Hoe bindingsterapie vir een gesin gewerk het, en hoekom julle dit dalk moet oorweeg deur Mariette Snyman
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }Ek en my man, John*, wou dolgraag kinders hê en het selfs in ’n stadium van vyf kinders gepraat!” sê Michelle*, ’n veertigjarige argitek. “Ongelukkig was daar genetiese komplikasies aan my kant; ek is die draer van uiterste graad hemofilie, wat ’n seuntjie swaar sou aantas. Dit het aanvanklik ons gesinsplanne gerem. Maar nadat ons alle mediese moontlikhede ondersoek het, het ons besluit om natuurlik swanger te raak. Dit het nie gebeur nie. Vyf jaar lank het ons vrugbaarheidsbehandelings, kunsmatige inseminasie, ensovoorts probeer. Die dokters het moed opgegee, en ons het besluit om ons toekoms te herdefinieer. Ons het mekaar mos met of sonder die moontlikheid van kinders gekies. Ek het my werk bedank en my eie praktyk begin. Ons het ons familie laat weet daar sou geen kinders wees nie.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }“Twee jaar later, nadat John ’n pos aanvaar het wat hy nooit sou oorweeg het indien ons kinders gehad het nie, was ek spontaan swanger met Phia* (nou 8). Die bevalling was gekompliseerd, maar sy was gesond. Dit was soos ’n droom. Hoewel ek fisiek gesukkel het ná die keiser, het ek moeite gedoen om met my babatjie in my arm te lê of in die sonnetjie te sit en sing. Sy het snags kwaai gehuil, maar ek onthou hoe ek een nag ten spyte van my desperate trane gedink het: Prys die Here jy kan hier staan met ’n huilende baba in die middel van die nag – jy kon nou kinderloos rustig lê en slaap het!
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }“Borsvoeding was baie moeilik, maar ek wou Phia graag twee jaar lank borsvoed. Genadiglik het ek en sy dit binne agt weke onder die knie gekry. Ek het my werk afgeskaal en kon my praktyk sluit toe sy ’n jaar oud was.
“Toe sy 22 maande oud was, kom John op ’n dag terug van ’n oorsese werksreis. Binne ’n halfuur sê hy: ‘Ek dink jy is swanger.’ Ek was uit die veld geslaan. My menstruasie het nog nie weer ná Phia se geboorte hervat nie, maar hy was reg! Ek was agt weke swanger met James*.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }“Ons was geskok toe ons hoor dis ’n seuntjie. Hy het ’n een uit twee kans gehad om my pa se ernstige hemofilie met ’n bloedstollingsfaktor van 1% te erf. Hierdie wete het my swangerskap en bevalling gekompliseer, maar drie dae ná sy geboorte kon die medici bevestig dat James se bloedstolling normaal was. Absolute genade!
“Hy was ’n gesonde, maklike babatjie en sy ousus was dol op hom. Hoewel ek weer met borsvoeding gesukkel het, beskou ek dit as van onskatbare waarde: die tyd saam, die velkontak tussen ma en baba, en al die voordele van borsmelk. Ek was oorgehaal om James ook twee jaar lank te voed.
“Op aanbeveling van ’n klinieksuster het ek ’n proteïenaanvullingskommel geneem om meer melk te maak. By die terugkyk was dit ’n fout. In ’n stadium het ek akute diarree ontwikkel. Omdat ek gelees het hoe borsmelk babas beskerm selfs al is die mamma siek, het ek aanhou borsvoed en slegs medisyne geneem wat vir borsvoeding goedgekeur is. Ná vier weke se vergeefse doktersbesoeke en mediese toetse het my ma aangedring dat ek haar huisdokter op haar tuisdorp gaan spreek. Hy het my dadelik in die hospitaal opgeneem. My simptome was geweldige swakheid, kos wat glad nie verteer het nie, erge rugpyn en uurlikse bloederige diarree. ’n Gastro- en kolonoskopie met biopsies het gastritis, maagsere en ulseratiewe kolitis uitgewys, ’n ernstige outo-immuuntoestand wat tot kolonkanker kan lei.
