Dit is 25 April 2017. Dit is veronderstel om ’n wonderlike dag vir dié paartjie te wees. Maar in die kraamvleuel van die Sandton Medikliniek ontvou ’n drama hom wat netsowel ’n episode uit 7de Laan kon wees.
Die keisersnee was suksesvol. Die pa is verlig en verheug: dis ’n seun! Ma en baba is gesond, of nie?
Die pediater ondersoek die baba en luister met ’n stetoskoop na sy hart en longe. Sy lyk ernstig. Sy hoor ’n ongewone, kommerwekkende gesuis.
Hy word onmiddellik in ’n inkubator geplaas en na die hoësorgeenheid geneem, waar sy brose lyfie aan masjiene gekoppel word om sy hartklop, bloeddruk en suurstofvloei te meet.
Die ma is nog te swak om hom te vergesel. Die pa moet kies: Moet hy sy vrou verlaat om by hul kind te wees?
Die mediese span kan nie vasstel wat fout is nie. Verwarring en ’n geskarrel.
Hulle raadpleeg dr. Raymond Dansky, ’n pediatriese kardioloog. Sy prognose, gegrond op die data wat aan hom bekend is, is skokkend: ’n lekkende hartklep. Net chirurgie kan dit herstel.
Dis verbysterende nuus! Hildegardt is verpletter. Wat het sy verkeerd gedoen? Sy het dan soveel dinge – alkohol en kafeïen en alles wat nadelig vir die baba kon wees – vermy. Sy het gedurende haar swangerskap supergesond geëet en gelewe. Sy kan net bid.
Die baba word na die Sunninghill-hospitaal oorgeplaas waar verdere toetse met die geskikte toerusting gedoen kan word. Die spesialis sê die baba hoef nie geopereer te word nie. Die gesuis wat in sy hart opgemerk is, is veroorsaak deur hoë druk in die baba se longe wat tot ’n verlies aan vrye bloedvloei lei. Sy hart kan nie genoeg bloed na sy longe pomp nie. Gevolglik kan daar ook nie genoeg suurstof deur sy lyfie vloei nie.
Die aanvanklike geluid wat opgemerk is en die medici se flinke optrede het dié baba gered!
En nou is daar ’n vreugdeklank in die Silkiewicz-musiekhuis in Linden, Johannesburg. ’n Musiekstuk teen die wit muur is die fokus van sy babakamer. Gewilde karakters uit sprokies, diere en ’n teddiebeer sit tussen die musieknote op die stawe. Hy is omring deur veilige, handgemaakte speelgoed. Aandagafleiers, sy babamonitor en fopspeen hang bó sy bedjie aan ’n raam. Hy slaap net bedags daar, want saans “ontvoer” sy pa hom en lê hy soos ’n warmwatersak tussen sy ouers. Én hy maak hulle gereeld in die middel van die nag wakker.
Hy is kwalik vier maande oud en superklein, maar dié blou-oog weet reeds waarvan hy hou: mamma en pappa se aandag. En nié hou nie: te koud, te nat, te droog, te warm, harde geluide, om alleen te wees, slaaptyd, wakkerwordtyd, om neergesit te word, om opgetel te word, om nie op ’n sekere manier vasgehou te word nie, om klere aan te trek, om klere uit te kry, vuil doeke, waar’s die fopspeen?!
Ontmoet Miles. Hy maak seker sy ma, die aktrise en sangeres Hildegardt Whites (31) en sy pa, die musikant Kuba Silkiewicz (32) wéét van hom!
“Ja, Miles het sommer sonder ’n verhoog vir teaterdrama gesorg! Ons is baie dankbaar – vir al die dokters en vir die Hemelse Vader – dat hy nou oukei is. Ek het heeltemal uitge-freak toe ek hoor Miles moet geopereer word,” sê Hildegardt, veral bekend om haar geheimsinnige karakter Bonita Meintjies in 7de Laan op SABC2.
“Miles was twee weke lank in die hoësorgeenheid van die hospitaal. Hy het medikasie gekry en is op hoë suurstofvloei geplaas. Sy toestand en vordering is dag en nag gemoniteer. Ek het in daardie tyd drie keer per dag van die een uithoek van die stad na die ander gejaag om Hildegardt op die hoogte van sy welstand te hou. Toe ons hom uiteindelik huis toe kon neem, het ons die medikasie voortgesit. Met sy onlangse opvolg-ondersoek is hy gesond verklaar: ’n normale baba, honderd persent reg!” vertel Kuba trots.
