Hartaanval: Hoe help jy jou man en sy emosies? deur Mariette Snyman. Hierdie artikel het oorspronklik in die Julie 2017-uitgawe van rooi rose verskyn, en sekere inligting kon al verander het. Hooffoto: iStock/BrianAJackson
“Die emosionele impak van ’n hartaanval moenie onderskat word nie,” sê dr. Jean Vorster, kardioloog. “Dit dwing jou om jou sterflikheid in die oë te kyk: jy besef jy gaan nie vir ewig leef nie. Jou liggaam het jou in die steek gelaat, en jy voel niks gaan ooit weer dieselfde wees nie.”
“Hoewel verskillende mense dit verskillend hanteer, is ’n hartaanval baie keer vir vroue makliker om te verwerk. Hulle is meestal meer in voeling met hul emosies en gaan nie ‘grot toe’ soos wat mans maak wanneer hulle swaarkry nie. Aan die ander kant is vroue se kans om aan ’n hartaanval te sterf wêreldwyd hoër as dié van mans.”
Wanneer iemand ’n hartaanval kry, val die klem eerstens op die fisieke. “Ons tree so vinnig moontlik op om die fisieke skade te beperk, en daarna fokus ons daarop om probleme soos diabetes en cholesterolvlakke onder beheer te kry. Ek is nooit opgelei om met pasiënte se emosies te werk nie, nie eens tydens my kardiologiese subspesialisering nie, maar ek weet ’n pasiënt se emosionele herstel ná ’n hartaanval het ’n bepalende invloed op sy gesondheid en die kans op verdere voorvalle. Kortom: sy kop moet reg wees.”
Lees ook: Help hom herstel na ’n hartaanval – wat verband hou met Hartaanval: Hoe help jy jou man en sy emosies?
“Daarom verwys ek pasiënte na terapeute soos die kliniese sielkundige Marna Labuschagne. Marna help hulle nie net om die psigiese trauma te verwerk nie, maar ook die nodige leefstylveranderinge te maak en ’n positiewe uitkyk aan te kweek.”
“Die meeste van die pasiënte wat my ná ’n hartaanval kom spreek, is mans,” sê Marna, wat ’n private praktyk in Centurion het. “Jy kan ’n hartaanval vergelyk met wat gebeur wanneer jy bestuur en skielik rem trap – alles wat agter in die motor lê, skiet vorentoe. Dis hierdie ‘bagasie’ wat nou op die voorgrond beland het, wat daartoe lei dat die emosionele verwerking van ’n hartaanval verskillende fases het. Aanvanklik werk ons met die rou data van die aanval, maar sommmiges kan ook deur gebeure uit die verlede en ander faktore gekonfronteer en emosioneel uitgedaag word.”
“In my program, Working from the Heart, evalueer ek verskeie faktore saam met die pasiënt. Ons neem onder meer chroniese en akute stresvlakke in ag, soos die pasiënt se vermoë om waarlik te ontspan en te ontlaai, selfsorg, oefening, eetgewoontes, die gebruik van alkohol en tabak, werksomstandighede, praktiese en emosionele steun tuis, en bestaande sielkundige simptome – veral diagnoses soos depressie en angs.”
Lees ook: 10 dinge wat kan help met paniekaanvalle
As jou hart jou tot stilstand bring, is dit tyd om dieper te kyk
“Onafhanklikheid is ’n kernkwessie vir mans wat ’n hartaanval gehad het. Dis vir hulle moeilik om in die hospitaal aan ’n bed gekluister te wees, selfs vir ’n kort rukkie. Hulle is besorg oor hul werk en gesin, en wil opstaan om hul rol te gaan vervul.”
“Hierdie kennismaking met ‘swakheid’ veroorsaak meestal een van twee reaksies. Sommige mans sê: ‘Ek makeer niks nie!’ en gaan voort asof niks gebeur het nie. Hulle leef in ontkenning en integreer nie die gebeure op ’n innerlike vlak nie. Ander se oë skiet weer vol trane wanneer hulle die kans kry om met iemand te praat wat nie familie is en by wie hulle nie ’n front hoef voor te hou of die rol van voorsiener te vervul nie.”
Lees ook: Jy kan jou pyn verwerk
“As die pasiënt instem, reël ons ’n week of twee ná die hartaanval ’n opvolgbesoek om te sien hoe hul belewing van die situasie in daardie stadium lyk. Dikwels kom hulle besig voor, dalk om vir die kinders te wys hulle is oukei. Hulle beplan ’n vakansie, praat oor hul werk, ensovoorts.”
“Baie keer vra hulle: ‘Wat het daardie dag in ongevalle gebeur? Het ek my verbeel dat … ?’ Weer sien ek tipies twee uiteenlopende reaksies. Party mense onthou niks van die tyd in ongevalle nie, terwyl ander heelwat onthou – byvoorbeeld die geskarrel om hul bed, of ’n stem wat sê: ‘Ons verloor hom!’”
