“Ons tydjies saam is soos geskenke”, sê een van my gunstelingmense nou die dag. Daar en dan begin ek dink oor die broosheid van die lewe, en oor ons leefspoed wat ons baie keer blind maak vir die skatte in ons skoot.
Ek is regtig dankbaar ek leef in ‘n samelewing met gevorderde mediese prosedures, wiele en vlerke wat my van A na B kan bring, blitskommunikasiemiddels waarmee ek saans vir ‘n geliefde op ‘n ander plek kan nagsê, en ‘n rykdom inligting wat my tot die einde van my dae kan besig hou. Maar ek wens tóg my pas was effe stadiger, en vir ‘n engeltjie op my skouer wat my nou en dan (diplomaties) herinner om ‘n oog te hê vir alles wat wonderlik is.
Verskeie ghoeroes praat oor die waarde van “an attitude of gratitude”. Hulle sê ons moet in die verkeer koplysies maak van alles wat ons waardeer; daagliks ‘n dankbaarheidsjoernaal hou; die mooie sien in almal met wie ons te doen kry; en gereeld in die son gaan sit, met g’n niks anders op die agenda nie as om die oomblik te geniet.
Dit klink so maklik, en tog is dit nie.
Ek dink ek moet daardie engeltjie afrig om te doen wat ‘n peuter op die heup so graag doen. Sodra jy jou aandag elders bepaal, word jou kop mos deur twee stewige handjies vasgegryp en in die rigting van die sagtewang-gesiggie gedraai. Net so moet die engeltjie my kop swaai, en sê: Kyk. Dan moet s/hy my elmboë beetkry, my arms in V-formasie oopspalk en sê: Kry vir jou.
Ek is seker daar is elke oomblik iets om te ontvang. Woorde, ‘n glimlag, prentjieblou lug, ‘n sprinkeling note, ’n hartsdrukkie, ‘n geurige sny brood. Of sommer net ‘n diep asemteug. Sodat ek kan weet ek hoef nie ver te gaan soek nie. Dis ín my en óm my: die vreugde is hier.