Dame Helen Mirren het gewoonlik ’n trek om haar mond wanneer jy haar ontmoet, en dit som haar karakter nogal goed op. Sy is van die beste hedendaagse aktrises, en speel veelsydige karakters wat innerlike krag, dissipline en uithouvermoë het.
Sy het ’n subtiele sensualiteit wat soms op die silwerskerm deurskemer, maar wanneer jy haar in lewende lywe ontmoet, is dit meer sigbaar. Jy kry die indruk dat sy nie nonsens vat nie, maar as iemand ’n onsinnige opmerking maak, sal sy eerder ’n humoristiese antwoord gee as om jou skerp tereg te wys.
Wat is jou suksesresep?
Dit was vir my belangrik om nie ’n aktrise in Hollywood te wees nie. Ek is ’n aktrise van die Londense teater. Ek het televisie en verskeie ander goed gedoen, maar dit was nooit my ambisie om ’n Hollywood-ster te wees nie. Dit het heeltemal toevallig gebeur, maar ek is dankbaar vir die werk en die finansiering uit Hollywood. Ek is bly dat ek deel daarin kan hê, maar dis net ’n klein deel van my lewe, en dit het my met my loopbaan gehelp.
Dink jy dit was destyds moeiliker om beroemd te wees as nou?
Dis ’n interessante vraag. Dis nooit maklik om beroemd te wees nie, want daar is hierdie spanning tussen die behoefte om jou werk te bevorder, om die gehoor in die teater te kry, en om jou private lewe eenkant te hou en net mens te wees. Dit sal altyd so wees. In die Hollywood van Hedda se era het die ateljees die beroemdes se privaatheid beskerm maar hul openbare beeld beheer.
Die vermaaklikheidspers was soos die hedendaagse Withuis-joernaliste wat net herhaal wat die Withuis wil hê hulle moet sê. Deesdae het ons ook die Internet. Omtrent tien jaar gelede het ek besef jy kan nêrens heen hardloop of wegkruip nie. Privaatheid bestaan nie meer nie. Dinge het baie verander, maar ek weet nie watter era was moeiliker nie. Ek dink ek verkies die hedendaagse situasie, want niemand kan my beheer en vir my sê hoe my hare moet lyk en wat ek moet sê nie. Ek sou dit nie kon vat nie.
Jy en jou man het onlangs jul droomhuis op ’n plaas in Salento, Italië gebou?
E vero si. (Dis waar).
Hoekom het julle Italië gekies?
My man is lief vir Italië. Toe ek jonger was, was dit my droom om ’n Italiaanse rolprentster te wees, want ek het aktrises soos Anna Magnani, Gina Lollobrigida, Monica Vitti en Sophia Loren bewonder. Hulle was my rolmodelle, meer as enige Amerikaanse aktrise.
Toe ons die plaas vir die eerste keer sien, was ons albei dadelik dolverlief daarop – die landskap, die mense, die kultuur. Ek is op my gelukkigste wanneer ek daar is. Dis ’n belangrike deel van my lewe.
Vertel van jul lewe op die plaas
Ons groentetuin is nog nie klaar nie. Ons sitrusboord is ’n nagmerrie! Jy moet spuit, kunsmis en water gee – maar net genoeg, nie te veel nie. Dis vreeslik ingewikkeld! Uitdagings soos dié maak my heeltemal obsessief. Ons het ook granate wat fantasties groei, hulle kyk na hulself. Hulle kry soms luise, maar dis nie ’n groot probleem nie.
Maar sitrusvrugte is regte divas! Ek is mal daaroor en verpes dit terselfdertyd. Tuinmaak is wonderlik, daar is soveel passie en emosie daarby betrokke maar dis glad nie vir my ’n kalmerende stokperdjie nie. Daar is te veel frustrasie en obsessiewe gedagtes! (lag).
As jy terugkyk op jou lewe, waarop is jy die trotsste?
