Wat dink jy: lewe ons in ‘n gevaarlike wêreld, of nie?
En as daar iets te vrees is, is dit ménse vir wie ons moet lig loop, of ‘n ander faktor?
Ek kan my verkneukel in die manier waarop kleintjies oopbek lag en alles uitblaker wat by hulle opkom. Die feit dat dié gewoonte net by ‘n klein persentasie volwassenes te sien is, laat my egter wonder hoeveel van ons in ‘n stadium die dubbeldinkding begin doen.
Hoe sensitiewer ons is (of hoe kwaaier ons ouers), hoe gouer plaas ons ‘n wag voor ons mond. Sekere onderwerpe druk sekere knoppies by sekere mense en ander is sommer algeheel taboe. Maar voor ek myself in ‘n depressie inskryf, wil ek liewer uit ‘n ander hoek daarna kyk. Is dit nie lekker dat daar mense is by wie ons maar mag sê wat ons dink nie?
Miskien is hulle yl gesaai, maar hulle is met een woord wonderlik. Hulle is ‘n veilige ruimte waarbinne jy sonder om enigsins iets te sensor jou sê kan sê. En as hulle regtig uitgesorteer is, sommer jou trane ook kan stort of jou vuis kan swaai.
Ek dink ons moet ‘n nuwe snuffelhondbrigade stig. So ‘n hond moet jou kan help om ‘n “veilige” mens uit te ruik. Dan kan jy jou in daardie knus energie gaan opkrul en al jou prate praat, terwyl die hond langs julle lê en met ‘n oop bek lag.