Deur Salome Delport. Foto: Unsplash
Parkinson-siekte is een van die gevreesde kwale van bejaardheid. Veral weens die stigma wat daaraan klou.
Die ding is dat dit opvallend is. Met ander ‘stil’ kwale soos hoë bloeddruk kan jy in absolute lewensgevaar verkeer. Jy kan selfs vir ander mense ’n gevaar wees, soos as jy ’n beroerte sou kry terwyl jy bestuur. Maar niemand kan jou bloeddruk sien nie. Jy lyk normaal en tree normaal op. Jy is dalk ’n bietjie moeg maar jy kan vir jouself sorg.
Nie met Parkinson-siekte nie. Almal herken daardie gebewe. Almal praat. Jy lyk nie meer jou gewone self nie. Jy beweeg nie soos jou gewone self nie. Soos jy strammer raak, raak eenvoudige dingetjies moeiliker. Jy raak afhanklik van ander. Nog erger: jy kan, soos sowat die helfte van mense met Parkinson-siekte, demensie ontwikkel. Mens weet nie wat die ergste is nie, om te besef jy het jouself deels verloor, of om onbewus te wees.
Hoekom vroëe diagnose goed werk
Die mens is nou eenmaal maar net mens. Jy wil jou selfrespek behou en liewer niks van toekomstige probleme weet nie – en veral omdat almal weet dit is ‘n onomkeerbare toestand. Daarom is ontkenning byna altyd ons almal se eerste reaksie. Maar as jy vroeg gediagnoseer word, kan jy en jou dokter soveel beter beplan om die situasie te bestuur. Jy gaan tog beter daaraan toe wees, as jy maar liewer by die dokter of neuroloog uitkom.
Daar is immers uitstekende medikasie wat breinfunksie help en nuwe terapieë soos diepbreinstimulering wat tremors beheer, terwyl die regte oefeninge styfheid, die gebruik van jou hande én goeie balans help behou.
Al is Parkinson-siekte ongeneeslik, kan mens met ’n bietjie strategiese beplanning vir baie jare langer ’n goeie lewe lei wat vir jouself bevredigend is. Dikwels vir dekades langer.
Daarmee stem dr. Riaan van Coller, neuroloog van Pretoria, saam.
“Dit is so: ons kan nie Parkinson-siekte genees of omkeer nie. Maar ons kan die simptome beter maak. En ons kan vir elke persoon ’n plan uitwerk om sy situasie die beste te bestuur. Daarom help jy jouself die beste as jy vroeg gediagnoseer word.
“En met vroeg bedoel ek báie vroeg. Lank voor die tipiese tremors, ervaar jy klein tekens wat verklap dat iets in die brein skuif. Tipies is dit dingetjies waarmee jy nie sommer dokter toe gaan nie, soos dat jy nie meer goed kan ruik nie.
As jy weet waarna om op te let kan jy jouself taamlik akkuraat evalueer.
’n Nota Een positiewe teken op sy eie is niksseggend. Dit gaan oor die hele prentjie. Daarby is baie van die tekens tipies van ander toestande ook. As jy twee of meer tekens raaksien, laat ’n dokter bepaal of jy bekommerd moet wees of nie.
Toets jouself vir vroeë tekens van Parkinson-siekte:
1 Voel jy heeltyd stram?
Mense met vroeë tekens van Parkinson-siekte vind dat hulle nie sommer net maklik kan opstaan, loop en gaan sit nie. Hul arms en bene voel stram. Party mense voel asof hulle vashaak. Ander merk op dat hul arms nie soos gewoonlik swaai nie. Een arm kan byvoorbeeld bloot hang en nie meer gemaklik saam swaai soos jy stap nie. Baie vind weer dat hulle nie sommer van rigting kan verander nie, soos om in winkelgange om die hoek na die volgende een te stap. Waar hulle vantevore outomaties kon gaan waarheen hulle wil, verg dit nou beplanning.
Wat is normaal?
Mens is gewoonlik styf na oefening of as jy ongewoon aktief was. Beserings, siektes soos artritis en skade aan jou heup- en skouergewrigte kan jou ook stram laat beweeg. Hier is die oorsake fisiek. Andersins kan ons stap, sit, opstaan en beweeg sonder om daaroor te dink.
2 Bewe iets iewers aanhoudend?
Ernstige tremors is die hinderlikste en vernaamste simptoom van gevorderde Parkinson-siekte, maar lank voor die grootskaalse tremors merk mense wat uiteindelik met die siekte gediagnoseer word dat ’n vinger, duim, hand of selfs hul ken liggies maar onbeheerbaar bewe.
Wat is normaal?
Enige ledemaat kan bewe na harde oefening of as jy gestres is, maar dit bedaar sodra jy ontspan. By vroeë Parkinson-siekte ervaar mense klein tremors al is hulle uitgerus.
3 Het jy chroniese nekpyn?
Volgens die North-West Parkinson Foundation is nekpyn, veral by vroue, die derde algemeenste waarskuwingsteken van Parkinson-siekte. Party mense ervaar eerder ’n tingelende gevoel, gevoelloosheid óf ’n ongemak tussen die nek en skouers.
Wat is normaal?
Gewoonlik is nekpyn binne ’n paar dae verby. Maar onthou, jou nek is ’n delikate struktuur. Swak postuur, ure voor die rekenaar of ’n ou besering kan ook chroniese pyn veroorsaak, soos ook stres en fibromialgie en so aan.
4 Kan jy piesangs ruik?
Kan jy ‘sagte’ geure ruik, soos rose of appels? Vir nege uit elke tien mense met Parkinson-siekte is dit die eerste teken – hulle verloor die vermoë om te ruik.
