Bietjie meer of minder as ’n jaar gelede vra my jongste niggie watter kleure wil ek my kombers hê. Ek verstaan dadelik, en antwoord hoopvol, versigtig om desperaat-opdringerig-uit-my-vel te klink. “Iets wat by ons slaapkamer sal pas. Iets vir ons bed.” Tik ek myself later oor die vingers – die bed is ’n king size, extended. Gemaak vir ’n lang man en ’n groot gesin.
Ek weet wat kom. Niggie se ma is my talentvolle tante, vrou van my stil Oompie met die groot boerehart. Kleintyd op die plaas het sy, ’n dorpsmeisie, ons stom na ons asems laat snak met modieuse skeppings wat skemeraand teen die kas in die huis met die hoë plafonne op die plaas buite Worcester verskyn. “Ek het gou vanoggend begin,” was die antwoord dan. Rokke, rompe, broeke . . . outfits wat jou saam met die plaas en die dorp laat kyk, en kyk.
Toe Niggie as student by ons intrek, moes ek weer na my asem snak. Dié keer was dit die gehekelde blokkieskomberse op die voetenent van haar bed. Haar ma se maaksel. My talentvolle tante s’n. Ek hoor: “My ma is lus vir nog hekel.”
Haar drie dogters en skoondogter het hul kwota komberse gekry. Dis ons beurt – een vir my meisiekind, een vir my. Emma s’n pienk, blou en geel. Sy haal haar bers uit die kas, en trek haar knietjies voor die TV toe. Aand na aand.
Dié week kom die pakkie. Of liewer, die pak. My bers, gemaak vir die king size bed. In dieprooi, duifblou, winterwit en swart. Pragstuk. Pronkstuk. Ek neem ’n foto en sit dit op Facebook. Van Langebaan tot Londen hoor ek: “Weet jy hoe gelukkig is jy en “Waar’s ’n wolwinkel? Ek wil ook een hê!” Daardie middag steel ek ’n halfuur, gaan lê skelm op die bed met my boek, tot by my kuiltjie toe onder die hekelwerk. Liefdeswerk.
“These days, knitting and crocheting clothing, accessories and home décor items is as much a sanity saver or a social outlet as they are a creative effort…”
… draai Kate Walsh se woorde in my kop as ek dié aand met nuwe inspirasie my breisak van die kas haal. My sanity saver, dink ek in dankbaarheid aan my ma wat my iewers onder die ouderdom van tien en met baie geduld daardie eerste steke leer brei het.
Haar sanity saver ook, weet ek en sien hoe my seun vir die soveelste dag uit die kamer kom in sy eksamenklere – ’n sweetpakbroek en Ouma se handgebreide trui wat, as jy ’n potlood vir hul gee, waarskynlik ook Graad 6 met vlieënde vaandels sal slaag.
Liefdeswerk, dink ek weer as Mamma die pakkie vir my gee. ’n Kindertrui uit al die oorskietstukke wol, een wat ek bedel uit Ouma se arsenaal truie wat sy vir Hermanus se Vigs-wesies brei. Dié keer vir ons tuinwerker Jacob se eenjarige seun. As die sanity saver ’n social outlet word, dink ek met die wegstap.
Besluit net dan: dié naweek gaan ek tyd maak en my sewejarige se pleidooi hoor om haar met haar breiwerk te help. Dalk soek iemand vir wie sy lief is eendag ’n kombers, of ’n trui. Liefdeswerk. Of dalk het sy ook iewers ’n sanity saver nodig.
Tot volgende week,
Marí
www.incontext.co.za
Leer meer oor die basiese steke & tegnieke vir hekel hier.
Onthou jy nog die rooi rose-hekelpatrone uit die verlede? Ons het die patrone vir jou saamgestel. Kry dit hier.