Ek is eerlikwaar nie trots op enige iets nie. Ek kritiseer myself te veel. Ek het elke jaar dieselfde Nuwejaarsvoorneme en het dit nog nooit deurgevoer nie (lag). Die lewe is eintlik angswekkend. As ek iets moet kies, sal ek die tydperk in my middel tot laat jare twintig kies toe ek ’n jong, suksesvolle teater- aktrise was.
Ek kon Hollywood toe gekom het, maar ek het eksperimentele teater gekies waarmee ons deur Afrika getoer het. Ek het ’n baie laer profiel gehad, maar ek is bly ek het nie die maklike pad na roem gekies nie.
In die TV-reeks Prime Suspect het jy ’n sterk vrouekarakter gespeel, iets wat destyds skaars was.
Ja, nou is daar soveel sterk vrouerolle op televisie, en amper meer rolle vir vroue as vir mans. Dis ongelooflik. Toe ons aan Prime Suspect begin werk het, was mense nie so seker oor die reeks nie. Hulle het getwyfel of ’n reeks met ’n sterk vrou in die hoofrol ’n sukses sou wees.
Het dit jou soos ’n baanbreker laat voel? Wat het intussen verander?
Die wêreld het verander. Flieks weerspieël wat in die wêreld aangaan. Die rolprentbedryf lei nooit die wêreld nie. Daar is baie meer vroue in bestuursposte, soos in die polisie en regering, veral in Amerika. En soos die nag die dag volg, het rolprente die wêreld gevolg. Ek sê altyd moenie bekommerd wees oor rolle vir vroue nie, wees bekommerd oor die rolle wat vroue in die regte wêreld speel. As jy dit kan verander, sal die rolle dieselfde pad volg. Ons moet eers die wêreld om ons verander.
Op watter persoonlikheidseienskap is jy die trotste?
Ek dink nie ek kan daardie vraag beantwoord nie, want jy sien jouself mos nie soos ander mense jou sien nie. Al wat ek kan sien, is waar ek gefaal het. Ek kan nie my eie suksesse raaksien nie.
Van watter soort restaurante hou jy? Moet dit verkieslik ’n driester-Michelin-restaurant wees?
Nee, ek hou nie regtig van Michelin-restaurante nie, omdat alles so perfek is. Die eetgerei is perfek, die glase is perfek, die atmosfeer en die diens is foutloos, maar hierdie restaurante laat my altyd ongemaklik voel. Ek is nooit regtig ontspanne in sulke elegante, grand restaurante nie. Dis goed vir ’n spesiale geleentheid, waarvoor jy mooi aantrek, maar vir ’n gewone aandjie uit verkies ek ’n meer ontspanne atmosfeer.
Maak jy graag kos?
Nie regtig nie. Sop is omtrent die ingewikkeldste ding wat ek kan kook. Ek dink dis in my DNS. Ek het Russiese bloed en hou nogal van Oos-Europese kos – wat nie juis die toppunt van fyn kookkuns is nie. Poolse kos, Russiese kos, Duitse kos – ek hou van enige gereg wat kool in het. Ek is nie met die soort kos grootgemaak nie, maar my ma het wel borscht en piroshki gemaak. My man is eerder die fynproewer.
Wat sal jy voorsit as jy onthaal?
Vingerkos. Ek het al ’n paar aansitetes gehou en self die kos gemaak. Ek gebruik nooit ’n spysenier nie. Daar is niks so lekker soos ’n goeie gebraaide hoender nie. Ek maak glad nie ontbyt nie.
Hoe kry jy dit reg om so positief te wees?
Ek twyfel soms in myself, soos almal maar doen, en soms voel ek hopeloos en dom ook. Dis normaal om so te voel maar dis nie belangrik nie. Wat belangrik is, is om net aan te gaan en nie moed op te gee nie. Ek het geen geheime, wonderlike antwoord nie. Ek is ’n pragmatis. Ek probeer om altyd eerlik te wees oor wie ek is, en soms is ek onsuksesvol, maar ek gee nie op nie. Dis nie ’n bestendige manier om te lewe nie, en ek is seker die volgende probleem lê om die draai, maar dit werk vir my (lag).