“Dit was skrikwekkend om skielik so siek te wees – ek was net 34 en voorheen regtig gesond. In die hospitaal het ek ’n hoop medisyne gekry en moes onmiddellik ophou borsvoed. James kon natuurlik ook nie by my bly nie – hy was skaars drie maande oud. My ma het hom versorg en vir hom formulemelk gegee wat saam met borsvoeding werk, maar wanneer sy hom besoektye hospitaal toe gebring het en ek hom bottel wou gee, het hy histeries geveg om by my bors uit te kom. Ek het my uitgemelk en met yspakke gelê om die stuwing in my borste te verminder en mastitis te voorkom. Eindelik het die dokter kom sê weens die chroniese medikasie en kortisoon wat hy wou voorskryf, sou ek nie verder kon borsvoed nie. My hart was stukkend. Ek het regtig geglo borsvoeding tot twee jaar is die beste vir my kinders. Ek het medikasie gekry om die melk te stop.
“Ek was ’n week op ’n drup in die hospitaal, en alle kos is weggeneem om my ingewande te laat herstel. Dit was maar moeilik wanneer die ander pasiënte etes gekry het. Ná ’n week het dun mieliepap soos koningskos geproe!
“My man was oorsee om ’n nuwe kantoor te vestig, en ons het op die oumas gesteun. Ek, James en Phia was ’n week lank by my ma. Ek was te swak om James op te tel, maar ná sy bottelvoedings het my ma hom in my arms kom lê en snags het hy by my geslaap. My ma het opgespring en ’n warm bottel gebring sodra hy wakker word. Daarna is ek en die kinders vir twee weke na my skoonma. Sy woon nader aan ons huis en aan die dokters wat my sorg sou oorneem. My skoonma, Ouma Ria, het nes my eie ma na die kinders omgesien terwyl ek herstel het. Die verskil was dat sy James se versorging heeltemal oorgeneem het. Hy het langs haar bed geslaap en sy het al sy voedings en doekruilings hanteer. Eers vyf weke ná my hospitaaltyd kon ons gesin alleen voortgaan.”
“Tot my grootste vreugde het die spesialis by wie ek nou was, gereken ek kon weer borsvoed. Hy het my medikasie verander en ek is deur die proses van herlaktasie. Dit het twee weke geneem en James, wat elke keer moes suig om die melk te help terugkom voor hy ’n bottel kon kry, was by tye bitter kwaad oor die leë bors. Maar dit het gewerk! Ná vier weke kon ek weer eksklusief borsvoed – vir my ’n groter prestasie as die dag toe ek my graad ontvang het!
“James was steeds ’n maklike baba, maar namate hy ouer geword het, het ons agtergekom hy is bang om ons uit die oog te verloor. Hy wou niks weet van wegkruipertjie nie. As ons in die veld gaan stap en Mamma of Pappa verdwyn agter ’n boom, was hy buite homself al kon hy ons stemme hoor. Hy moes my sién. Slegs Ouma Ria kon hom tot ruste bring. Wanneer ons daar gekuier het, wou hy op die matrassie langs haar bed slaap. Net sy kon die slaaptydstorie lees en as hy seerkry, het hy eerste na haar toe gehardloop. Maar die groot rede hoekom ons hom na ’n spelterapeut geneem het, was omdat hy vreeslik bang was vir alleen wees.
“Ek het van bindingsterapie geweet omdat my terapeutvriendin wat elders woon dit gebruik. Sy het my na Lanie*, ’n spelterapeut in ons omgewing, verwys. James was pas vier en Lanie het hom tydens drie uurlange sessies geëvalueer. Ek was stomverbaas toe sy sê hy sien my nie as sy primêre versorger nie. Ek was dan so ’n betrokke ma! Afgesien van sy speelgroepie twee keer per week, was James heeltyd by my.
“Nog groter was my verbasing toe Lanie sê James beskou Ouma Ria as sy primêre versorger. Sy woon dan op ’n ander dorp, en ons kuier net twee naweke per maand daar. Terwyl ’n kindjie ontwikkel, het Lanie verduidelik, word verskillende verhoudings tydens verskillende ontwikkelingsfases gevestig. Hierdie verhoudings beïnvloed jou emosionele gesondheid tot in volwassenheid. Die tyd toe ek siek was, was ’n belangrike bindingsfase in James se lewe en omdat ek skielik ‘weg’ was en Ouma Ria hom liefdevol versorg het, het hy met haar as sy primêre versorger gebind. Volgens Lanie was dit goed dat ouma Ria in daardie stadium James se intense emosionele behoefte kon vul – die skade sou andersins groter gewees het. As ek nie die moeite gedoen het om die borsvoeding te hervestig nie, sou James ook groter emosionele seer ervaar het. Sy emosionele ontwikkeling was in plek: die enigste probleem was daardie kleintydknou.
“Ek en James was vir vier of vyf sessies by die spelterapeut.