“Om ’n baba in die huis te hê is soos om kuiergaste te verwelkom – met dié verskil: die kuiergaste gaan ná die partytjie huis toe!” skater Hildegardt ingenome. “Ja, baie dinge verander. Dis ’n aanpassing. Daar is baie dinge om aan gewoond te raak. ’n Baba is ’n verantwoordelikheid. Ons geniet ons ouerskap, want ons het lank vir ons babatjie gewag. Ons beskou dit as ’n geskenk; ’n seëning, ’n wonderwerk.”
Hildegardt, ’n Weskusmeisie, en Kuba, ’n Poolse seun, se storie is een van toeval.
Kuba was sewe toe hy, sy elfjarige suster, Agata, pa Szymon (’n ortopediese chirurg), en ma Dorota (eienaar van ’n skoonheidsalon), die dorpie Białystok in Pole verlaat en hulle op Witbank kom vestig het.
’n Jaar ná Kuba se geboorte (20 Julie) in Pole is ’n meisietjie, Hildegardt Evette Whites, op Nieuwoudtville in die Noord-Kaap gebore (9 Julie). Haar pa Paul, ’n bouer, en ma Margaret, ’n onderwyseres, en haar vier broers, Ivan, George, Ralph en Peter het hulle op Vredenburg gevestig, waar sy matriek voltooi het. Sommer kleintyd al het sy in ’n regte performertjie ontpop. Glo erg bekkig en voor op die wa!
Kuba en Hildegardt het mekaar in 2008 op die kampus van die voormalige Technikon Pretoria ontmoet. Sy het drama studeer; hy jazz. “Ons het tydens repetisies vir ’n baldans – waarby ons in verskillende hoedanighede betrokke was – honger geraak en in die kafeteria gaan kos soek – én mekaar raakgesien,” onthou Hildegardt.
Hulle was smoorverlief, maar die trouklokke het eers op 4 Februarie 2012 gelui. Dit was ’n feestelike Weskus-affêre tussen die Namakwalandse en Poolse families; ’n viering van kulture. ”Ons
families is almal plat-op-die-aarde-mense en ons kuier heerlik saam.”
Sedert sy studie aan TUT is Kuba die afgelope agt jaar by verskeie musiekproduksies betrokke; hier en in die buiteland.
Hildegardt het in 2009 lid geword van ’n reisende kinderteatergeselskap wat landwyd opbouende gemeenskapwerk gedoen het. En toe, in 2010, kry sy ’n onverwagse oproep van 7de Laan se vervaardigers. Daar’s darem ’n rolletjie vir haar, net vir vier weke … As sy wil? Wel, sy wou – en dit is sewe jaar later!
Dié tyd verlede jaar het dié paartjie sorgeloos geleef en die land – en selfs die wêreld – plat gereis. “Ek was toe nog fabulous en het hoë cheek bones gehad,” skerts Hildegardt. “Ek het nie eens besef ek was swanger nie! Ons het toe in die Noord-Kaap aan die TV-reeks Hilda se Hartsklanke geskiet. Ons het soveel planne gehad. En toe gebeur dit!
“Dit is ongelooflik hoe ’n vrou se liggaam stelselmatig gedurende swangerskap verander. Jy is nie onmiddellik daarvan bewus nie, maar as jy weer jou oë uitvee, het jy ’n magie en dan, ewe skielik besef jy: sjoe, oukei, ek het nou ’n lekker boepie! En meteens besef jy daar is ’n lewe wat binne jou groei.
“Jou innerlike verander ook. Jou hormone jaag ’n mallemeule-rit met jou lyf en jou emosies. Soos jou magie groei, groei jou denke. Jy dink ánders oor dinge – en jy besef die lewetjie binne jou is voortaan van jou afhanklik. Ek moet erken, my swangerskap en die geboorte van ons seun, het in my ook ’n nuutgevonde kalmte en rustigheid gesetel. Swangerskap is werklik ’n emosio-nele en geestelike ervaring, ’n besonderse belewenis en ’n draaipunt in ’n vrou se lewe. En nou is ek ’n ma. Ouerskap verlos ’n mens van selfsug.”