“Of hulle dit onthou of uitgeblok het, die ervaring van doodsvrees staan sentraal. Soms het die onbewuste die doodsuggestie so sterk gekry dat die persoon diep binne dink hy het doodgegaan, al lewe hy. Dit kan simptome van depressie tot gevolg hê, soos dat iemand onder meer alle belangstelling verloor in dinge waarvan hy vroeër gehou het en op die bank bly sit, te bang om uit te gaan. In sulke gevalle kan verskeie vorms van terapie doeltreffend gebruik word.”
“Om te praat oor hoe erg dit was ‘toe ek amper dood is,’ is helend, maar in ’n stadium moet hierdie gedagtes verander word sodat die persoon kan besluit om weer te lewe. Ook hier kan terapie help om die onbewuste konflik tussen lewe en dood op te los.”
Lees ook: Hoe om met jou kind oor die dood te praat
“Soms gaan ’n hartaanval met ’n nabydoodervaring gepaard. Mense praat meestal eers weke later hieroor en omdat dit steeds as vreemd beskou word, moet ek eers ’n goeie verhouding met hulle opbou voordat hulle die onderwerp aanraak. Hulle noem baie keer dat ‘die mense sal dink daar is fout met my kop’.”
“Die mate waarin ’n hartaanval in die eerste drie maande sielkundig verwerk word, is van deurslaggewende belang. Dis normaal as ’n akute stresreaksie – angstigheid, irrasionele denke, vrees, hulpeloosheid, magteloosheid, emosionele afstomping en geheueverlies – aanvanklik voorkom maar dit moet binne sowat vier weke verbeter. Indien hierdie simptome of terugflitse, rusteloosheid, swak konsentrasie of slaaploosheid voortduur, is terapie die aangewese stap. Volgens die DSM5, die diagnostiese handleiding wat internasionaal gebruik word, ly iemand wat ná drie maande steeds akute stres ervaar moontlik aan aanpassingsversteuring. Vroeë intervensie voorkom verdere probleme.”
“Wanneer ’n man in enige stadium agterkom hy steek sy ware gevoelens vir sy gesin weg – hul lewe gaan gewoonweg voort, terwyl hy innerlik stoei – het hy hulp nodig. ’n Uitvoerende bestuurder van ’n groot maatskappy het byvoorbeeld vertel hoe hy gereeld sy kantoordeur toegetrek en gaan sit en huil het.”
Lees ook: Mans kry ook depressie
Die grootste vrees
“Die vreesgedagte wat iemand ná ’n hartaanval agtervolg, is daardie ‘wanneer gaan dit weer gebeur?’” sê dr. Vorster. “Jy kan nie met die blote oog sien of alles in orde is nie. Pyn in die bors en ander verwante simptome laat so iemand groot skrik. Dis moeilik om klinies te onderskei of borskaspyn die gevolg van angstigheid is, of dalk spierpyn ná ’n harde sessie in die gim. Dit kan tot herhaalde doktersbesoeke, angiogramme en ander mediese toetse lei. Die simptome van ’n hartaanval oorvleuel grootliks met mantelvliesbreuksimptome, en die toestande kan saam voorkom.”
“Pasiënte kan gewoontes aanleer wat hierdie situasie makliker kan maak,” sê Marna. “Daaglikse ontspanning is baie belangrik. Hiermee praat ek nie van gholf speel of visvang nie – dis rekreasie. Ware ontspanning sluit buikasemhaling, meditasie, visualisering en progressiewe spierontspanningsoefeninge in. Ek leer pasiënte ook om negatiewe gedagtes te eien en reg te stel. Hierdie tegnieke moet ingeoefen word; jy kan tog nie ’n uitdaging soos die Argus aanpak as jy nie deeglik voorberei het nie.”
Lees ook: 6 dinge wat jou help om langer en lekkerder te lewe
“Die simptome wat jy tydens ’n hartaanval ervaar, skep angs: ’n oormaat adrenalien word afgeskei. Die emosie van angs word saam met die ervaring van die hartaanval in jou onbewuste gestoor. Sodra jy angs beleef en dus weer adrenalien afskei, kom die ervaring van die hartaanval onbewustelik by jou op. As jy jou gedagtes in orde kry, kan jy die ekstra adrenalien binne drie minute metaboliseer en so beheer oor die angs kry.”
“Mans wat ’n hartaanval kry, selfs al het hulle gereeld geoefen, reg geëet, nooit gerook nie en so meer, kry baie swaar. Hulle voel dikwels dit maak nie saak wat hulle voortaan doen nie – ‘as dit jou tyd is, is dit jou tyd’.”
Lees ook: Depressie: Die verkeerdste maniere om dit te hanteer
“Dikwels is daar by sulke mans ’n onderliggende faktor, soos familiale cholesterol,” sê dr. Vorster. “Maar genetika en ander ongeïdentifiseerde faktore wat koronêre hartvatsiektes veroorsaak, verklaar minder as 20% van die gevalle. Jy kan 80% van alle hartaanvalle, dus ook tweede hartaanvalle, voorkom deur reg te eet, jou gewig, bloeddruk, suikervlakke en cholesterol te beheer, gereeld te oefen, en veral ’n oog op spanning te hou. En deur twee keer te dink oor die uitgediende frase, cowboys don’t cry!”
