Kry jy ’n kommerfrons oor die tyd wat jou kinders voor skerms deurbring, maar is jy onseker oor wat jy daaraan kan doen?
“As jy die probleem verstaan en weet hoe om te help, is die stryd half gewonne,” sê Barbara Eaton, akademiese ontwikkelingsadviseur vir die pre-primêre skole-afdeling by ADvTECH. “Niks skort daarmee om kinders hul skermtyd te laat geniet sodat jy ’n slag kan asemhaal nie, solank jy net elke dag deur aktiwiteite met jou kind konnekteer. Jy kan aktiwiteite by jou daaglikse roetine insluit wat pret is, en terselfdertyd die vaardighede slyp wat wat hulle vir toekomstige leessukses nodig het.
“Breinnavorsing wys 40% van alle kinders leer maklik lees, 40% is risikogevalle en 20% is ernstige risikogevalle. Talle navorsingstudies wys die 40% wat die meeste sukkel, ervaar ’n gebrek aan fonologiese bewustheid (phonemic awareness). Dis die vermoë om individuele foneme – die kleinste klankeenheid in die gesproke woord – te hoor, te identifiseer en te manipuleer.
Jy kan prettige aktiwiteite by jou daaglikse roetine insluit
“Ons brein is bedraad om gesproke taal te ontwikkel. Dis hoekom babas taal van vroeg af kan aanleer sonder enige bewuste onderrig, mits daar voldoende persoonlike interaksie is. Maar daar is geen outomatiese bedrading vir lees en spel nie. Hierdie vaardighede moet stelselmatig onderrig word. Die baie tyd wat kinders voor skerms deurbring, fokus hul breine meer visueel en minder op ouditiewe inhoud.
“Die groot probleem met skermtyd is dat baie van die gesproke inhoud te vinnig verbygaan en dikwels onduidelik is. Die kind konsentreer dus minder daarop. Dit impakteer op die ontwikkeling van akkurate luistervaardighede.”
Dit mag negatief klink, maar die goeie nuus is dat breinherstel moontlik is, en dat neurone ontwikkel en in ’n ander rigting gestuur kan word. Met die korrekte aanslag kan kinders wat maklik leer lees selfs beter vaar, en risikogevalle goed leer lees.
Hoe kan ouers hul kinders help?
1 Praat en luister
“In ons digitale eeu praat ons minder met mekaar. Baie van ons verbale kommunikasie bestaan uit opdragte: ‘Dis badtyd. Tel jou klere op.’ Fokus daarop om gesprekke aan die gang te kry. Praat byvoorbeeld oor die hoogte- en laagtepunt van die dag, vra vrae soos ‘Sê nou jy kon énigiets doen – wat sou dit wees, en hoekom?’ of ‘Wat was die mooiste ding wat jy vandag gesien het?’
“Vra oop vrae wat nie net ’n ja of nee-reaksie uitlok nie. Pa’s is uitstekend hiermee!”
2 Lees vir jou kind voor
“Lees fiksie én feite vanaf ’n jong ouderdom voor. Sluit by die biblioteek aan vir ’n wye keuse. Kies kwaliteit-stories wat by jou kind se belangstellings aansluit – moenie net Disney-boekies uitneem nie.
“Jou kind moet sien dat jy boeke en tydskrifte lees. Betrek jou kind wanneer jy ’n spyskaart, kruidenierslysie of padteken lees. Bespreek die lekkerte daarvan om te kan lees en die inligting om jou te verstaan.”
3 Sing en sê rympies op
“Sing liedjies, lees gedigte en sê saam rympies op. Rympies help die weg baan vir leesvaardigheid, maar al hoe minder kinders leer rympies by die huis. Kinderrympies is basies geskiedkundige nonsens, maar kinders is mal daaroor en hulle is maklik om te memoriseer.”
4 Speel met woorde
“Speel met samestellings: breek ‘springmielies’ op in ‘spring’ en ‘mielies’, of ‘vistenk’ in ‘vis’ en ‘tenk’. Dis ’n lekker motorspeletjie, of maak die pad kafee toe korter. ‘Ek sien met my klein ogie’ werk ook goed, maar gebruik die klank aan die begin van ’n woord pleks van die naam van die letter: ‘b’ (die klank) en nie ‘bee’ (die naam van die letter) nie.”
“Maak hierdie speletjies prettig sodat jy dit nie as ’n ekstra taak ervaar nie. Bou dit by jou oggend- en aandroetine in. Om leervaardigheid te bou moet jy ook nie opdragte of kommentaar herhaal nie. Leer jou kind om die eerste keer te luister.
“Maak altyd oogkontak – laat sak jou foon! Gee aandag aan wat jou kind sê en stel so ’n goeie voorbeeld. Raak opgewonde oor jou kind se ontwikkelende taalvaardighede.”
Lees ook: Jy kan jou kinders aan die lees kry