7 maniere om jou hoë bloeddruk te verlaag deur Salomé Delport
Wat doen hoë bloeddruk aan jou?
Tel gou tot drie.
Teen die tyd dat jy klaar getel het, het nog iemand gesterf weens ’n toestand wat aan hoë bloeddruk gekoppel word. Élke drie sekondes sterf iemand weens onbeheerde bloeddruk. Elke drie sekondes …
Waaraan sterf hulle tipies? Beroerte, hartaanvalle en nierversaking. Vir al hierdie toestande het Suid-Afrika van die hoogste voorkomsyfers ter wêreld – sekerlik net logies aangesien die voorkoms van hoë bloeddruk by ons ook van die hoogstes ter wêreld is.
Baie ander sterf nie maar hulle kry swaar weens toestande wat ook aan hoë bloeddruk gekoppel word. Een waarmee ongelooflik baie mense – jong mense onder dertig ook – sukkel is perifere vaskulêre siekte (PVS, of PAD, of peripheral areterial disease). Jy weet jy het PVS as trappe klim en jou bene begin pyn.
Dit word veroorsaak deur swak bloedsomloop in jou ledemate en hande en voete, een van die vernaamste komplikasies van hoë bloeddruk. Swak bloedtoevoer lei tot probleme soos ulsers (groot vlak velsere wat moeilik genees) en verloor mense gevoel in hul tone, voete en vingers.
Ander ‘kleiner’ skades weens hoë bloeddruk sluit in swak sig en bloeding op die retina.
Ons risiko op hoë bloeddruk styg steeds
Die skrikwekkende waarheid, sê prof. Alta Schutte, Direkteur van die Mediese Navorsingsraad se Eenheid vir Hipertensie en CHS by Noord-Wes Universiteit, is dat die aantal mense met hoë bloeddruk bly toeneem – veral in ontwikkelende lande, en by ons spesifiek.
“Van die wêreld se heel hoogste bloeddruktellings ooit word in Sub-Sahara Afrika aangeteken. By ons het een uit elke twee mense bo vyftien hoë bloeddruk.”
As jy ’n honderd mense op straat sou kies, lyk die syfers só:
- 50 het hoë bloeddruk
- 35 weet dit nie en word dus nie behandel nie – en loop ’n groot risiko om uit die bloute ’n beroerte of hartaanval te kry of nierversaking te ontwikkel.
- 8 van dié wat wel behandel word kry nie hul bloeddruk met behandeling onder beheer nie.
Nog ’n syfer wat mens twee keer laat dink oor ons risiko as vroue: elke dag sterf daar in ons land 78 vroue en 53 mans weens die impak van hoë bloeddruk. Ja, jy het die syfers reg gelees: méér vroue as mans sterf weens hoë bloeddruk. Vir elke twee mans wat sterf, sterf drie vroue. Ons risiko is baie hoër as mans s’n. Niemand weet regtig hoekom nie.
Lees ook: Gesondheid op die volgende vlak. Toets jou gesondheidsverwagting.
Wanneer is jou bloeddruk te hoog?
- 140/90 Jou bloeddruk is hoog. Jy behoort op bloeddrukmedikasie te wees.
- 130-140/80-90 Jou bloeddruk is nie laag genoeg nie. Maar jy behoort met leefstylaanpassings jou bloeddruk te kan verlaag.
- 120/90 of laer Jou bloeddruk is normaal en gesond.
Lees ook: Kinders met hoë bloeddruk
Verlaag jou hoë bloeddruk só
Enige van hierdie sewe maniere sal help om jou bloedruk te verlaag of – nog beter – lewenslank laag te hou. Kies een of twee en werk die res geleidelik in by jou lewenstyl. So raak die gesonde lewenstyl maklik jou eie lewenstyl.
Lees ook: Eet jou hart gesond
1 Meet en weet
Begin by meting – meet en weet, soos die slagspreuk sê.
