Hartbreker en baanbreker: Beryl Markham deur Ilze Salzwedel.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }Almal weet van Isak Dinesen, oftewel Karen Blixen van Out of Africa-faam, en die pioniervlieënier Amelia Earhart, maar al toon Beryl Markham se kleurryke lewe en uitsonderlike prestasies baie ooreenkomste met die van die twee vroue, ken min mense haar naam.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }Sy het in Kenia grootgeword, ’n bestaan gemaak uit die afrig van renperde en haar werk as kommersiële vlieënier, sy het ’n affair gehad met ’n Britse adellike en nes Amelia Earhart óók alleen oor die Atlantiese Oseaan gevlieg – boonop van wes na oos, ’n veel moeiliker en gevaarliker vlug weens die sterk winde van voor wat sy in haar vliegtuigie moes trotseer. Nog ’n interessante feit: Blixen was haar mentor en goeie vriendin, maar net totdat sy ’n affair aangeknoop het met Denys Finch Hatton, Blixen se groot liefde. Dus, in alle opsigte ’n vrou oor wie se lewe daar ook silwerdoektreffers gemaak moes wees. Hoewel daar ’n Amerikaanse TV-minireeks en ’n dokumentêre prent oor haar gemaak is, weet min mense wie Beryl Markham was.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }Gelukkig vir ons is haar interessante maar soms omstrede lewe beskryf in haar memoires West with the Night, wat in 1942 verskyn het en in 1983 as ’t ware herontdek en weer uitgegee is. Maar selfs die boek was nie sonder ’n goeie kwota polemiek nie: Beryl se derde man, Raoul Schumacher, het beweer hy was die eintlike skrywer daarvan.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }
Beryl Clutterbuck is op 26 Oktober 1902 op die dorpie Ashwell in Leicestershire gebore. Sy was die jongste kind van Charles en Clare Clutterbuck. Toe sy vier jaar oud was, het haar pa ’n plaas naby Njoro in Kenia gekoop. Haar ma kon nie aanpas by die lewe in Kenia nie en sy en Beryl se ouer broer, Richard, is terug Engeland toe. Ma en dogter sou mekaar eers weer as volwassenes sien, en die fraai klein meisietjie het haar ma nooit vergewe dat sy haar in Kenia agtergelaat het nie. Maar sy het ’n heldeverering vir haar pa gehad, en elkeen van haar stringe minnaars en drie eggenote in haar latere lewe met hom vergelyk. Toe sy reeds ’n volwasse vrou was, het Beryl se ma – nou getroud met ’n ander man – teruggekeer Kenia toe en naby haar kom woon. Daar word vertel dat Beryl haar twee nuwe halfbroers gegroet het, maar haar ma feitlik geïgnoreer het.
Ironies genoeg sou sy dalk nie so ’n avontuurlustige vrygees gewees het as haar ma gebly het nie. Engelse meisies is destyds baie konserwatief en behoudend grootgemaak. Haar pa het haar toegelaat om te doen wat sy wil, en as kind het sy en die plaaswerkers se kinders hul dae in die bos omgespeel. Sy kon die inheemse taal Swahili beter as Engels praat. By haar maats het sy alles van die natuur geleer, ook om te jag. Later was sy die enigste wit vrou wat ooit die Swahili-mans op hul jagtogte vergesel het, en sy was net so behendig met ’n spies as met ’n geweer. Kenia was ’n ongetemde Afrika-paradys – die bure se troetelleeu het die jong Beryl selfs een keer aangeval.
Haar pa het in ’n stadium ’n goewernante vir sy dogter gehuur, maar Beryl het die vrou verpes en selfs geweier om onder dieselfde dak as sy te woon. Sy het verkies om in haar eie modderhut te woon. Later, toe haar pa en die goewernante ’n verhouding aangeknoop het, het sy in haar eie huis op die plaas gewoon.
Beryl het net meer as twee en ’n half jaar se formele skoolopleiding gehad voordat sy uitgeskop is omdat sy glo ’n slegte invloed op haar maats was, maar sy was haar lewe deur ’n ywerige leser. Al was sy ’n rabbedoe, was sy ook baie vroulik en dol op parfuum en velprodukte. Sy het gereeld gegaan vir ’n manikuur by ’n salon, iets wat destyds nie baie algemeen was nie. Haar klere is spesiaal vir haar gemaak en altyd van ’n onberispelike snit. Sy was veral bekend vir haar pragtige syhemde.