Dié paartjie beskou die aanpassings wat ouerskap verg nié as opofferings nie. Dis eerder mededeelsaamheid. “Dit is so vreemd hoe sogenaamde professionele ouers ’n mens gedurende swangerskap ongevraagde advies gee en waarsku oor hoe ’n baba jou lewe gaan omverwerp: g’n tyd vir mekaar nie, omtrent nie meer slaap nie, nooit weer vry wees om te doen wat jy graag wil nie. Dit is snert! Jou lewe kom nie tot ’n einde nie. Inteendeel, jou lewe groei in ’n ander, sinvoller rigting,” benadruk Kuba. “’n Huwelik en ouerskap verg wedersydse ondersteuning. Dit gaan om voorsiening vir mekaar.”
Hildegardt is opgewonde, want sy is weer fabulous, mét hoë cheek bones en al! “Ek was massief en alles wat kon swel, hét geswel! Ek het gedurende my swangerskap letterlik net op my rug geslaap. Nou kan ek weer op my maag slaap. My voete het soos poffers gelyk en ek kon net met plakkies loop. Nou kan ek weer my hoë hakke dra en in mooi uitrustings optof!” verklik Hildegardt opgewonde. “Ek moet maar bieg: ek is baie mode- en selfsorgbewus en het ’n beheptheid met skoene: oor die honderd pare! Ek hou van op-dress, van shopping – al koop ek niks, maar die winkels wink my nader – en om by ’n skoonheidsalon gepamperlang te word.”
Vir Kuba, wat verskeie instrumente – van klavier en kitaar tot dobro en harmonika – bespeel, musiek vir rolprente komponeer en musiekproduksies vervaardig, gaan dit om die kreatiwiteit van menswees. “Ek hou daarvan om dinge met my hande te doen; om dinge reg te maak. Ek kan nie onthou wanneer laas ek ’n werktuigkundige aan my motor laat werk het of ’n kontrakteur gekry het wat iets by my huis reggemaak het nie. Ek doen alles self.”
Hildegardt hét ’n oog vir styl én konstruksie! “As ek op ’n bouperseel kom, sal ek jou gou kan vertel as daar brouwerk is! En ek kán tuinmaak. Ek doen naaldwerk en brei graag mooi goedjies. Ek geniet dit om die huis skoon te maak, om die skottelgoed te was en die wasgoed te doen. Ek hou nie van merkies en goeters op klere nie. Ons maak ook beurte om te kook. Kuba gaan soos ’n mal wetenskaplike in die kombuis te kere en brou die lekkerste kerries of Poolse bredies!”
Hulle vul mekaar perfek aan. “Hy is regtig my rots. Ek is geneig om alles te ooranaliseer en te stres en om van ’n molshopie ’n reuseberg te maak. Kuba is nie; hy is pragmaties en prakties en kry vir elke probleem ’n werkbare, bevredigende oplossing; berekend en ongestoord.”
Terwyl hulle gesels, laat Miles ook gereeld van hom hoor. Toe is daar ’n gemiaau. Stella, ’n groot, vet kat, krul liefdevol tussen hulle op die bank op.
Hulle is ’n mooi paartjie: gesels beskaafd en met deernis met mekaar en leef in harmonie, soos die klawers van ’n klavier.
Kuba skinder kamtig. “Wanneer ons saam werk, kan Hilda nogal hardekwas wees! Maar sy is die vrolikste oggendmens. Eintlik is sy skaam en teruggetrokke. Tog het sy daardie wonderlike vermoë om vriendskappe en verhoudings met mense van enige sfeer van ’n gemeenskap en die samelewing te smee. Sy het my nog altyd onderskraag en my in die donkerste tye van my lewe deur mislukking en vertwyfeling tot sukses en welvaart aangemoedig. Deur die jare het ons lewe ineenverweef en gesinchroniseer. Sy is, inderwaarheid, bloot nóg ’n deel van my. Miles is nou ook. Ons is ’n gesin; ’n drie-eenheid!”
Hildegardt peins. “Dit is belangrik om te weet wie jy is en waarvandaan jy kom. En om altyd so plat soos ’n Minora-lemmetjie te bly: nederig!”