James was mál oor die terapie! Al het ons dit tuis ook gedoen, was hy altyd opgewonde om na Lanie te gaan om te sien watter nuwe speletjies ons twee sou leer. Ons geheime groet was vir hom kosbaar en hy het so vinnig positief gereageer op die ekstra aandag van my kant.
“Omdat die grootouers vir albei kinders baie spesiaal was, het ons Phia nooit bewus gemaak van die redes vir James se terapie nie en die speletjies met haar ook gespeel.
“John was volwasse genoeg om nooit seergemaak te voel dat sy ma die ‘probleem’ was nie. Ons het haar nooit vertel nie – nie net het sy haar hulp met die grootste liefde aangebied nie, maar dit was ook presies wat ek nodig gehad het toe ek so siek was. Ons sou niks aan Ouma probeer verander nie, net ons eie optrede.
“As deel van die terapie moes ek en John nou in ál James se behoeftes voorsien. Tuis was dit maklik, maar by Ouma Ria moes ons spring met die water as James dors was, of eerste daar wees met soentjies en ’n pleister as hy sy knie stamp. Pappa het aangedring om sy slaaptydstorie te lees, en ek het hom die laaste nagsoentjie gegee. Snags het ons soos blits opgespring as hy sou wakker word. Dit was seker by tye vreemd, maar John het alles glad laat verloop.
“Met die eerste evaluasie het Lanie vir James gevra wie hy sou saamneem as hy in ’n klein ruimtetuigie met plek vir hom en net twee passasiers maan toe kon vlieg. Ouma Ria was toe langs hom, en Sussie agter. Met ons vyfde sessie het James skielik gesê: “Mamma, ek wil jou saamvat maan toe. Jy moet altyd langs my sit in my spaceship!’ Ek en Lanie was albei in trane.
“Die terapie het ons gesin nader aan mekaar gebring. Ons het geleer daar kán nie te veel liefde wees nie. Elke stukkie aandag aan jou kinders tel! Jy kan ’n kind op die verkeerde manier bederf met materiële goed en ‘los’ dissipline, maar nie met tyd en liefde nie. Maak nie saak hoeveel liefde ’n ouma, oppasser of juffrou gee nie – jy is die mamma, en jou kind het jóú nodig. Die ander liefdes is ’n bonus.
“Ek is hoopvol dat Phia en James eendag gesonde verhoudings met hul toekomstige liefdes sal hê, omdat hulle kleintyd die diepe koestering wat hulle nodig gehad het, volledig kon kry.”
*skuilname
In leketaal praat ons van ’n “goeie” verhouding tussen ouer en kind, maar wanneer bindingsterapie ter sprake is, praat ons van ’n sekure binding. Dit beteken die ouer is bewus van die kind se behoeftes en in staat om sensitief en responsief op te tree. Die kind vertrou die ouer en voel veilig. Sulke kinders ontwikkel makliker die vermoë om hulself emosioneel te reguleer en positiewe internaliseringsboodskappe – dit wat jy oor jouself glo – vas te lê. Hulle hanteer stresvolle omstandighede of trauma ook makliker.
“Bindingsbreuke”, waaroor ouers nie altyd beheer het nie, kan verhinder dat ’n sekure verhouding tussen die kind en die primêre versorger ontstaan. Voorbeelde sluit onbeplande swangerskap, premature geboorte, trauma by geboorte, skeiding van die primêre versorger om watter rede ook al, en fisieke of emosionele mishandeling in. Bindingsterapie is ’n gestruktureerde terapeutiese proses met die primêre versorger en kind, gefasiliteer deur ’n gekwalifiseerde terapeut wat verskeie speeltegnieke gebruik om die nie-sekure verhouding te versterk en te rekonstrueer.
* Inligting verskaf deur Ilze Norden, maatskaplike werker van Johannesburg met ’n nagraadse kwalifikasie in spelterapie: ilze.norden@gmail.com
Lees ook: Help jou kind dié oorgange baasraak
Genoeg vir 4. Bestanddele 500 g vars pasta, soos tagliatelle of spaghetti 250 ml…
Om jou hond se ore skoon te maak is ’n noodsaaklike deel van sy basiese…
Bestanddele 3-4 groot rooi soetrissies, middeldeur gesny, en wit vliesies en pitte verwyder. sout…
Ons almal het een of ander slegte gewoonte. Die goeie nuus is dat jy dit…
Van speelskool na grootskool: 5 wenke deur Mariette Snyman. Foto Pixabay Om by die…
Met die strandseisoen op ons, kyk ons na die moets en moenies om te verseker…
Hierdie webwerf gebruik koekies.