Lees ook: 5 maniere om depressie te bekamp
“’n Holistiese kardiologiese rehabilitasieprogram om pasiënte ná ’n hartaanval by te staan, veral in die eerste paar weke, skop einde April by die Netcare Unitas-hospitaal af. Mense kan byvoorbeeld vasstel hoe hulle veilig kan oefen – ja, jy moet oefening kry! ’n Hartaanval is nie ’n doodsvonnis nie. Met die nodige hulp en motivering kan jy na ’n betreklik normale leefwyse terugkeer.”
Lees ook: Is jou ouer depressief?
’n Hartaanval laat jou nie met ’n fisieke wond wat jou en ander daagliks herinner dat jy ’n traumatiese gebeurtenis oorleef het nie. Tog verg dit talle aanpassings, ook op emosionele gebied. “As ’n man sy gevoelens kan normaliseer en ’n voordeliger leefwyse kan vestig, kan hy weer ekwilibrium bereik,” beklemtoon Marna. “Ons almal beleef stres: dis die hantering daarvan wat die verskil maak, veral as veeleisende skedules dieselfde bly. Iemand wat ’n hartaanval te bowe kom, kry ’n tweede kans – die geleentheid om na te dink, vars doelwitte te stel en sy volle potensiaal te bereik.”
Aan eie lyf
“’n Hartprobleem kan jou in jou spore stuit,” sê Jan*, voormalige projekbestuurder wat deesdae by ’n wiskunde- en wetenskap-mentorskapprogram vir studente en leerlinge betrokke is.
“Dis ’n fisieke gebeurtenis, maar dit word ’n oorweldigende nie-fisieke stryd omdat dit jou emosies, verhoudings, eiewaarde en rol as man ingrypend raak. Vir my was dit ’n lang en moeilike reis wat uiteindelik van my ’n ryker mens gemaak het.”
“In Maart 2015 het ek uit my korporatiewe pos bedank juis omdat ek my lewensgehalte wou red. Dit was ’n groot stap. Kort voor my bedanking is Alzheimer se siekte by my ma gediagnoseer. Ek het gestoei met die verlies aan waardigheid en geheue, en toe sy in April oorlede is, was daar my eie én my pa se hartseer om te verwerk. Om alles te kroon het ons kort daarna ’n inbraak beleef.”
“Daardie Junie het ek die klassieke simptome van ’n hartaanval ontwikkel. Ná ’n paar dae in die waakeenheid het ’n angiogram getoon dis nie ’n hartaanval nie. Volgens ’n MRI-skandering het ’n virus wat my ’n ruk vroeër ’n intense diarree-aanval gegee het, my hartspier geteiken. Die dokters het my verseker ek sou oukei wees, maar die angs van die ‘hartaanval’ is saam met my huis toe. Skrikgedagtes oor hoe dit my vrou sou raak indien ek sterf, het my bly teister.”
“Drie maande lank was ek so moeg dat ek gesukkel het om van een vertrek na ’n ander te stap. Elke aand teen middernag het ek wakker geskrik met hartkrampe – of so het ek gedink. Dan het die ‘gaan ek vannag oorleef?’-gedagte my die res van die nag wakker gehou. Meestal het ek net twee tot drie uur lank geslaap.”
“Ek het angsaanvalle gekry, en maklik gehuil. My vrou moes alles in en om die huis saam met haar werklading hanteer.”
“Ek het angsmedikasie en slaappille gekry om my deur die ‘hartkrampe’ te help slaap, maar sodra ek die medikasie probeer verminder het, was die krampe en die angs terug. Die wete dat dit nie ’n volhoubare situasie was nie het my na ’n ander oplossing laat soek.”
“Ná drie maande het ’n iridoloog ’n mantelvliesbreuk by my gediagnoseer Binne dae was ek beter omdat die ‘hartkrampe’ verdwyn het toe ek my eetplan aangepas het. Ek wou die medikasie laat staan, maar onttrekkingsimptome het my gekniehalter.”
“Kort daarna is ons na Europa waar my vrou ’n kursus sou loop. Ons het ver ente gestap, wat goed was vir my kop én hart. Omdat ek uit my roetine was en elke dag fassinerende ervarings beleef het, kon ek my eindelik van die medikasie speen.”
“Ek verstaan nou hoe angs voel, en hoe moeilik dit is om nie die gewone mansdinge te kan doen nie. Ek het meer empatie – ook met kinders met eksamenangs. Die mentorskapprogram gee my ongelooflik baie bevrediging. As jou hart jou tot stilstand bring, is dit tyd om dieper te kyk. Dalk is dit die begin van ’n positiewer pad.”
*skuilnaam