“Iets van my het saam met my pa gesterf. Dit voel of ’n stuk van my uitgeruk is.”
Sangeres Helena Hettema sê sy is rou, seer en voel leeg nadat rowers haar 82-jarige pa, die legendariese Springbok-tydrenjaer Jan Hettema, in Junie op sy plaas naby Boschkop doodgeskiet het.
Haar emosies ry nog wipplank sedert die tragedie.
“My pa het nie vyande gehad nie. Dis vir my moeilik om te dink dat twee mans met balaklawas en gewere hom een oggend halfnege op sy plaas doodgemaak het.”
Jan se vrou van 41 jaar, Elsa, ’n sterk, positiewe, maar brose vrou met artritis is in die voorval deur die gesig geslaan en met ’n rekenaarkabel vasgebind. Sy kry traumaberading en het Kaap
toe verhuis.
Lees ook: Watter kosse veroorsaak jig?
“Die rowers het slegs elektroniese goed soos sy skootrekenaar en selfone, asook kontant en ’n pistool gesteel. Ons dink hy het hulle onverwags betrap. Hy en sy hondjie Tansi het na die hek gestap, want hy het ’n geluid buite gehoor. Hy het die mans tussen die bome gewaar en terug huis toe gehardloop om Elsa en Happiness, die huishulp, te waarsku. Hy het uitasem geskree ‘sluit die deure!’ maar hulle het hom ingehaal en in die kombuis geskiet. Hulle het seker gedink hy het ’n geweer, of hy het iets gesê wat hulle laat skrik het. Hy is van naby geskiet. Hy was daarop gefokus om die situasie te red … hy was ’n koelkop sportman wat enigiets kon hanteer. Dit is vir my ’n vertroosting.”
’n Vriend van Helena, ’n sielkundige by die polisie, het haar vertel aanvallers gebruik dikwels voor ’n aanval dwelms.
“Dit maak sin, want Elsa sê hulle het ’n kil, doodse blik in hul oë gehad. Maar ek wil nie in daardie spasie gaan waar ek die mense se gesigte kan sien nie.”
Sy wil nie wraak sweer nie, maar glo die mans sal gevang word en dat God se geregtigheid sal geskied.
“Hy sien alles. Daar is goedheid én boosheid in die wêreld en ek glo in Suid-Afrika se toekoms! Maar dié soort aanvalle is ’n Suid-Afrikaanse ding. Die Suid-Afrika waarin ek glo, is Madiba se Suid-Afrika. Ek het een keer in Londen probleme met ’n visum gehad en die liedjie ‘Citizen’ op die CD Rooiwynliefde geskryf:
“I am a child of the universe, citizen of mother earth, tear up the paper money, let in the sun.”
Seer laat ’n mens dieper voel, sê sy. Die afgelope paar jaar moes sy ’n paar keer dood en trauma verwerk. Haar kêrel en haar eks-man is albei in motorongelukke oorlede. Toe sy getroud was, het sy ’n baba met ’n ektopiese swangerskap verloor, en ’n dag voor haar pa is haar deeltydse pianis en goeie vriend, liedjieskrywer Eugene Vermaak, oorlede. Verlede jaar is haar geliefde pianis, André Wessels, ook oorlede.
“Op die oomblik is daar ’n gebrek aan vreugde in my … ’n groot leemte. Onlangs was my pa saam met my en Eugene op die verhoog. Nou is albei dood.
“My pa moes nie so gesterf het nie. Nie so wreed nie. Maar hy was die soort wat in ’n oogwink moes gaan en nie stadig moes oud word nie. Hy moes soos ’n verskietende ster gaan, en hy het!”
Sy wil haar pa onthou soos hy was en op sy vol en kampioen-lewe fokus en nie op sy laaste oomblikke nie.
Maar sy gaan die kuiertjies mis.
“Hy het elke Maandag by my kom kuier. Dit is kosbare herinneringe. Ek kon die hek hoor oopgaan. Hy het altyd singend en fluitend met die oprit opgestap. Dan het hy my begin roep asof ek miskien nie daar is nie: ‘Helena! Helena!’ Elke keer om presies halftien. Hy was ’n sportman en altyd stiptelik.
“Die laaste keer toe ek en my verloofde, Thys, by hulle op die plaas was, het ons gelag, wyn gedrink en my pa en Thys het sigare gerook wat hy altyd uit Afrika gebring het. Ons het goeie tye op die plaas gehad. My pa het die plek gekoop toe ek twaalf was.”
Sy vermoed haar pa kon sy dood aanvoel.
“Hy het die Maandag voor sy dood vir ’n vriend gevra of sy testament reg is en gesê hy is nie bang om dood te gaan nie. Dit is vir my ’n groot troos.”
Omdat so baie van haar pa se vriende oorlede is, het sy hom met hul laaste kuier gevra watter soort begrafnis hy sou wou hê. “Dis asof ek dit ook aangevoel het.”
Sy sê Jan Hettema was ’n legende. Hy het nog soveel planne gehad en was nog so doenig. Hy was gesond, fiks en vol energie. Hy was besig met voorbereidings vir ’n Hollandse dag in Julie en sou ook later ’n toespraak by die Pretoriase Buiteklub gegee het.
