Deur Bea Lingenfelder. Hooffoto: Pexels
Om heupsakkies te dra het nie in (of eerder, om) almal se broek gesit nie. Boonop was dit geensins vleiend vir jou figuur nie. Maar met die die voordele dat albei jou hande vry is, jy nie ’n swaar gewig oor jou skouer hoef te dra nie, en dat dit boonop kan dien as ’n gordel, kon ontwerpers soos Gucci dit nie weerstaan om hierdie sakkie met ’n kinkel terug te laat keer nie – en dit het lekker skelmpies ons onkant gevang! Ons deel met jou ’n paar veranderinge, nuwe style en hoe om heupsakkies te dra.
Steeds klassiek
Vir diegene tussen ons wat vasklou aan dié ouer styl: Heupsakkies kom nou in kleurryke materiale voor en word met blinkers en borduurwerk versier. Jy kan dit steeds om jou heup dra soos in die verlede, maar die nuutste gier is eintlik om dit soos ’n skouersakkie skuins oor jou lyf te laat hang. Kies ’n grootte wat by jou pas – eerder kleiner as te groot – en onthou dat dit nie jou klere moet skeefdruk as dit oor jou lyf hang nie. Ons hou ook van hoe Kim Kardashian-West dit onder haar baadjie dra om makliker aan en uit te trek.
https://www.instagram.com/p/BgFVdg5lPHz/?taken-by=kimkardashian
Nuut en nou
Die styl soos dié van Gucci bestaan uit ’n sakkie wat soos ’n normale palmhandsakkie lyk en deur ’n gordel geryg word en om jou lyf gebind word. Baie bekendes bind dit om hul middel, eerder as hul heupe, sodat dit ’n uurglasfiguur skep. Die hierdie styl is dus effe fyner en vrouliker as die kenmerkende styl en daarom so gewild. Boonop beteken dit dat albei jou hande vry is! Bind dit om baadjies, jasse of net om jou hemp.