Haar pa het renperde geteel, en Beryl het die eerste gelisensieerde vroulike – en baie suksesvolle – renperdafrigter in Kenia geword. Sy het ook leer vlieg, en onder meer teen vergoeding die vlaktes van Kenia verken om eksklusiewe jagekspedisies te help om die beste grootwild op te spoor. Sy was die eerste vrou in Kenia wat ’n kommersiële vlieglisensie gekry het, en dit sonder moderne toerusting soos spoedmeters en radioverbinding. Sy het duisende ure in die lug deurgebring as onder meer posvlieënier en selfs ’n vlieënier vir ’n lugambulansdiens.
In 1936 het sy die ondenkbare gedoen en die epiese trans-Atlantiese vlug tussen Engeland en Amerika aangepak. Dit was ’n moeiliker vlug as dié van Amelia Earhart wat vier jaar tevore in die teenoorgestelde rigting gevlieg het, en sy moes ’n noodlanding in Nova Scotia, Kanada doen. Tog het dit byna ongesiens in die media verbygegaan.
Markham word beskryf as impulsief, vasberade, non-konformisties en beeldskoon. Ook eiewys en hardkoppig, het ek met die lees van haar verhaal gedink. Sy het gehou van risiko’s en het vertel dit laat haar werklik lewendig voel. Ongelukkig het sy nêrens behoorlik ingepas nie. Daarvoor, skryf een joernalis, was sy te voortvarend, te ambisieus en té onwillig om haar te laat bind deur die beperkings van haar klas of geslag. By tye was sy harteloos en immoreel – sy sou niks daarvan dink om reuse-rekeninge te los vir haar vriende om te betaal nie – maar tog word sy ook beskryf as so sjarmant dat mense haar maklik vergewe het. Na buite het sy selfvertroue uitgestraal, maar vriende het vertel sy was eintlik baie onseker van haarself.
Die bekende Amerikaanse joernalis en skrywer Margaret Mitchell het geskryf: “As jy genoeg moed het, hoef jy nie ’n goeie reputasie te hê nie.” Dit kon netsowel met Beryl Markham in gedagte geskryf gewees het.
Sy is die eerste keer getroud toe sy 16 was, en daar word gegis dat dit ’n saketransaksie tussen Jock Purves en haar pa was om laasgenoemde se groot bedrae skuld af te los. Purves was twee keer so oud soos sy, en Beryl het dit skynbaar verpes om getroud te wees. Sy het ’n hele paar affairs tussendeur haar drie huwelike aangeknoop. Een daarvan was met prins Henry, die hertog van Gloucester en seun van George V. Dit was vir die koninklike familie so ’n groot skande dat hulle £15 000 in ’n trust inbetaal het om haar te onderhou net sodat sy alle bande met hom moes verbreek.
Daar was ook ander affairs met onder meer Tom Campbell Black en later met Hubert Broad. Dis waarskynlik aan Black te danke dat sy leer vlieg het. Broad is as mederespondent gedagvaar in haar egskeiding van Mansfield Markham, haar tweede man, by wie sy ’n seun, Gervase, gehad het. Ná sy geboorte het sy Gervase na sy ouma aan vaderskant in Engeland gestuur om hom groot te maak, en sy het hom selde besoek. Die laaste byna dertig jaar van haar lewe het sy hom nooit gesien nie, en sy het nooit haar kleindogters geken nie.
Antoine de Saint-Exupéry, skrywer van die wêreldberoemde Die Klein Prinsie, was ook een van Beryl se minnaars, en haar biograaf, Mary S. Lovell, skryf Beryl se elegante taalgebruik en skryfstyl toe aan sy invloed. Lovell meen die skinderstorie dat Schumacher West with the Night geskryf het, is net dit: ’n skinderstorie deur ’n verbitterde man. Lovell skryf dat Beryl reeds twee derdes van haar manuskrip aan die uitgewers gelewer het voordat sy en Schumacher mekaar ontmoet het.
Beryl se bekendste affair was dalk dié met Denys Finch Hatton, eens barones Blixen se groot liefde. Hy het haar genooi om saam met hom te vlieg op wat sy laaste vlug sou wees, maar sy het, volgens gerugte, die uitnodiging van die hand gewys omdat Black, toe nog haar vluginstrukteur, ’n slegte voorgevoel oor die vlug gehad het. Sara Wheeler skryf in haar biografie oor Finch Hatton dat Beryl vermoedelik swanger was met sy kind ten tyde van sy noodlottige vliegongeluk.