“Hy was nie blasé oor die lewe nie, hy was opgewonde en vol verwondering daaroor; ’n positiewe en dinamiese man wat die dag aangegryp het.”
Sy en haar pa het ’n liefde vir musiek gedeel en graag saam musiek gemaak. As dogtertjie het sy op sy skoot gesit en “Master Jack” gesing. Hy het ’n paar keer in haar loopbaan saam met haar opgetree en het ’n natuurlike sangtalent gehad.
“Die laaste keer wat hy saam met my opgetree het, wou hy Frank Sinatra se ‘My Way’ sing. Hy het gevoel dit pas by hom, en dit is waar. My pa het dinge op sy manier gedoen. Ek weet nou dit is gepas dat hy juis daardie liedjie met ons laaste optrede saam gesing het.”
Jan Hettema was ’n eerlike, reguit Hollander, lag sy dogter. Dit het nie vir hom saak gemaak of mense van hom hou of nie.
Min mense weet Jan was in sy jong dae ’n talentvolle ontwerp-tekenaar wat hoogs tegniese ontwerpe by die WNNR en die Atoomenergiekorporasie gemaak het vir die gebruik van son- energie en toerusting vir gebruik in breinoperasies. Hy het ook ’n paar renmotors ontwerp en opgebou, onder meer die Duphet saam met sy vriend Doepie du Plessis.
“Hy was ’n perfeksionis en het alles wat hy aangepak het met passie gedoen. Hy was nie net ’n Springboktydrenjaer nie, maar het ook Springbokkleure in fietsry verwerf. Hy het in 1956 aan die Olimpiese Spele in Melbourne deelgeneem en in 1958 aan die Empire Games in Cardiff.”
Haar pa het ook die eer gehad om ’n driekuns as Suid-Afrikaanse tydrenkampioen te verwerf, en is in die jare sestig drie keer agtereenvolgens genooi om saam met prinses Grace in Monaco tee te drink.
’n Paar dae ná haar pa se dood het sy ’n gedig vir hom geskryf en op facebook gepubliseer:
…Ek is jou nagtegaal
En jy vir ewig my lied
In ewigheid, vir ewig
Verwikkel in my hart is jy
En saam dans ek en jy
deur die tydlose sterregang
Want “Unforgettable is what you are”
Sy moes twee dae ná haar pa se dood by ’n intieme restaurant/teater in Pretoria optree. Sy het besluit om nie die vertoning af te stel nie.
“Ek het al my gevoel in my liedjies uitgestort en mense het gesê dit was my beste vertoning tot nog toe. Die mense het naby my gesit en ons het soos ’n familie gevoel. Hulle was nie net ’n gehoor nie en ek kon die liefde aanvoel wat hulle uitstraal. Ek het my vertoning met die lees van die gedig begin.”
Deur die trauma van haar pa se dood was haar verloofde Matthys haar “rots en juweel” en dit is vir haar lekker om te weet haar pa het van hom gehou.
’n Troos ná haar groot verlies, is dat sy aan die hiernamaals, die onsterflikheid van die gees glo.
“Hoewel daar tog tye is wanneer ek donker voel oor my verlies, is ek nie die soort mens wat met bitterheid wil rondstap nie. Ek glo jy moet jou gesig na die son draai anders gaan die donker jou insluk. Geregtigheid is die Skepper se werk. Ek kan nie toelaat dat omstandighede my vergif nie, want dan kan ek nie wees wat ek wil wees nie.
“Ek glo ook aan die liefde en al het party mense die geneigdheid tot boosheid in hulle, het die mens ook goed in hom. Ek het ongelooflik baie liefde van mense ontvang ná my pa se dood. Ek glo aan lig. Liefde is lig en oorwin die dood. Ek glo aan die gees en die gees is onsterflik. My pa se gees sal altyd by my wees.”
Liedjies en drome
Die skryf van liedjies en gedigte is ’n gawe waarvoor sy dankbaar is. Dit is genesend.
“Ek skryf ’n liedjie soos ‘Citizen’ in een sessie klaar as hy vloei. Soms kom die woorde eerste en dan die musiek. Dis ’n magical ding. Daar is nie ’n formule nie. Ek sien ’n beeld soos ’n straatkind met ’n wit gesig wat in die motors se ligte dans en dan skryf ek daaroor. ’n Oomblik … ”
Sy het ’n aanleg en voorliefde vir tale en kan onder meer Frans vlot praat. Sy sing ook in Italiaans, Nederlands en Vlaams.
“Vir my kom musiek en woorde altyd saam en het ’n ritme. Ek moet dit kan voel. Dit is ’n sielsding en nie ’n analitiese ding nie. Die liedjie ‘Divided Heart’ het ek op een slag vanweë inspirerende verlange by Brighton Beach in Engeland geskryf.”
Sy droom om meer op Europese verhoë op te tree sodat sy haar musiek en Suid-Afrika meer bekend kan stel en droom ook dat SA musiek op oorsese radiostasies gehoor sal word.
“Dis vir my hartseer dat so min Suid-Afrikaanse musiek in Europa bekend is, want ons speel so baie van hulle musiek. Ek sal ook graag ’n rol in ’n fliek wil speel, want ek het my loopbaan as aktrise by TRUK begin.”