Hoe die toekoms van kos gaan lyk deur Vickie de Beer
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }
Die reuse-kettingwinkel Sainsbury’s in Brittanje het ’n omvattende toekomsvisie vir kos saamgestel om hul 150ste bestaansjaar te vier. ’n Paneel deskundiges het in diepte gekyk na wat ons gaan eet en hoe ons leefstylgewoontes oor die volgende 150 jaar gaan verander.
Die kundiges wat hul toekomsbrille opgesit het, wou onder meer bepaal wat die uitwerking van voedselproduksie op die omgewing en ons kwynende hulpbronne sal wees. Maar alles is toe darem nie donkerte en ellende nie. Danksy innovasie en nuwe tegnologie is daar hoop vir die toekoms.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }
Daar word voorspel dat ons baie van ons ons eie groente en vrugte gaan kweek. Hidroponiese slaaiblare en kruie wat teen mure in supermarkte groei, gaan algemeen wees. ’n Duitse maatskappy, InFarm, het reeds lewende tuine in meer as 150 restaurante, kroeë en supermarkte. In Suid-Afrika verkoop Spar sakkies slaaiblare met wortels en al.
Nuwe eko-voetspoor-apps gaan dit in die toekoms makliker maak om die werklike koskilometers en omgewingsuitwerking van kosse te meet. Verbruikers sal die roete van die kos van die plaas tot op die tafel kan volg. In Suid-Afrika is daar reeds so ’n app: ABALOBI. Dié app maak dit vir sjefs moontlik om vars vis wat kleiner vissermanne vang te koop terwyl dit letterlik nog op die see in die skuit is. Die app volg die vis van die boot tot by die restaurant sodat die sjef weet die vis het nie die verkoelingsketting verlaat nie.
Gesondheidsdiëte wat nommerpas vir individue ontwerp is, is in 2025 aan die orde van die dag. Wat van ’n breindieet om demensie te voorkom, of ’n inflammasiedieet vir artritis? Na beraming kan elf miljoen sterftes wêreldwyd voorkom word deur ’n gesonder dieet te volg. Gefortifiseerde kosse gaan moontlik hier ’n groot rol speel. In Kalifornië is daar reeds kosprogramme genaamd “Shop with your Doc” waar gesondheidsverskaffers pasiënte touwys maak oor die beste maaltydplanne vir hul siektetoestande.
Vermorsing is in die stadium die grootste bedreiging vir ons omgewing, en teen 2025 gaan daar wêreldwyd veldtogte teen vermorsing wees. Na beraming word elke jaar sowat 13 miljard ton kos wêreldwyd weggegooi, waarvan die meeste uit gewone huishou-dings kom. Boonop skei die kos wat op vullishope beland skadelike kweekhuisgasse af.
Gelukkig het baie supermarkte en sjefs vermorsing die stryd aangesê. Die Italiaanse Michelenster-sjef Massimo Bottura is veral uitgesproke en gekant teen vermorsing. Hy het ’n reeks gemeenskapskombuise, Refettorio, begin waar behoeftiges verniet kan eet van kos wat van supermarkoorskiet gemaak word.
Plaaslike sjefs is ewe begeester oor die vermindering van kosmyle en besorg oor verpakking en vermorsing. Kevin Grobler, hoofsjef by Delaire Graff, probeer om weg te doen met verpakkingsmateriaal en dring daarop aan dat groente in oop, herbruikbare kratte afgelewer word.
Sjef Maritz Jacobs van Longridge-restaurant glo aan ’n wortel-tot-blaar en stert-tot-snoet benadering. Dit beteken elke deeltjie van die plant en dier word gebruik. Hulle kook uit die organiese tuin, en as iets bestel moet word, kom dit uit die onmiddellike omgewing.
Mense raak toenemend bewus van die negatiewe uitwerking wat voedselproduksie op die aarde het en meer en meer mense verkies ’n plantgebaseerde dieet. Die fleksitariërs eet minder gereeld vleis om die druk op die omgewing te verlig, die vegetariërs eet glad nie vleis nie en veganiste sny alle diereprodukte uit.
Die Verenigde Nasies sê as dinge bly soos dit nou is, is daar nog maar sestig jaar van boerdery oor. Daarom het Knorr, een van die wêreld se grootste voedselprodusente, en die Wêreld-natuurfonds saamgespan om die topvyftig kosse van die toekoms te identifiseer. Die kosse is gekies op grond van besondere hoë voedingswaarde, hoë opbrengste en dat die kos in moeilike omstandighede verbou kan word, soos kaktusse wat min water nodig het.
Interessant genoeg bestaan 75% van die mensdom se dieet uit net twaalf gewasse en vyf dierespesies, hoewel daar byna vyftigduisend eetbare gewasse is. In Suid-Afrika bevat die meeste mense se eetplan slegs twee gewasse (mielies en rys) en een proteïen (hoender).
Volgens die Knorr 50 Future Foods-verslag behoort ons almal minder vleis te eet en eerder ’n groter verskeidenheid groente. Die verslag stel ook voor dat ons plantaardige bronne van proteïene soos quinoa en lensies moet eet. Van die gewasse wat deel van die topvyftig toekomstige kosse is, is spinasie, patats, quinoa, lensies, sampioene, sade soos vlassaad en sesamsaad, asook grane soos spelt en tef. Ander interessante kosse op die lys is wakame-seewier, hennepsaad en kaktusse.
