Trawangan, Air en Meno. Saam staan die drietjies bekend as die Gili Eilande. Hulle lê knus langs mekaar in Indonesië, noordwes van Lombok.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }Dit neem drie ure met die spoedboot van Bali na die Gili’s. Moenie dat die woord “spoedboot” jou flous nie, want dié rit is alles behalwe vinnig en gerieflik. In ’n oogwink tel die bootjie spoed op, klim op ’n groot golf, skiet vir ’n sekond of twee die lug in en bons dan met harde slae terug op die water. Onophoudelik.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }Uiteindelik kom ons tot stilstand in Gili Trawangan – ook bekend as Gili T – se vlak waters. Die strand is vol gepak. Sonsoekers lê luilekker uitgestrek op lang, wit strandstoele. Agter hulle is rye strandkroeë en funky restaurante. Die stil, salige eiland-atmosfeer wat ons in gedagte gehad het, vind ons toe eers drie dae later op die ander Gili.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }Die Gili Eilande is ’n besonderse gedeelte van Indonesië. Totaal en al afgesonder van die res van die samelewing, maak hulle hul eie reëls. En dit wérk. So word daar byvoorbeeld geen voertuie op enige van die eilande toegelaat nie. Met perdekarre en fietse kom en gaan elkeen waar hy wil wees.
Die plaaslike mense lewe eenvoudig in hul mini-paradys. Indien iets benodig word wat nie op die eiland bekom kan word nie, neem hul eenvoudig die passasiersboot na Lombok. Die Gili’s se tropiese waters, beeldskone strande en ’n verskeidenheid seelewe lok reisigers van regoor die wêreld om in die spotgoedkoop strandhutte te kom vakansie hou, snorkel en skubaduik.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }Tydens óns besoek benut ons eilandlewe ten volle! Ons huur twee ou fietse en ry om die hele Gili T in ’n oggend terwyl ons kort-kort stop vir ’n swem, geselsie of versnapering. Ons snorkel drie keer op ’n dag, gaan duik en stap lang ente op die strand. Die weer is fantasties, die water ’n glansende turkoois, die sonsondergange onbeskryflik. As die lewe maar elke dag so kon wees…
’n Paar dae later verskuif ons na Gili Air: pa-ra-dys! Op hierdie eiland is tyd nie ’n kwessie nie. Dis asof almal teen ’n stadiger pas stap en met ’n rustiger stem praat. Hier word ’n snytjie roosterbrood ’n “jaffle” genoem. Mense word Mango of Gecko genoem, en wildvreemdelinge word as “my brother” of “my sister” aangespreek. Hier kan jy maar kaalvoet loop as jy wil, heeldag op die strand lê en enige uur van die dag kies om ’n middagslapie te neem. Niemand vra waarheen jy op pad is of wat op jou agenda is nie. Die mense hier is vriendelik, en glimlag van oor tot oor.
Een middag stap ons verby ’n middeljarige man op ’n fiets. Hierdie karakter ry so stadig dat ons skoon verbý hom stap. Hy is omtrent ‘n unieke skepsel met sy knoop-en-doop T-hemp, kopband en lang grys hare.
Soos almal op die eiland groet hy vriendelik en ons raak aan die gesels. Hy deel met ons dat hy vir dertig jaar lank ’n Switserse bankier was voordat hy besluit het om al sy besittings te verkoop en vir hom ’n plekkie hier te kom oprig. Hy het in die tagtigerjare hier kom vakansie hou, en droom al sedert daardie tyd om ’n eenvoudiger lewe hier te kom lei.
Hy wys vir ons die drie hutte waaraan hy die afgelope twee jaar bou. Een van die dae behoort hulle reg te wees vir uitverhuur. Dan deel hy ’n paar interessante stories oor die eiland en sy unieke bewoners.
Op Gili Air, waar daar geen sprake van polisie is nie, moet die gemeenskap hul eie plannetjies beraam om reg te laat geskied.
As ’n dief uitgevang word, hang die gemeenskap ’n bordjie om sy nek wat lui: “Ek is ’n dief.” So ’n persoon moet dan vir ’n week lank om die eiland stap met die vernederende woorde om sy nek, sodat almal kan sien wie en wat hy is.
Daar was ook ’n tydperk waar ’n skinderstorie die rondte gedoen het dat ’n bende van Lombok kinders ontvoer (nogal so ewe om hul organe te bekom). So raak ’n dogtertjie een middag weg, en die hele dorp is in rep en roer oor die verlore kind. Al die mans kom toe bymekaar en marsjeer al om die eiland met groot messe om sodoende die ontvoerders af te skrik.
’n Paar uur later kom die dogtertjie al gapend te voorskyn. Sy het in haar familiehuis op die badkamervloer aan die slaap geraak, en niemand het daaraan gedink om haar daar te soek nie!
Ons groet, en stap verder met die bebosde paadjie. Ek haal diep asem, gooi my kop agteroor, maak my oë toe, en verbeel myself ’n eenvoudige lewe soos die. Hierdie week, wat vir my soos ’n droomborrel in die paradys voel, is ’n ander se werklikheid, se realiteit. Dis hul léwe.
Gedagtes van my eie lewe terug in die stad maak vir my op daardie oomblik so min sin. Daar waar die gemeenskap se dae gedryf word deur geld, mode, sukses en tegnologie. Waar elke dag ’n rotteresies is. Waarna jaag ons nou eintlik?
Die vrae hardloop rond in my kop. Iewers tussen antwoorde soek, sien ek myself hier, reg hier. (Sonder ’n knoopkleur hemp – dis vir seker!) Maar miskien hier op Gili Air, eendag in die verre toekoms, met ’n ou fiets, my kamera en ’n strandhut of twee van my eie.
Genoeg vir 4. Bestanddele 500 g vars pasta, soos tagliatelle of spaghetti 250 ml…
Om jou hond se ore skoon te maak is ’n noodsaaklike deel van sy basiese…
Bestanddele 3-4 groot rooi soetrissies, middeldeur gesny, en wit vliesies en pitte verwyder. sout…
Ons almal het een of ander slegte gewoonte. Die goeie nuus is dat jy dit…
Van speelskool na grootskool: 5 wenke deur Mariette Snyman. Foto Pixabay Om by die…
Met die strandseisoen op ons, kyk ons na die moets en moenies om te verseker…
Hierdie webwerf gebruik koekies.