Hoë bloeddruk is ‘n ‘stil’ siekte, sê Prof. Schutte. Jy sal nie sleg voel, koors ontwikkel, flou val of ‘n voel dat jou hart vinnig klop nie. Hoë bloeddruk verklap homself nie aan die begin – wanneer jy nog iets daaromtrent kan doen nie – met tekens en simptome wat jou waarsku dat jy dokter toe moet gaan. Daar is regtig net een manier om jou bloeddruk te bepaal: dit moet professioneel gemeet word.
Laat jou dokter met elke besoek jou bloeddruk meet, al is jy daar vir iets heeltemal onverwant. Apteekklinieke soos dié by Dis-Chem en Clicks, meet bloeddruk teen ’n baie billike bedrag.
2 Wat is jou ouers se bloeddrukgeskiedenis?
Dit lyk asof hoë bloeddruk ook ’n erflike komponent het. As een of albei van jou ouers voor vyftig reeds hoë bloeddruk gehad het is jou risiko ook baie hoër. Vra jou ouers uit oor hul bloeddruk, en monitor joune beslis van dertig, veertig as jy ’n familiegeskiedenis van hoë bloeddruk het.
Lees ook: Is jy gereed vir jou gene? Alles wat jy oor genetiese toetse moet weet
3 Stap … of dans, ry fiets, draf, spring tou of klim trappe
Enige soort oefening help. Dit is nie belangrik dat jy goed in sport moet wees nie – dit is wel belangrik dat jy aan iets deelneem. Dit kan so eenvoudig wees as tuisoefening tot georganiseerde sport soos aksienetbal of ’n parkrun.
Lees ook: 6 redes hoekom seks goed is vir jou
28-dag fietsryprogram vir beginner-fietsryers
Vir nog fiksheidswenke en -inspirasie, loer hier.
4 Bestuur jou stres doeltreffender
Slaap genoeg. Lag lekker. Sorg vir goeie, ondersteunende verhouding. Mediteer of bid, en of leer by ’n lewensafrigter hoe om die oorsake van stres in jou lewe beter te bestuur.
Lees ook: 10 wenke teen stres wat werk
Wat om te doen wanneer werkstres jou wakker hou
5 Drink min, of ten minste minder
Dit is ’n mite dat alkohol goed is vir jou hart. Jy hoef nie geheelonthouer te wees nie maar hoe minder jy drink hoe beter vir jou.
Lees ook: Hoekom dit goed is om minder of geen alkohol te drink
6 Sny die sout
Ons eet tipies te veel sout. Leer jouself af om ekstra sout op kos te gooi. Lees hier wenke oor hoe om sout te sny.
Lees ook: 10 kosse met die meeste sout
10 wenke om minder sout te lees
Slim maniere om minder sout te gebruik
7 Kies groente waar jy kan
Navorsing wys dat mense wat gesonder eet beter vaar as dit bly bloeddruk kom. Veral groente is voordelig. hoe slimmer jy raak met groente inwerk by al jou etes, hoe beter vir jou. Hier is ’n paar idees:
- Sit tamatie, spinasie, sampioene en/of edamameboontjies by jou ontbyteier
- Kap ’n vrug en/of neute op in jou jogurt
- ‘Verryk’ jou ontbytpap met’‘n piesang, neute of grondboontjiebotter.
- Hou ’n blikkie mielies of bevrore mielies byderhand en skep ’n lepel in jou hawermout of mieliepap.
- Eet by die werk as tussenin happies eerder ’n appel, aarbeie, lemoen of neute. Dit is selfs beter as gesondheidstafies.
- Groentesop vir die winter en slaai vir die somer verseker jy kry nog ’n goeie skep groente elke dag.
- Vul jou toebroodjie of wrap met slaaiblare, jong uie, saadspruitjies, pietersielie, basilieblare, baba-ertjies en so aan. Hoe varser hoe lekkerder!
- Selfs koek en nagereg kan gesonder wees. Kies liewer appeltert of vrugteslaai.
Vir heerlike, gesonde resepte, besoek ons kosafdeling.