8 wenke vir nabymense van iemand wat ’n hartaanval gehad het
1. ’n Hartaanval is ’n krisisstuasie, en die logistiek kan aandag verg. Jy kan jou man, pa of persoon wat die hartaanval gekry het, help deur onmiddellik sy werksmense te laat weet, afsprake te skuif, mense te betaal wat op betaling wag, en na dringende papierwerk om te sien. Dit kan die druk op hom verlig.
2. Fokus op die een met die hartaanval se behoeftes. Moenie dink “as ek in sy posisie was, sou ek dit of dat wou hê” of “ek dink ek weet wat hy nodig het” nie. Ek kan dit nie genoeg beklemtoon hoe belangrik en waardevol dit is om hom na sy behoeftes te vrá nie.
3. Vra taktvol of hy oor die ervaring wil praat, en wees ’n goeie luisteraar deur ’n veilige ruimte te skep. Baie keer sit die man met een allesoorheersende gedagte: ‘Ek was amper dood.’
4. Wanneer die persoon tuis kom, ondersteun hom met empatie eerder as simpatie. Jy kan jou in sy posisie stel om hom beter te probeer verstaan, maar moet hom nie jammer kry nie. Behandel hom só dat hy sy waardigheid behou.
“Gee hulp en aanmoediging waar jy kan”
5. Kry inligting by die “regte” bronne. Indien jy google, gaan na goeie mediese webwerwe en bly weg van forums waar mense hul eie ervarings en persepsies opdis. Moet jou nie deur goedbedoelde vertellinge van vriende en familie laat verwar nie.
6. Ondersteun enige leefstylveranderings – byvoorbeeld dieetaanpassings – wat die persoon moet maak. Probeer om die gesin sover moontlik by sy oefen- en eetplan te betrek. Dalk kan almal saam gaan stap, saam gesonder eetgewoontes aankweek, of op ontspanne tydjies fokus en saam pret hê.
7. Moet ’n man nie in watte toedraai nie. Hoe meer ’n vrou oor haar man se gesondheid bekommer, hoe meer beheer neem sy soms oor haar man se lewe en aktiwiteite. Die doel van herstel is om na ’n normale leefwyse terug te keer.
8. Onthou dat leefstylveranderinge moeliker is vir iemand wat alleen woon. Dit verg heelwat energie om ’n week se gesonde maaltye of kosblikke vir die werk te beplan. Gee hulp en aanmoediging waar jy kan.