Die toonaangewende koskenner Herman Lensing (37) is een van die beoordelaars in die volgende gedaante van kykNET se Kokkedoor-koswerklikheidsreeks – Kokkedoor: Son & see.
Sy medebeoordelaar van dié nuwe reeks, wat in November en Desember op die kassie gaan wees, is die glanssjef Yolani Abrahams.
Lees ook: Wat soek Kokkedoor: Son & See se beoordelaars? Sjef Yolani Abrahams vertel

Foto: Gys Loubser
Kokkedoor: Son & see is die vyfde lid van die Kokkedoor-familie waarvan die huidige reeks, Kokkedoor: Vuur & vlam, tans op kykNET uitgesaai word. Die wenspan van Kokkedoor: Son & see sal met R500,000 wegloop.
Lees ook: Kokkedoor trek ’n ander voorskoot aan vir nuwe seisoen: Het jy wat dit vat?
Herman, ’n gekwalifiseerde sjef en bekroonde tydskrifredakteur, het reeds talle trefferkookboeke die lig laat sien. Dié boorling van Upington is ’n bekende gesig op kos- en leefstylprogramme. Vir die afgelope twee Kokkedoor: Vuur & vlam-reekse het hy agter die skerms gewoeker as kosvervaardiger, net soos wat hy ook vir MasterChef Suid-Afrika doen.
Hy was ook ’n lid van die beoordelaarspaneel van die gesogte Eat Out-restauranttoekennings.

Foto: Gys Loubser
Herman vertel meer oor sy nuwe uitdaging as beoordelaar van Kokkedoor: Son & see:
Wat beteken ’n reeks soos Kokkedoor vir die Suid-Afrikaanse én Afrikaanse koskultuur?
Toe Kokkedoor in 2013 sy eerste episode die land in gestuur het, het die Suid-Afrikaanse koslandskap vir altyd verander. Saam met die res van Afrikaanssprekende Suid-Afrikaners het ek gejubel en weer met trots ons eie stories, ons eie mense, ons eie herkoms en ons eie kos begin vier. Daar is ’n paar dinge wat ’n kultuur sy identiteit gee en kos is sekerlik een van die grootstes wat daartoe bydra.
Ek sal kykNET ewig dankbaar wees daarvoor dat hulle Kokkedoor die platform gee om trotse en eg Suid-Afrikaanse stories te vertel, want sonder ons eie stories is daar baie min oor van ons eie mense – mense wat hier in Suid-Afrika wil wees. Hier eet ons anders, hier lag ons anders, hier voel ons anders. Want hier is huis, en by die huis smaak kos mos op sy beste.
Hoekom moet mense inskryf vir Kokkedoor: Son & see?
Wat is beter as familie, feestyd en vakansie? Skryf in en vat ’n kans. Hierdie seisoen wil ons die lekker van die lewe vier. Jy gaan dit geniet! En jy gaan die hele reeks saam met jou spanmaat stap. Ek sou my voortande gee om nog een keer saam met my ma te kon kook. So, hier is jou kans om goue herinneringe saam met jou familie-spanmaat te skep. Kokkedoor: Son & see gaan jou die kans gee om jou eie storie met kos te vertel en dit boonop in Afrikaans.
Wat soek jy in ’n Kokkedoor: Son & see-deelnemer? Wat moet hulle na die tafel bring?
Ek soek iemand wat eerlik kook – mense wat nie bang is om hul koswortels na die tafel toe te bring nie. Moenie skaam wees oor waar jy vandaan kom nie. Jou eie storie is reeds uniek, en ek wil hom hoor. Ek wil my oë kan toemaak en goeie kos proe. Ek wil weet hoe dit voel om in jou kombuis te staan.
Ek is verslaaf aan lekker eet, en ek wil hê jy moet daardie dwelm vir my op die beste moontlike manier opdis, soos net jy kan. Almal kan kook, jy moet net wil. Kies jou spanmaat slim, en ek belowe julle twee sal my beïndruk.
Nostalgie is mos die belangrikste geurmiddel. Bring daai familie-resepte, kom vertel daardie storie en wees trots om jouself Suid-Afrikaans te noem.
Wat beteken dit vir jou om ’n Kokkedoor-beoordelaar te wees?
Dis iets waaroor ek al vanaf 2013 droom. Om nou deel te wees van die tiende seisoen van die reeks en al sy handelsmerke is regtig ’n eer. Dis ’n taak wat ek baie ernstig opneem. Om te kook is iets persoonliks, en mense deel ’n stukkie van hul hart met jou. Ek weet hoe dit voel om jou self so eerlik te ontbloot.
Ek sien dit as ’n groot taak wat op my skouers rus om daardie intieme geskenk wat jy en jou spanmaat met my kom deel, met respek te hanteer. Ja, ek gaan eerlik wees met my terugvoer, maar ek belowe ek is so lief vir kos dat jy nooit gaan wegstap en minder werd voel in die kombuis nie. Ek knyp myself elke dag uit dankbaarheid dat hierdie geleentheid oor my pad gekom het. Om van agter die skerms vir twee seisoene nou voor die kamera in te skuif herinner my weer hoe baie respek ek vir hierdie handelsmerk het. Ek sal altyd ons eie kos en ons eie mense as die waardevolste bate in my lewe beskou.
Wat moet jy oorweeg as jy jou spanmaat kies?
Moenie dink julle moet altwee alles kan doen nie. Kies iemand wat jou aanvul, wat jou beter maak. En sorg ook dat jy jou spanmaat aanvul. Kies ’n sterk kok as jy kan bak, maar dalk minder goed kook. Is nostalgie nie jou ding nie? Geen probleem nie, maar kies dan ’n spanmaat wat nostalgie verstaan, een wat weet hoe om daai ou klassieke geregte te maak.
Jy kan help vernuwe aan die fondasies van dit wat jou spanmaat na die tafel bring. Onthou, julle hoef nie sjefs te wees nie. Julle moet net hou van kook, bak en braai. Wat kan dan nou lekkerder wees as om goeie kos te maak met ’n spanmaat wat jou net so hoog laat vlieg soos jy vir hom of haar?
Skryf só in:
- Kry die aansoekvorm by kyknet.tv en volg die stappe of stuur ’n e-pos na [email protected].
- Sluitingsdatum vir inskrywings is 30 April 2025.
- Die jongste lid van die span moet ten minste 18 jaar oud wees en die generasie- en ouderdomsverskil tussen die spanlede moet ten minste 20 jaar wees.
- Daar móét ’n familieverwantskap wees, soos ’n ouer of stiefouer, oupa, ouma, skoonfamilie, ooms, tannies, niggies of neefs.
- Oudisies sal in Kaapstad gehou word tussen 5 en 9 Mei 2025.
- Verfilming is van 20 Junie tot 3 Julie 2025 in Struisbaai.
Lees ook: Groot feesmakietie in die volstruisdorp