Die mens kan nie sonder proteïene oorleef nie, en in dié stadium is vleis en vis die vernaamste bron van proteïene vir die ganse mensdom. Dit plaas geweldige druk op die omgewing en ook op hulpbronne soos water en grond. Waarom dan nie nuwe proteïenbronne soek nie? Op dié gebied is daar heelwat ontwikkeling, en die eet van insekte word al hoe meer as ’n werkbare oplossing gesien.
Insekte is hoog in proteïene, en larwes en insekte soos sprinkane kan in steriele omstandighede in laboratoriums gekweek word. Dit het boonop byna geen uitwerking op die omgewing nie.
In Suid-Afrika maak die maatskappy Gourmet Grubb entomelk uit swart soldaatvlieë-larwes wat in steriele laboratoriums gekweek word. Die ryk en romerige melk met ’n effense aardse smaak is hoog in proteïene maar bevat geen laktose nie (wat goed is vir mense met dié intoleransie). Die melk word ook gebruik om heerlike roomys te maak.
Leah Bessa, uitvinder van entomelk, sê dit is belangrik om alternatiewe bronne van proteïene te kry omdat sy meen die vleisbedryf is meestal oneties en omgewingsonvriendelik. Sy dink ook dis nie noodwendig vir almal ’n oplossing om proteïene uit plantaardige bronne te kry nie.
“Dit is arbeidsintensief, afhanklik van die klimaat en ons het net nie genoeg vrugbare, bewerkbare grond op aarde om almal te voed nie.”
Voordat jy jou neus optrek vir goggakos, gaan probeer eers die Gourmet Grub-roomys of eet by die Insect Experience-konsepwinkel in die Iron Works-gebou in Woodstock, Kaapstad. Insekkos is ons almal se voorland.
Lees ook: Dink nuut oor goggakos
Die wêreldbevolking gaan moontlik die nege miljard-kerf bereik. Tans eet die gemiddelde Amerikaner byna 110 kg vleis per jaar. In 2050 gaan daar net nie meer genoeg vleis wees om aan almal se behoeftes te voldoen nie, en “gekweekte” vleis gaan dalk die norm wees. Daar word reeds geëksperimenteer om vleis uit stamselle te kweek en soortgelyke navorsing word op eiers en vis gedoen. Of verbruikers laboratoriumvleis gaan eet, en wat die uitwerking op ons gesondheid gaan wees, kan niemand voorspel nie.
Die bekende sjef Peter Goffe-Wood het pas die restaurant Viande in die Paarl oopgemaak wat grootliks op vleis en snoet-tot-stert kookkuns fokus. Ons wou by hom weet of hy dink die mensdom se vleisetery is volhoubaar?
“Mense gaan nooit ophou om vleis te eet nie, dit gaan dalk net duurder word omdat dit skaarser gaan word. En, voeg hy skertsend by: “As ons geen meer vleis het nie kan ons altyd die veganiste begin eet, hulle is hoeka grasvretend en vrylopend!”
Vis is tans die hoofbron van proteïene vir minstens een miljard mense wêreldwyd. Die beskerming van marine-ekosisteme is uiters belangrik. Sainsbury’s is reeds besig om minder bekende seekosse, -plante en vissoorte te soek wat moontlik nuwe bronne van proteïene kan verskaf. Seewier is so ’n bron en is ook een van die vyftig toekomskosse wat Knorr uitgewys het. Nie net absorbeer seewier baie koolstof nie, dit is hoog in voedingswaarde en verskaf ’n habitat vir baie ander spesies soos mossels en oesters.
Baie mense glo dalk dat ons oor 150 jaar genoodsaak sal wees om kolonies op Mars of die maan te hê. Maar daar is dalk ’n ander uitkoms: Die mens is in staat om deur tegnologie en wêreldwye samewerking ’n ryk en vrugbare aarde te verseker wat vir almal kan sorg.
Deur grootskaalse woestynherwinning en soutwaterboerderye kan baie van die energie- en voedseltekorte getakel word. Sommige gewasse groei suksesvol in soutwater en daar is reeds suksesvolle soutwaterboerderye in Australië.
Teen 2169 sal die kombinasie van soutwaterboerdery, ontsouting van water, vertikale hidroponiese tuine, tegnologie en die bestuur van belangrike data hopelik verseker dat daar genoeg kos op aarde vir almal is.
Kan my kat of hond ook Alzheimersiekte kry? Dis wat jy moet weet oor "canine…
Sodra jy dink jy het al die voorskrifte onder die knie, hoor jy daar is…
Het jy geweet jou baba of peuter moet letterlik leer om sintuiglike inligting te filtreer…
Genoeg vir 6 Bestanddele 625 ml (2½ k) tee-en-vrugtesap 30 ml (2 e) gelatienpoeier…
Buiten vir sy uitsonderlike talent as musikant en liedjieskrywer, is Len Muller ook bekend as…
Hierdie webwerf gebruik koekies.