Wat is normaal?
As jy verkoue, hooikoors of ’n toe neus het, sal jy ook nie kan ruik nie. Jou reuksin keer terug sodra dit verby is. Kyk na ’n week of twee weer of jy kan ruik of nie.
5 Boks jy jou bedmaat in jou slaap?
Vreemd soos dit klink is een van die vroeë tekens van Parkinson-siekte dat mens snags baie beweeg, rondrol, op jou tande kners, skielik ruk en selfs skree – asof jy besig is om jou droom-aksies uit te voer, soos jy sou as jy wakker was.
Wat is normaal?
Soms slaap ons almal sleg, veral as dit baie warm is of wanneer ons ontsteld of opgewonde is. ’n Skielike rukking af en toe is ook nie noodwendig buitengewoon nie, maar 40% van mense wat chronies onrustig slaap, ontwikkel Parkinson-siekte. Laat kyk as jy nag vir nag baie onrustig slaap. Dit kan verband hou met slaap-apnee, wat in elk geval behandel meot word.
6 Skryf jy al kleiner en meer beknop?
Een van die eerste maniere waarop mens kan agterkom dat jou spiere stadigaan styf raak, is aan die manier waarop jy skryf. Potensiële lyers merk dikwels jare voor diagnose dat hulle baie kleiner as vantevore skryf, met die letters en woorde opmekaar gedruk.
Wat is normaal?
Ons skryf almal leliker soos wat ons ouer word, omdat ons slegter sien en swakker spierkoördinasie het. By mense met Parkinson-siekte is die verskil dat hulle opvallend klein en onleesbaar begin skryf.
7 Is jou stem deesdae baie sag, hees of monotoon?
Spierstyfheid wys vroeg op die stembande en daardie gesigspiere wat met spraak help. Daarom praat mense met Parkinson-siekte tipies baie sagter en onduideliker as tevore. Hulle mompel en spreek woorde onvolledig uit omdat die gesigspiere nie beweeglik genoeg is nie en omdat hulle nie die mond behoorlik oopmaak wanneer hulle praat nie.
Nog ’n teken is dat die stem toonloos raak, en mense op een toonhoogte praat.
Wat is normaal?
Tydens ’n verkoue of keelinfeksie kan jy tydelik sagter praat, maar normaalweg sal jy binne ’n paar weke soos vantevore klink. Andersins is die stem genuanseerd en praat jy duidelik en verstaanbaar genoeg. Mompeling kan ook tipies van ander kwale wees – of is sommer net spraakluiheid. Laat jou dokter kyk wat die oorsaak by jou is.
8 Het jou gesig deesdae ’n strak uitdrukking?
Vertrek jou gesig nie juis nie? Sê mense jy lyk altyd ernstig, of dalk kwaad, of dat jy strak in die verte instaar? Lyk jou gesig asof dit gevries het as jy in die spieël kyk? Die kenmerkende spierstramheid van Parkinson-siekte tas ook jou gesigspiere aan, wat die gesig uiteindelik basies uitdrukkingloos laat.
Wat is normaal?
Mens wil soms nie jou emosies wys nie, maar dan is dit ’n wilsbesluit. As jy vrolik voel, lyk jou gesig ook vrolik.
9 Is jy baie stadiger as vroeër?
Bejaardes loop stadiger as tieners, maar mense met Parkinson-siekte beweeg kenmerkend stadig. Dit is asof hulle dit moeilik vind om ’n beweging uit te voer.
Wat is normaal?
Die meeste mense, en selfs diep bejaardes, kan willekeurig vinniger of stadiger stap. As jy die afgelope paar maande duidelik verstadig het, laat jou dokter kyk hoekom.
10 Kan jy twee dinge gelyktydig doen?
Onthou jy die liedjie Clap your hands and stamp your feet? Wel, kan jy altwee gelyk doen?
Mense met Parkinson-siekte vind dit ontsettend moeilik om twee dinge terselfdertyd te doen, soos om met ’n mes in die een hand en ’n vurk in die ander te eet. Dit veroorsaak dat hulle ook moeilik aantrek en bad.
Wat is normaal?
Min van ons kan met die een hand op die kop tik en met die ander in die rondte oor die maag streel. Maar ons kan met twee hande tik, veters vasmaak, ’n koerant vashou en omblaai, en so aan. Soos ons verouder raak ons minder rats en handig, maar dit is normaal dat jy steeds jou twee hande of jou hande en voete gelyktydig kan gebruik.
11 Lyk en beweeg jy stokkerig?
Mense met Parkinson-siekte ontwikkel abnormaal hoë spiertonus. Dit veroorsaak ’n stokkerige voorkoms of manier van beweeg. Dit is die hoofrede waarom die postuur van mense met Parkinson-siekte mettertyd verstar.
Wat is normaal?
Normaalweg kan selfs bejaardes hul spiere saamtrek en ontspan om enige beweging vlot en egalig uit te voer, soos om jou arm van links na regs te swaai of om jou elmboog te buig. Jy beweeg nie asof jy iewers vashaak nie. Jou postuur verander ook soos jy deur die dag rondbeweeg.
Jou telling
As jy ’n paar keer ja geantwoord het, doen die verstandige ding … gaan gesels jou dokter.
Bronne en kontakte
- Dr Riaan van Coller, neuroloog, Pretoria
- Parkinsons UK, parkinsons.org.uk
- Parkinsons Association South Africa, 011 787 8792
- Michael J Fox Foundation, michaeljfox.org
Lees ook: Spatare – Hier’s die antwoorde op jou vrae