Malaria-simptome stem baie ooreen met die tekens van verkoues. Tot nou toe was dit taamlik maklik om jou kanse op malaria te skat: jy kon doodeenvoudig vra of jy die afgelope drie weke in ’n malariagebied soos Mpumalanga, Zimbabwe, Mosambiek en verder noord in Afrika was. As jy tuis gebly het, was malaria uiters onwaarskynlik.
Maar vandat malaria nou al verskeie kere uitgebreek het in Pretoria en ander omgewings, soos in September 2017 in Pretoria en Kempton Park, het die prentjie verander. Die ou ‘resep’ vir diagnose werk nie meer nie. ’n Muskietbyt tuis kan nou ook malaria beteken … en wie in ons land is nog nie deur muskiete getakel nie?
Reismalaria
Die National Institute for Communicable Diseases (NICD) sê dit is ‘Odyssean malaria’, soos malaria genoem word wanneer ’n malariamuskiet toevallig ‘ingevoer’ word deur saam te reis op vliegtuie of in bagasie, taxis en busse wat van ’n malariagebied na ’n malariavrye gebied beweeg. Mense wat nie self in ’n malariagebied was nie, kan dus deur een van hierdie muskiete gebyt word en malaria opdoen.
Volgens die NICD gebeur dit baie selde. Net 72 gevalle is sedert 2007 aangemeld in ons land. Dit lyk egter asof dit al meer algemeen voorkom.
Aangesien malaria nie verwag word in malaria-vrye areas soos die Kaap en selfs so ver noord as Pretoria nie, is mense nie daarop bedag nie. Daarom word dit dikwels baie laat gediagnoseer, met ooreenkomstig groter risiko’s op komplikasies soos serebrale malaria.
Malaria-simptome, en hoe min dit van griepsimptome verskil
Dink nou aan alle somerverkoues as verdag. Die NICD beveel aan dat jy jou dokter gaan sien en jou bloed vir malaria laat toets as jy verkoue het plus die volgende simptome:
- kouekoors wat afwissel met koors
- hoofpyn
- seer spiere en gewrigte
- uiterse moegheid
- geen eetlus
- pyn en ongemak oor jou maag en moontlik oor jou milt
- naarheid
- diarree
Buiten die simptome van pyn oor die maag en naarheid, lyk malaria aanvanklik baie soos ’n swaar griep. Malaria word ewe maklik verwar met ander koorssiektes soos hepatitis, meningitis, ensefalitis, septisemie, bosluiskoors, bosluisbytkoors, gastritis, sistitis en selfs kongokoors, Ebola en Marburgsiekte.
Lees self die NICD se verslag oor malaria hier