan niebekragtiging skuldig wanneer ons ongemaklik is met intense gevoelens. Ons wil hê die persoon moet gou beter voel sodat ons nie die ongemak hoef te ervaar nie.
Niebekragtiging kom ook voor wanneer ons iemand se vertelling of klagte troef met ‘Toemaar, ek het ’n veel erger ervaring gehad’. Let maar op hoe dikwels ons, wanneer iemand ’n gesondheidsprobleem noem, onmiddellik begin vertel wat óns, of iemand wat ons ken, oorgekom het.”
Wat stel ons in staat om empatie te hê?
“Daar is heelwat navorsing gedoen oor sekere mense se onvermoë om empatie te kan hê. Dis nie ’n eenvoudige kwessie nie, maar daar is bewyse dat breinskade aan ’n sekere deel van die brein daartoe kan lei dat iemand nie gevoelens in ander kan herken nie.
“Daar word beweer dat narciste nie empatie kan betoon nie omdat hulle moontlik nie oor sekere neurone in die brein beskik nie. Ander verklarings lui dat hulle wel empatie sou kon betoon, maar dit nie doen nie omdat dit hul magsposisie in ’n verhouding kan benadeel. Hulle is bewus van ander se kwesbaarhede en die emosies wat hulle ervaar, maar weerhou empatie doelbewus om die ander party seer te maak.
“Dis ’n kenmerk van sosiopate (voorheen psigopate) om nie empatie te toon nie. Hulle sal fisieke pyn vermy, maar kan hulle in ander se fisieke pyn verlustig.
“Mense wat misdade pleeg, gee baie keer nie vir hul slagoffers om nie en betoon geen meegevoel nie.
“Om empatie te hê moet ons liggaamstaal – veral stemtoon, liggaamshouding en die uitdrukking in die oë en van die mond – kan vertolk. Mense wat nie voldoende oogkontak kan hou nie, eien emosies baie moeiliker. Blinde en dowe mense vind dit ook moeiliker, maar gebruik dikwels ander sintuie om emosies te herken.”
Ouers se voorbeeld
“Ek dink baie ouers leer hul kinders reg van die begin af empatie, al noem hulle dit dalk nie so nie. As jy jou baba optel wanneer sy huil en haar troos, wys jy jy verstaan iets voel nie lekker nie en dat jy omgee. Ouers wat hul babas laat huil omdat hulle droog en gevoed is en ‘geen rede het om te huil nie’ leer die kind hulle is nie beskikbaar vir emosionele nabyheid of koestering nie. ’n Kind het baie meer as fisieke versorging nodig. Ek glo sterk dat jy ’n baba nie met te veel liefde kan bederf nie!
“Babas begin ook gou agterkom as Mamma gespanne is of nie goed voel nie. Dan kan hulle ‘moeiliker’ wees en meer aandag soek. Hulle kan ook van vroeg af gesigsuitdrukkings lees en kan beslis onderskei of Mamma liefdevol of geïrriteerd is. Selfs klein kindertjies probeer ander soms troos, soos ’n peuter in die hospitaal wat haar bottel aanbied vir ’n baba wat anderkant die glasafskorting huil.
“Indien ouers onverdraagsaam, veroordelend en emosioneel afgesluit is, sal kinders dit as die norm aanvaar. Daar is bewyse dat kleuters wat mishandel word, of tuis onvoldoende liefde ontvang, rowwer of minder empaties teenoor ’n hartseer maatjie optree as kleuters uit liefdevoller huise. ’n Kind wat tuis geslaan word, sal makliker aan ’n maatjie slaan. Daar is soms ’n fyn lyn tussen lyfstraf en mishandeling. ’n Kind wat in die hitte van die oomblik hardhandig aan sy arm rondgeruk word, word nie bloot ‘gedissiplineer’ nie.
“Ek glo dat empatie met selfbeeld saamhang. Kinders wat nie goed voel oor hulself nie, kan ander boelie in ’n poging om beter te voel. Aan die ander kant sal kinders uit ’n geborge huis, waar hul emosies aanvaar en toegelaat word, meer empatie met ander kan hê. Dis belangrik om te onthou alle emosies is toelaatbaar – maar nie alle gedrag nie. Ons mag almal kwaad word, maar jy mag nie goed stukkend gooi of iemand slaan wanneer jy kwaad is nie.”
Wenke vir ouers
“Sekere kinders leer empatie makliker aan, asof dit meer in hul aard is. Tog bly dit ’n vaardigheid wat gestimuleer moet word deur die voorbeeld en die moeite van ouers, onderwysers en ander volwassenes.
“Ma’s kan sommer vroeg al begin om oor emosies te praat, soos om te sê: ‘Hoekom is jou hartjie nou so seer?’
