Ek is soms ‘n dom vasbyter. Dink nog aan verder ry, toe het sy die skade al betrag.
Jip. ‘n Pap wiel, kondig sy triomfantlik aan. My hart sink en my koffielus styg. Ek bel die huurmotor-agent se noodnommer. Geen antwoord. Doen dit ‘n tweede keer. Niks.
My reisgenoot is reg vir aksie. “Ek gaan ‘n kar stop. Hoe stop ‘n mens ‘n kar?” Ek weet nie. Probeer iets, dink ek.
Een vir een jaag die stringe rygoed by ons verby. Selfs die Polisie kyk nie eens twee keer nie.
My reisgenoot begin kragte meet met die windpomp in die verte. Haar arms ietwat minder ritmies, maar vasberade.
Toe sien ons hom. In sy spierwit bakkie. ‘n Ridder. Hy ry eers stadig verby, draai ‘n entjie verder om en kom weer terug.
“Kan ek help?” Mooi, die woorde. “Ons het ‘n pap wiel,” kom dit byna gelyk. Ek stilweg verlig dat hy my nie Tannie nie.
“My naam is Frans.” Sy boerseun arms bult, hare blink in die son. Asseblief, Frans. Dankie, Frans. Ons skuld jou, Frans.
“Julle skuld my niks. Volgende keer is dit dalk my beurt.” Ja, Frans.
Ons vra vinnig. Frans is ‘n Vrystater, woon nou in die kontrei en is op pad Boetsap toe. “Boetsap? Is dit ‘n dorp?” Frans frons. “Nee, dis ‘n plek.” Ek vra weer. “Is dit ‘n dorp?” Dié slag is die boerseun beslis. “Nee, dis net ‘n plek.” Ons bly stil. Frans moet doen wat hy moet doen.
Moeilik, dink ek later toe Frans vriendelik groet. Hoe moeilik het dit vir ons geword om ander te help. Sommer-net te help. Soos om ‘n pap wiel om te ruil. Hoe stop ‘n mens ‘n kar? Hoe help jy ‘n ander? Moeilik.
Dankie, Frans.
Dié week bevind ek my soms op krukke, soms in ‘n rolstoel. Ek kan nie my motor bestuur nie, moet ander vra om te help. Moeilik. Veral as dit reën in die Kaapse middestad en jy met jou rolstoel wind-op vorentoe beur.
“Hoe lyk dit met ‘n hupstootjie?” Die jong man kyk vriendelik-stip. “O, asseblief,” kom dit verlig. Moeiteloos stoot hy my tot waar ek wil wees. “Sal jy okei wees?” Dankie, baie dankie, sê ek en gluur vir al die sterk jonges en hul maters wat sonder opkyk by my verby kom. “Praat as ek moet help. Jy weet mos, ons almal makeer soms ‘n hupstootjie,” kom dit Kaaps. Dankie, baie dankie.
‘n Paar aande later sukkel ek rystoel-en-al om by ‘n restaurant-deur te in. Binne sit ‘n kouende skare. Sommige kyk op. Niemand help nie. Ek sukkel. Net daar is ek lus om te skree. “Kan julle nie sien ek sukkel nie? Hoe lyk dit met ‘n hupstootjie?” Ek doen dit nie. Sukkel, en slaag. Wonder hoe doen dié wat in hul rolstoele gekluister is dit? Moeilik.
Dalk, net dalk, is dit wat Ma jare gelede bedoel het toe sy die eerste keer die woordjie deernis gebruik het. “Ons moet deernis hê met mekaar,” hoor ek haar. En dink weer: hoe help jy ‘n ander? Moeilik.
Nee, basta! Maklik. Jy stop, ruil die pap wiel om. Jy gee die hupstootjie. Miskien, net miskien, word die wêreld dan ‘n beter plek.
Tot volgende week,
Marí
www.incontext.co.za