Beryl was tagtig toe haar memoires heruitgereik is, en ewe skielik weer beroemd. Die joernalis Barry Shlachter het haar in Kenia opgespoor waar sy in groot armoede gewoon het. Sy het steeds renperde afgerig, en het gesukkel om te herstel van ’n ernstige aanranding ná ’n inbraak. Sy het selfs in ’n stadium in Suid-Afrika gewoon en hier perde afgerig. Voor die welkome inkomste waarvoor die heruitreiking van die boek gesorg het, was sy van vriende en weldoeners afhanklik om oorlewing. Sy kon haar laaste dae in betreklike gemak deurbring, en is op 3 Augustus 1986 aan longontsteking dood.
Die Internasionale Astronomievereniging het ’n krater op die planeet Venus na haar vernoem.
Waar pas Ernest Hemingway in haar verhaal in?
Ironies genoeg het die beroemde skrywer waarskynlik gesorg dat die wêreld hoegenaamd weet van Beryl. Hemingway was daarvoor bekend dat hy met min respek vir vroue oor hulle geskryf het, en selde ’n goeie woord oor ander skrywers gehad het. Tog het hy in ’n brief aan sy redakteur, Max Perkins, die volgende oor Beryl geskryf. (Hemingway se oudste seun, Bumby, het hierop afgekom toe hy in 1982 sy pa se versameling briewe gelees het.):
“Het jy Beryl Markham se boek West with the Night gelees? Ek het haar taamlik goed geken in Afrika, en ek sou nooit kon dink dat sy iets anders as ’n inskrywing in haar vliegtuig se logboek sou en kon skryf nie. En tog, sy het so goed geskryf, so uitstekend, dat ek as skrywer skoon skaam was. Ek het gevoel asof ek eintlik net ’n skrynwerker met woorde is, iemand wat net die stukkies optel van wat reeds gemaak is en wat darem soms ’n orraaiterige varkhok daarmee kan bou. Maar hierdie vrou, wat volgens my ’n baie onsmaaklike mens is – jy kan selfs sê sy is ’n eersterangse teef – kan sirkels skryf om almal van ons wat onsself as skrywers beskou.”
Hy brei dan uit oor hoe die dinge waaroor sy skryf die waarheid is (hy het sommige daarvan beleef en ook baie mense geken wat haar goed geken het) en vertel ook dat sy “very fantastic stuff” uitgelaat het wat nie te goed sou wees vir haar beeld as heldin nie. Hy sluit sy brief aan Perkins af met die woorde: “I wish you would get it and read it because it is really a bloody wonderful book.”
Hemingway se lofsang oor Beryl se skryfwerk werp ’n interessante lig op die skinderstorie dat sy nie haar boek geskryf het nie. Een kenner van sy werk reken selfs dat Hemingway dele van sy boek Garden of Eden op Markham se beskrywing van jagekspedisies gegrond het.
Hierdie ontdekking in Hemingway se briewe het daartoe gelei dat ’n Kaliforniese restaurateur, George Gutekunst, ’n Amerikaanse uitgewer kon oorreed om in 1983 Beryl se boek weer uit te gee. Gutekunst het ’n dokumentêr oor haar lewe gemaak wat in 1986 uitgereik is as World without Walls: Beryl Markham’s African Memoir. Haar skielike bekendheid het gelei tot ’n biografie in 1987, Straight on Till Morning, en ’n televisiereeks oor haar lewe in 1988 waarin Stephanie Powers die hoofrol gespeel het. Ná haar dood is ’n versameling van Beryl se kortverhale onder die titel The Splendid Outcast uitgegee.
In Julie 2015 het Paula McLain se nuwe boek gegrond op die kleurryke lewe van Beryl Markham, Circling the Sun, verskyn om te help sorg dat die wêreld dié interessante karakter onthou.
Hierdie artikel het oorspronklik verskyn in die rooi rose Junie 2016 uitgawe.
Bronne: www.scandalouswoman.blogspot.com; www.theguardian.com;www.wikipedia.
org; www.elle.com
Kan my kat of hond ook Alzheimersiekte kry? Dis wat jy moet weet oor "canine…
Sodra jy dink jy het al die voorskrifte onder die knie, hoor jy daar is…
Het jy geweet jou baba of peuter moet letterlik leer om sintuiglike inligting te filtreer…
Genoeg vir 6 Bestanddele 625 ml (2½ k) tee-en-vrugtesap 30 ml (2 e) gelatienpoeier…
Buiten vir sy uitsonderlike talent as musikant en liedjieskrywer, is Len Muller ook bekend as…
Hierdie webwerf gebruik koekies.