Die kurkproppe wat met 2014 se koms getrek is, is nog effe aangeklam en ons het kwalik kans gehad om ‘n nuwejaarsvoorneme te verbreek. (Dis nou dié van ons wat dapper bly hoop en glo dat voornemens ‘n verskil kan maak.)
Om eerlik te wees, is ek baie meer geïnteresseerd in ons verlangens as in ons rehabiliteerbaarheid. Wat is dit wat jy ten diepste in hierdie jaar vir jouself sou wens?
Een van my grootste begeertes is die vermoë om die dag te gryp. Elke enkele een, met die energie wat ek tot my beskikking het. Natuurlik is ek net mens en word ek deur die stand van die maan en bioritmes en ander gewigtige faktore geraak, maar ek hoop daar sal elke dag iéwers ‘n greintjie entoesiasme vir die lewe uitspring.
My ander wens is om te sien en gesien te word. Ek het onlangs dié mooi aanhaling uit die fliek Shall we dance gaan soek en gevind:
“We need a witness to our lives. There’s a billion people on the planet… I mean, what does any one life really mean? But in a marriage, you’re promising to care about everything. The good things, the bad things, the terrible things, the mundane things … all of it, all of the time, every day. You’re saying ‘Your life will not go unnoticed because I will notice it. Your life will not go un-witnessed because I will be your witness’.”
Dié soort getuie wees is nie beperk tot ‘n huwelik nie. Ons kan ons kinders, kollegas, ouers, vriende, kennisse, waarlik sien. Selfs ‘n eenmalige, kortstondige ontmoeting tussen volslae vreemdelinge kan albei “cared about” laat voel. Vir ráák sien kort ons nie ‘n kontrak nie, net die spreekwoordelike hand wat die kaf van die koring skei en die kaf sagkens laat gaan terwyl die koringkorrels gekoester word.
Dié jaar wil ek die dag gryp. En ander se menswees versigtig in my hande hou. En omdat wense in feëverhale altyd drie-drie kom, moet ek aan nog iets dink wat met sag kyk en saggies vat te doen het … enige voorstelle?