“Kinders hoef nie op ’n vroeë ouderdom te leer om empatie met woorde weer te gee nie. Hulle moet besef hulle kan iemand beter laat voel bloot deur hulle ’n drukkie te gee, hul hand vas te hou as hulle bang is, of hulle te help as hulle sukkel.”
Watter kennis het ouers nodig om hul kinders empatie te leer?
- Basiese kennis van gevoelens en gevoelswoorde.
- Onmiddellike herkenning van situasies waar hulle empaties kan optree, teenoor hul kinders of teenoor ander sodat hul kinders kan sien hoe dit gedoen word.
- Bewustheid van hul eie omgang met emosies en die uitwerking daarvan op ander, byvoorbeeld hul gebruik van empatie, simpatie of niebekragtiging.
- Bereidheid om moeite en tyd daaraan te bestee om hul kind van gevoelens te leer.
“Sekere situasies bied die ideale geleentheid om met ’n kind oor die verband tussen gebeure en gevoelens te gesels. As ’n kind kom vertel dat ’n ander kind seergekry het of geboelie is, kan die ouer vra watter moontlike gevoelens die betrokke kind kon ervaar het.
“Die belangrikste is dat ouers wat empatie wil oordra, dit ook betoon. Solank ons bewus bly van ander se gevoelens en daarby aansluit en daaroor reflekteer vóór ons ons persoonlike mening uitspreek of hulp aanbied, is ons op die regte spoor.”
Maak dit konkreet
Ja, jy kan empatievaardighede prakties vir kinders leer! Hier volg enkele voorbeeldaktiwiteite uit Emosionele intelligensie, ’n praktiese gids vir ouers en onderwysers deur dr. Rina de Klerk en dr. Ronél le Roux.
Vir alle ouderdomme
- Leer kinders dat jou liggaamstaal, soos jou gesigsuitdrukking, boekdele spreek oor hoe jy werklik voel.
- Leer kinders om “ek-boodskappe” te gebruik om hul gevoelens uit te druk, soos “Ek voel (naam van gevoel) omdat (rede vir gevoel), byvoorbeeld “Ek voel hartseer omdat jy nie na my luister nie.”
- Om ander mense korrek te verstaan, moet jy mooi luister na wat hulle sê. Ons moet leer om dit te doen, en vir gevoelens én feite luister.
Twee tot vyf jaar
- Maak “empatievoelers” van ’n haarband, draad en balletjies op die punte. Maak asof die kind ander se gevoelens kan aanvoel sodra sy die voelers dra. Laat sy dit doen wanneer iemand naby haar intense gevoelens ervaar en sê wat sy waarneem. Stel ’n voorbeeld van empatie deur ook die voelers te gebruik.
- Laat jou kind jou skoene aantrek om jou standpunt en gevoelens oor ’n situasie vir hom te wys. Verbeel jou weer jy staan in sy skoene wanneer jy sy standpunt probeer verstaan.
- Stel voor dat die kind voor ’n spieël gaan staan en probeer om soos iemand te lyk wat hartseer, gelukkig, kwaad, ensovoorts voel.
Ses tot elf jaar
- Knip prente van ’n mond en ’n oor uit. Monteer elkeen op ’n stokkie en nooi kinders uit om dit vas te hou wanneer hulle praat of luister.
- Vra ’n kind om ’n gevoel soos kommer, verwarring, verrassing of genot sonder woorde, deur gebarespel, uit te druk. Laat die ander groeplede die gevoel identifiseer.
- Speel die “En wat gebeur dan?”-speletjie. Vra kinders om hulle ander mense se gevoelens te verbeel wanneer hulle iets moois vir hulle doen of sê, of wanneer hulle iets leliks aan hulle sou doen of vir hulle sou sê.
Ses tot 15 jaar
- Blinddoek ’n kind en laat haar haar gewone werkies doen. Bespreek daarna haar ondervinding.
- Laat ’n kind beskryf hoe dit voel om deur die groep uitgesluit te word. Die ander moet empatie teenoor hom of haar betoon.
Elf tot 15
- Vra die kind om enige sin te kies, soos: “Ek wil nie vandag skool toe gaan nie,” en dit hardop te sê deur verskillende stemtone, toonhoogtes en ritmes asook verskillende liggaamshoudings te gebruik. Vra die kind om op te let na die betekenisverskil wanneer dieselfde boodskap op verskillende maniere oorgedra word.
- Vra die kinders om mense se nieverbale gedrag dop te hou wanneer hulle in ’n openbare plek is, en te probeer vasstel watter gevoelens die persoon ervaar.
- Gebruik rolspel om empatie te leer betoon. Laat een kind ’n storie vertel en ’n ander daarop reageer of dit bekragtig. Vra hulle om met ’n hoek van 45 grade teenoor die ander een te sit, op oogkontak te konsentreer, en toeganklike liggaamstaal te gebruik.